Reën bring verligting vir boere en verbruikers
Die eerste goeie reën van die somer wat oor groot dele van Suid-Afrika se somergraanstreke voorspel word, kan boere en verbruikers laat glimlag.
Die mees onlangse voorspellings toon reënval van tussen 20 mm en 80 mm wat oor die volgende agt dae oor ’n breë strook van Noordwes tot in die Oos-Kaap verwag word.
Dit kan voordelig wees vir somergraan-aanplantings wat na verwagting van middel Oktober begin, sê Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van Agbiz.
Die voorspelling vir die Wes-Kaap is nie so goed nie, met slegs ligte buie van tussen 7 mm en 16 mm – wat nie genoeg sal wees om die grondvog in dié droogtegeteisterde provinsie te verbeter nie.
“Die plantseisoen het reeds in sommige gebiede in die ooste van die land begin, maar boere in die westelike dele sal waarskynlik eers volgende maand in alle erns begin plant, as daar goeie reën val,” sê Sihlobo.
Reën het reeds plek-plek sedert die naweek oor dele van Noordwes en sentrale dele in die rigting van Gauteng voorgekom met die Klerksdorp-distrik wat goeie reën ontvang het, aldus die landboumaatskappy Senwes se markverslag.
Die land se voedselinflasiekoers het reeds vanjaar gedaal danksy die 2016-’17-seisoen se goeie reën. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank voorspel dat voedselprysinflasie vanjaar gemiddeld 7,3% sal wees, teenoor 10,15% in 2016.
Sihlobo sê die komende jaar kan verdere verligting vir geknelde verbruikers bring, met ’n gemiddelde voedselinflasie van 5,2% wat voorspel word.
“Die nuwe seisoen se belofte van goeie reënval vir die land se somergraan-produksiestreke beloof goeie vooruitsigte vir voedselinflasie op lang termyn,” sê Sihlobo.
Hy meen boere kan in die komende seisoen dalk meer oliesade of geelmielies plant omdat die pryse meer mededingend as dié van witmielies is.
“Die prys van witmielies kan nog in die afsienbare toekoms onder druk wees weens hoë oordragvoorraad en swak aanvraag van die lande waarheen ons tradisioneel uitvoer.”
Senwes verwag ook dat die witmielieprys min kans sal kry om te styg.
“Hierdie realiteit van produksievooruitsigte wat gunstig lyk en meer as voldoende oordragvoorraadvlakke, behoort opwaartse potensiaal te beperk.”
Dít is wel goeie nuus vir verbruikers wie se stapelvoedsel mieliepap is en wat die afgelope ruk meer hiervoor moes betaal weens die impak van die droogte en duur invoermielies. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie