Reu00ebn-reu00ebn die Oujaar uit
Reu00ebn-reu00ebn die Oujaar uit

Reën-reën die Oujaar uit

Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy – Hy was net veronderstel om die reënmeter leeg te maak, maar die karnallie het ander planne met dié hemelse water in die Kalahari gehad.

Só vertel me. Elta de Witt, ma van die 18 maande oue Daniël wie se foto waar hy water uit ‘n reënmeter drink, die naweek soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei het.

Die De Witts boer op die plaas Harrington naby die Nossobrivier in die Aranos-omgewing en van 8 mm tot 36 mm is dié naweek op hul grond gemeet.

Daniël is op een van ‘n vloed reënfoto’s op sosiale media waarin Namibiërs hul sedert Vrydag kan verlustig. Wydverspreide buie het die land gaande gehad.

Die meeste van Windhoek se woonbuurte het Vrydag en Saterdag lafenis ontvang. Sommige buurte, soos Olympia, is met swaar reën en hael gepeper, luidens die Facebook-blad “Reën in Namibia”. Amptelike syfers is nie beskikbaar nie, maar goeie neerslae het onder meer die Klein Windhoekrivier laat loop.

In Pionierspark, waar tussen 35 mm en 45 mm uitgesak het, het weerlig ‘n palmboom by die aftreeoord in Potgieterstraat aan die brand laat slaan.

Om die hoofstad het dit die naweek net so lekker gereën. Berigte is ontvang van buie op Elisenheim, Omeya (28 mm) en Finkenstein.

Op Okahandja is tussen 30 mm en 35 mm gemeet, terwyl Witvlei 40 mm ontvang het. Op Gobabis is tot 13 mm uit reënmeters gegooi. Wes van Leonardville is 22 mm gemeet. Ook op Rehoboth het dit mildelik gereën.

Suide

Op “Reën in Namibia” en “Namibië Boere” het mense van reën op die Remshoogtepas en naby Solitaire vertel en hoe die Tsauchabrivier naby Sesriem loop.

Gibeon het water gekry, terwyl tot 14 mm op Aranos uitgesak het. In die omgewing van Maltahöhe is tot 50 mm gemeet. Tussen Grünau en Karasburg was daar ‘n wolkbreuk. Berigte van reën is ook uit Mariental en Keetmanshoop ontvang.

Noorde

Op Facebook is gesê dit “sous” op Divundu en Bagani. Rundu het buie ontvang en so ook Katima Mulilo en Ondangwa. In die Osire-omgewing het dit 30 mm gereën.

In die Tsumkwe-omgewing naby Kanovlei is 39 mm gemeet. Naby Otavi het 30 mm uitgesak. Tsumeb en Otjiwarongo was ook nat en op Waterberg het 42 mm geval.

Vir vandag word geïsoleerde tot verspreide donderbuie in die Noorde voorspel, asook in die sentrale hooglande en die noordoostelike gedeeltes. Oor die res van die land sal dit bewolk en winderig wees.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!