Reën: Een se vreugde, ander se nagmerrie
Haweloses en inwoners van sinkhuise in Windhoek word die meeste deur swaar reënbuie en vloeiende riviere die afgelope paar dae in die hoofstad geraak.
Tanja Bause – Sy tuiste is 'n sinkhuis van twee by twee meter.
"Dit is nie ’n huis nie. Dit is ’n ‘gang’ met ’n mat was as vloerbedekking en matras dien en een kombers.” So sê die 38-jarige Ernst, een van Windhoek se vele weerlose inwoners wat uitgelewer is aan die elemente en aan die swaar neerslae wat die afgelope week oor die hoofstad uitgesak het.
Ernst se ‘gang’ is tussen twee sinkhuise op die erf van sy familie gebou. As dak dien die sinkplate van die sinkhuis wat egter te kort is om sy hele gang te bedek. Die gevolg is dat die water van die dak afloop en by hom instroom.
“Water wat stroom oor die erf wat skuins is, stroom ook deur my ‘gang’. Ek bly nat. Dae soos Sondag hang ek my kombers op die grensdraad met die wete dit sal nie droog word nie en ek gaan weer weer nat slaap.”
Anna (38) en Agnes (33) se lot is dieselfde.
“Ek het by my suster gewoon. My broer en sy kinders het ook ingetrek en my suster het my uitgegooi. Ek het ’n kooi in ’n kaia van ’n man gemaak, maar die dak lek en ons bly nat. Aan die een kant is ek baie bly oor die reën, want dit beteken ek kan in emmers en balies water opvang vir my om te gebruik. Ek mag nie die mense se water gebruik nie. Om te bad en klere te was, gebruik ek die reënwater. Die nadeel is om nat te word en nat te bly," sê Anna.
Agnes het langs haar ouma se huis gebly, totdat haar ouma haar weggejaag het. Sy het eers saam met haar kêrel onder ’n boom op sy familie se erf gebly, totdat die reën gekom het.
“Hulle laat nou toe dat ons op die stoep bly, maar die reënwater loop oor die stoep tot in die huis in. Ons goed het ook nat geraak. Ons het Sondag in die sitkamer geslaap en nou is ons en ons goed nie meer nat nie. Natuurlik is ek bly oor die reën, dit is net die nat wat my onderkry,” sê Agnes.
Charles Sawyers, stigter van die Khomasdal Homeless Development Trust, sê dat hy al vanaf 2016 by verskeie ministeries skriftelike versoeke ingedien vir 'n huis om haweloses te vestig. Dit het egter tot op hede op dowe ore geval.
“Ek weet van baie leë huise in Windhoek wat geplunder word. Ek wil hoor of ons nie een van die huise kan kry waar ons aan haweloses veral in die reënseisoen ’n droë herberg kan bied nie. ’n Huis wat ook as ’n rehabilitasiesentrum gebruik kan word,” het hy gesê.
“Die mense kry regtig baie swaar. Die klere, komberse en matras is nat, die hout is nat, so jy bly koud. Jy gaan maar tombohuis of sjebeen toe en drink om warm te word en te kan tiep,” het hy verduidelik.
“Ons moet maar net manne vat wat ’n huis het sodat ons droog en warm kan slaap,” voeg Anna by.
Katutura
Die rivier wat aan die rand van die Havana informele verbyloop wat in 2018 ’n ma en haar twee kinders meegesleur het, het verlede Donderdag weer afgekom.
Hertha Shikale (23) woon op die oewer van dié rivier en dit is die tweede keer dat die water deur haar huis geloop het.
“Dit was egter nie so erg soos drie jaar gelede toe die ma en haar twee kinders verdrink het nie. Haar liggaam is daar onder gekry en die kinders hier anderkant die huis. Toe die water so om 16:00 laasweek weer gekom het, was ek baie bang. Gelukkig was dit nie so erg nie. Ek kan nie my sinkhuis skuif nie, omdat ek nie weet waarheen nie. Ek bly al vier jaar hier saam met my tweeling broer en neef. As die munisipaliteit vir my ’n erf hoër op kan gee, sal ons trek,” het sy gesê.
Ook Willem Paulus, Helena Sebastian en Josefina Nghaamwa het die kitsvloed in 2018 beleef.
“Ek was so bang toe ek die water sien kom, want ek het geweet daar is niks wat ek kan doen nie. Ek is nogtans ook bly oor die reën, want ons het dit en die water nodig,” het Nghaamwa gesê.
“Ek raak nou selfs bang as ek wolke sien opkom, want die laaste keer het die water my huis net-net
gemis. Ons wil nie hier bly nie, maar daar is geen ander plek waar ons ons huis kan op slaan nie,” het Sebastian gesê.
Ottilie Ipinge woon alleen saam met haar eenjarige seun en agtmaande-oue baba in ’n sinkhuis. Hoewel die sinkhuis ver vanaf die rivier gebou is, stroom die water steeds deur dit. Ottilie se huis is gebou naby aan die plek waar die water vanaf die hoofstraat en ’n rivier wat deur die sinkhuise loop, bymekaar kom voordat dit een rivier word wat tussen die huis wegloop.
“Die water van die straat loop deur my huis. Ek het al ’n gat onder die sinkplate gegrou, sodat dit nie opdam nie en eerder afloop. Ek is baie bang as dit reën, want ek kan alleen met twee klein kinders niks doen as daar baie water kom nie. Die water dam voor my huis op en ek kan nie met die kinders daardeur nie. Ek is ook bang vir die elektriese drade wat oopgespoel word en dalk in die water lê.”
Volgens haar het sy al met die komitee verantwoordelik vir haar buurt, gepraat oor die moontlikheid van ’n ander erf.
“Hulle het net die skouer opgetrek en gesê 'ons het nie gesê jy moet jou huis daar bou nie.' Ek benodig net ’n plek wat nie langs ’n rivier is nie, sodat ek nie meer vir die reën hoef bang te wees nie en ek en my kinders veilig kan wees.” - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie