Remgro sê nee vir dié Distell-aandele
Hanlie Stadler Die Kaapse beleggingsbeheerfirmas Remgro en Capevin het toe nié hul koopopsie gebruik om Anheuser-Busch InBev (AB InBev) se belang in Distell aan te skaf nie. Die bierreus het gister op Sens aangekondig dat hy sy volle belang in Distell, wat hy besit sedert hy SABMiller gekoop het, aan die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) verkoop. Die OBK skaf dit namens staatsamptenare se pensioenfonds (GEPF) aan. Die belang van 58 674 000 aandele verteenwoordig nagenoeg 26,4% van Distell se uitgereikte aandele. Die waarde van die transaksie is nie bekend gemaak nie, maar die aandele word op nagenoeg R9 miljard geraam. AB InBev was verplig om die belang binne drie jaar ná die verkryging van SABMiller te verkoop as deel van die voorwaardes wat die Mededingingstribunaal vir dié enorme samesmelting tussen die bierreuse gestel het. SABMiller het op 11 Oktober vanjaar ophou bestaan nadat die verkryging voltrek is. Remgro en Capevin het die eerste reg gehad om die Distell-aandele te koop – 'n transaksie wat hulle bykans 80% beheer oor Distell sou gee. Die twee maatskappye besit reeds 52,9% van Distell deur Remgro-Capevin Investments. Die Distell-aandele is Capevin se enigste bate. Jannie Durand, uitvoerende hoof van Remgro, het reeds destyds gesê hulle gaan die belang slegs koop indien die prys reg is. Hy wou gister niks meer aan Netwerk24 sê as dat die voorwaardes wat AB InBev gestel het, nie vir hulle aanvaarbaar was nie. Die verkryging moet nog deur die Mededingingskommissie goedgekeur word. – Netwerk24
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie