Reu00ebnboogvlag wapper halfstok oor Afrika
Reu00ebnboogvlag wapper halfstok oor Afrika

Reënboogvlag wapper halfstok oor Afrika

Pogings om MIV/vigs en sy ellende in die bek te ruk, sal net slaag as ons buite al wat 'n boks is begin dink.
Denver Kisting
Ek wonder hoeveel hulde is gister aan transvroue gebring toe die wêreld Wêreldvrouedag herdenk het.

Sowat tien jaar gelede bevind me. Delene van Dyk haar midde-in 'n uitdaging – 'n destydse (vroulike) kollega het uitgevind haar man had 'n selfdegeslag seksuele ervaring. Sy wou by Van Dyk weet wat hierdie voorval impliseer. Is hy gay? Is hy biseksueel? Wat nou?

Wat uit die staanspoor op rekord gestel moet word, is dat Van Dyk 'n ystervrou is wat met deernis én vernuf haar man staan. Toenemend deesdae selfs op ­internasionale verhoë. Sy het ondanks die krisis van haar kollega koeler as kalm gebly, die kelner by die koffiewinkel waar hulle was, nader gewink en gevra om 'n servet te bring in die afwesigheid van 'n stuk papier.

Van Dyk, wat met haar tong kniediep in haar kies na haarself as Delene van Dyke – 'n professionele dyke*- verwys, het die servet in kwarte gedeel - (1) geslag, (2) geslagsidentiteit, (3) seksuele oriëntasie en (4) seksuele gedrag of spel. Dié model noem sy Binaries and Boxes (Or not!).

Ons lewe in 'n wêreld waarin ons álles in 'n doos – oftewel boks – wil druk. Byvoorbeeld, iemand is óf man óf vrou; óf heteroseksueel (straight) óf homoseksueel/gay; óf dit óf dat. Dit het ongelukkig tot gevolg dat ons vergeet daar is verskeie skakerings van grys tussen dit wat ons as swart en wit beskou. En dit is daardie grys areas wat Van Dyk se model spitsvondig en helder toelig.



Geslag

Kom ons begin by die servet se eerste kwart: Geslag. Wat is die heel eerste vraag wat opduik wanneer ons hoor iemand verwag 'n baba: Is dit 'n seuntjie of 'n dogtertjie?

Hoewel die begrip van biologiese geslag sowat vier aspekte het, word net een enkele maatstaf gebruik om te besluit of 'n baba 'n seuntjie of 'n dogtertjie is. 'n Dokter, op die platteland soms net 'n verpleegster of 'n vroedvrou, kyk tussen die skreeuende baba se bene om te weet of koningsblou of salmpienk dié bloedjie se lewe gaan regeer.

Naas uitwendige geslagsorgane bult inwendige geslagsorgane, soos 'n baarmoeder, eierstokke en testes, chromosome (XX of XY) en geslagshormone almal hul spiere om geslag te bepaal. Hierdie laaste drie faktore word egter eenvoudig buite rekening gelaat wanneer 'n baba se geslag toegeken word.

Die geslagspole van seuntjie of meisietjie word natuurlik deur interseks uitgedaag. Wanneer ons die term interseks hoor, dink ons aan iemand wat met sowel 'n penis asook 'n vagina gebore word terwyl daar minder as tien sulke gevalle ter wêreld geboekstaaf is.

Die interseks-kategorie is selfs wyer as die ongenade van stereotipering. Dit kan enigiets insluit – van 'n dogtertjie wat met 'n enkele eierstok gebore word en 'n seun wat slegs een testikel het, tot daardie man met die mooi, skoon bene wat lyk asof hy hulle daagliks skeer, maar wat hom nog nooit tot 'n skeermes of snoeiskêr gewend het nie.

Interseks, verduidelik Van Dyk, verwys na kenmerke wat soms eers tydens puberteit aan die lig kom, wat nie tipies seun of meisie is nie. Wanneer ons weer hoor die ooievaar kom besoek aflê, kom ons vra eerder of die ma en (­ongebore) baba gesond is. Die baba se geslag behoort eintlik irrelevant te wees. Of hoe?



Geslagsidentiteit of gender

Kom ons praat oor die tweede kwart van die servet: Geslagsidentiteit oftewel gender.

Heilige koeie geniet nie baie voorkeur in Van Dyk se wêreld nie. So, wanneer dié blokkie se oomblik aanbreek, vra sy vir die meer as 20 000 mense wat sy al opgelei het, wie van hulle het 'n pragtige penis of 'n pragtige vulva tussen hul bene.

Aanvanklik trek 'n doodse, uiters ongemaklike stilte somber slierte oor die vertrek. Mense skuifel skaars merkbaar rond. Totdat hande skamerig begin opskiet.

Goed, vra sy, gestel jy word môreoggend wakker en tref die teenoorgestelde aan van wat tans in jou onderklere is . . . Is jy dan stééds 'n man of 'n vrou?

Daar word opnuut kop gekrap totdat die oorweldigende meerderheid volhou daardie vreesaanjaende toedrag van sake verander nie hul geslagsidentiteit nie. Die konsensus is dus: 'n Penis maak nie van jou 'n man nie en skaamlippe bepaal ook nie vrouwees nie.

Baie van ons is gelukkig en ons besef dit nie eens nie – wie die geboortebeampte besluit het ons is, strook met ons geslagsidentiteit. Dit maak ons cis-gender – die Latynse voorsetsel cis- beteken “aan dieselfde kant”. Met ander woorde, en byvoorbeeld, die geslag wat by geboorte aan iemand toegeken is, is manlik en hy identifiseer ook as 'n man.

Die transvroue, van wie vroeër melding gemaak is, is verkeerdelik by geboorte as seuntjies geëtiketteer, maar in hul harte en diepste wesens is en identifiseer hulle as vroue, en iemand se genderidentiteit moet eerbiedig word.

'n Ander ewe steurende obsessie is of transmense geslagsbevestigende operasies ondergaan het. Ons weet mos nou al, danksy die eerste kwart, dat ­uitwendige organe nie die deurslag gee nie. Baie mense kan nie chirurgie bekostig nie of dit is nie in daardie stadium 'n ­prioriteit nie. Iemand se geslagsorgane en hoe hulle daaroor voel , het níks met enigiemand te doen nie. Daarnaas is die waglys vir 'n operasie in Suid-Afrika 25 jaar lank. Van Dyk raai altyd ouers aan om sommer wanneer hul baba gebore word 'n afspraak vir die operasie te maak. “Jy kan dit mos altyd later kanselleer.”

Hierdie kategorieë word op hul kop gekeer deur mense wat hulle geslagsidentiteit as nie-binêr of gender-non-­conforming aandui – dus nóg man nóg vrou. En, bitter interessant, die voornaamwoord wat so 'n mens gebruik, is 'hulle'. Ja, hulle. Só sien dit daar uit: My nie-binêre kind, Jay, is siek en ek moet vir hulle medisyne kry. Die bekende Suid-Afrikaanse komediant Soli Philander het verlede jaar onthul hulle is nie-binêr. Lekker op die méns af!



Seksuele oriëntasie

Die tyd stap aan en die derde kwart is aan die beurt: Seksuele oriëntasie.

As psigo-seksuele opvoeder formuleer Van Dyk vrae wat die kern en die hart van 'n saak aanroer. Om vas te stel wat 'n mens se seksuele oriëntasie is, is die volgende nodig: Tot wie is jy aangetrokke op 'n fisieke, emosionele, geestelike, seksuele en intellektuele vlak binne die konteks van romanse, en met wie sal jy 'n lewe bou, mits jy toegelaat word om dit te doen? En daardie toelaat sluit natuurlik die verlof van die self in. So, die vraag is nie met wie wil jy seks hê nie. Die vraag is met wie wil jy huis opsit en 'n intieme vertrouenspad stap. Daardie pad is uiteraard soms net 'n nag lank, maar dít daar gelaat.

Dié uiterstes van gay of straight word deur biseksueel in die stof laat byt. Omdat aangetrokkenheid dikwels op 'n glyskaal is, beteken dit biseksuele mense is nie noodwendig ewe intens tot mans én vroue aangetrokke nie en hoef allermins terselfdertyd 'n verhouding met 'n man en 'n vrou aan te knoop nie. Van Dyk maan dat biseksuele individue deurgaans deurloop onder bifobie uit hetero­seksuele én gay geledere.



Seksuele spel

Dit bring ons by die laaste kwart van die servet: Seksuele gedrag/spel.

Dié komponent sluit begeerte, fantasieë en lyflike interaksie in. Dit verg geen PhD in molekulêre biologie nie om uit te pluis dat enige mens énigiets met enig­iemand fisiek kan doen, ongeag hoe die samelewing hul neuse daaroor optrek. Watter liggaamsdele volwassenes, met toestemming natuurlik, inspan om wat hulle harte en lywe begeer met mekaar te doen, hetsy in 'n slaapkamer of elders, is tog net húlle besigheid. Beslis nie ons s'n nie. Hier is egter 'n lagie kompleksiteit om aan te kou en later te herkou: 'n Man wat seks het met 'n man (MSM), maar as straight identifiseer, ís straight! Net omdat hy fisiek intiem verkeer met 'n ander man beteken nie dat hy 'n lewe met 'n man wil deel nie. “Onthou mense het om verskillende redes seks – nie net om voort te plant nie.”

Die Global Fund, 'n instelling met 'n baie groot beursie en wat graag in Afrika, selfs in Namibië, baie hulp verleen, het besef die ABC-strategie om die MIV-pandemie veral in Suider-Afrika hok te slaan, werp nie genoeg vrugte af nie. Mense abstain (A) nie, hulle be (B) selfs minder getrou, en condomise (C) is selde of nooit op die kaarte.

'n Nuwe plan moes bedink word om die kompleksiteit van vloeibare ­seksuele gedrag beter te verstaan. Onder meer Plan D (Delene), om te help om stigma en diskriminasie wortel en tak uit te roei en dít is waar hulle glo die geheim lê om teen 2030 'n vigsvrye wêreld teweeg te bring.

Verskillende rolspelers soos Van Dyk se 2ndSight Consultants en SAfAIDS, 'n nieregeringsliggaam wie se hoofkantoor in die Zimbabwiese hoofstad Harare is, snoer kragte saam om met die hulp van die Global Fund mense in te lig en op te voed.

Adolf Mavheneke van SAfAIDS het tydens 'n onlangse konferensie oor stigma, diskriminasie en MIV in Johannesburg, Suid-Afrika, benadruk dat dit uiteindelik oor respek vir menseregte gaan.

As die regte van álle mense nie beskerm word nie, sal ons nooit die stryd teen MIV wen nie, meen hy.

*'n Dyke is 'n skelwoord vir 'n vrou wat as lesbies identifiseer. Moet dit dus nie sonder die toestemming van die individu gebruik nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!