Reën val in drooggeteisterde gebiede

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Met swaar reënbuie en kitsvloede wat vandag vir die binneland buiten die ||Kharasstreek voorspel word, het riviere die week ook in die droogtegeteisterde Kunenestreek gevloei.

By Palmwag in die noordweste van Damaraland het swaar buie gesorg dat die Uniabrivier vloei. Volgens plaaslike inwoners is dit die eerste keer in jare dat dié rivier in vloed afgekom het.

Volgens ’n plasing op die Facebook-blad Reën in Namibia was die Huabrivier op die C39-roete vanaf Bergsig ooswaarts in die rigting van Khorixas en Twyfelfontein ook in vloed.

Volgens die Namibiese weerkantoor sal wydverspreide donderbuie die naweek beperk wees tot die westelike helfte van die binneland.

Reën- en donderbuie word ook vandag en die naweek oor die kusgebiede verwag, met die weerkantoor wat waarsku teen vloede.

Inwoners en besoekers aan die kus kan hulle maar gereed maak vir gedeeltelik bewolkte en warm tot baie warm weer met buie en donderbuie.

In die Suide het die swaar reën vir van ’n waterval in die Naukluft-berge tot vloeiende riviere gesorg.

Die Dieprivier wat in vloed was, het vir skade op die C19 tussen Agama Lodge en Solitaire gesorg, maar padskrapers was gister reeds besig om die pad te herstel. Die Dieprivier vloei in die Tsondabrivier wat op sy beurt in die Tsondabvlei loop.

’n Video wat op Reën in Namibië gedeel is, wys hoe die Voigtsgrund-dam tussen Mariental en Maltahöhe vir die eerste keer in ses jaar oorloop.

Die Hardapdam se sluise is gister weer oopgetrek weens nuwe vloede wat die dam vanuit die opvangsgebied bereik. Water is uitgelaat om die dam weer op 70% van sy kapasiteit te kry.

Van die wilde perde van Garub, wes van Aus, tot op ’n plaas suid van Aroab, het welkome reën gemeet, met laasgenoemde wat 50 mm uit die reënmeter gegooi het. Windhoek en sy omliggende gebiede het gisteroggend met ’n toegetrekte wolkkombers wakker geword, met tot 105 mm wat op Kapps Farm gemeet is. Elisenheim het 33 mm uit die meter gegooi, terwyl op Herboth’s Blick 91 mm aangeteken is.

In die hoofstad self is van 20 mm in Academia, 16 mm in Klein Windhoek, 15 mm in Eros, 20 mm in Ludwigsdorf tot 15 mm in Pionierspark en 11 mm in Khomasdal gemeet.

Farm Karibib, 2 km voor die dorp, het 23 mm binne ’n halfuur gehad, terwyl Villa Rosa, 50 km suidwes van Usakos tot dusver meer as ’n 100 mm die afgelope drie weke ontvang het.

In die Erongoberge sowat 25 km buite Usakos, is 60 mm gemeet. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!