Reën val wyd oor Paasnaweek

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer en Des Erasmus



Namibiërs kon die naweek weglê aan 'n feesmaal van reënfoto's en -berigte op sosiale media nadat 'n landsreën van die Noorde tot die Suide en van die Weste tot die Ooste vir goeie neerslae gesorg het.

Selfs oor van die dorsste dele soos die gebied tussen Karasburg en Warmbad, waar die droogte boere reeds vir sewe jaar verniel, het buie van 50 mm en meer uitgesak.

Van die eerste goeie neerslae het ook oor die sentrale Namib voorgekom en paaie in die omgewing van Solitaire was gister sommer goed nat.

'n Leser wat gisteroggend van die Kaap af Windhoek toe gery het, vertel baie van die riviere in die Suide loop.

Op die plaas Hillendale, suidoos van Mariental, het dit van baie vroeg gisteroggend af gereën en teen gistermiddag was daar 60 mm in die meter, het Hannes Jacobs op die Facebook-blad “Reën in Namibia” berig.

In die omgewings van Kamanjab, Palmwag en Fransfontein reën dit ook sedert verlede week goed.

Daar is egter naby die Botswana-grens in die Kalahari steeds plase waar die boere min tot feitlik geen reën gehad het nie.

Intussen beweeg vogtige tropiese lug steeds vanuit die Noorde oor Namibië in. Volgens die weervoorspelling op eNCA.com kan die goeie reëntoestande in die komende dae selfs verbeter.

Die metereologiese diens van Namibië waarsku swaar reën kan vandag en môre in die Noordweste voorkom.

Inwoners in die streke Kunene, Erongo, Omusati en Oshana word daarop gewys dat kitsvloede kan voorkom waarop hulle bedag moet wees.



ERONGO

Sondagoggend op Omaruru was 'n blye gesig die dorp se groot rivier wat in vloed afgekom het. Dit was van korte duur met die water wat gou afgeloop het ná goeie reën in die opvanggebied.

Wes van die dorp was daar Vrydag al strome in die Omaruru danksy stormwater uit die Papegaairivier ná swaar reën in die rigting van die Erongoberge.

Op Omaruru self is Vrydag 14 mm gemeet en Saterdag nog 8 mm. Gisteroggend het swaar reënwolke weer oor die gebied begin saampak. Ook op Karibib was die weer gisteroggend belowend vir reën nadat 14 mm aan die begin van die Paasnaweek daar gemeet is.

Op Uis bly die oë ook op die wolke gerig nadat op twee agtereenvolgende dae eers 6 mm en toe 10 mm gemeet is. Die reënvlae het ook in die rigting van Brandberg uitgekring. Op Usakos het ligte reën ook die naweek uitgesak en by Spitzkoppe was daar ligte reënvlae, maar nie vloedwater nie.

Op die kusdorpe Hentiesbaai, Swakopmund en Walvisbaai was daar ook Vrydag en gisteroggend weer ligte reën.

Swakopmunders het gisteroggend plek-plek deur plasse water op die roetes na die middedorp gery. 'n Berig van swaarder reën is ook van Wlotzkasbaken ontvang.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!