u2018Reu00ebngolwe winku2019
u2018Reu00ebngolwe winku2019

‘Reëngolwe wink’

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Baie swaar reën, met etlike reëngolwe wat in die tweede helfte van vandeesweek en tot volgende week uitgebreid na Namibië op pad is. Dis die boodskap van hoop op die ingeligte en gerespekteerde LandWater-blad op Facebook wat vele Namibiërs gereeld besoek vir omvattende en nagevorste inligting oor die jongste weersake.

Volgens die blad wink daar vir die land wat asem ophou vir sy reënseisoen om met mening af te skop, “minstens twee” reëngolwe en selfs ’n derde een, “en dan is daar eers ‘sports’!”

Volgens LandWater bly die vooruitsigte vir die noordweste van die land vir eers meer uitdagend, maar sal die reëngolwe weldra voelers daarheen ook uitsteek.

“Dis net nog ’n meer onsekere omgewing . Natuurlik moet die kern van Namibië ook net eers ordentlik oopmaak,” lui die plasing. Dit verwys na die tropiese gematigde trog, ’n sterk diagnonale reënkanaal tussen Namibië en buurland Suid-Afrika en ’n “meer klassieke roete waarlangs tropiese vog sal vloei” om die kanaal oop te maak. Dit lewer normaalweg wydverspreide swaar reën.

“Ons is duidelik in ’n seisoen wat potensiaal inhou om historiese grense te verskuif en/of uit te daag, met breë en algemene reëngunstigheid wat ook na Namibië gaan verplaas. Dit sal die groter Suider-Afrika gunstig ondersteun.”

Die weervoospellers beklemtoon die roete wat gevolg word, maak saak.

“Oorkoepelend is Namibië (en Suid-Afrika) in ’n fokustyd binne die reënseisoen, waar ingeligtheid en paraatheid ontsettend belangrik is.

“Intussen is dit belangrik dat hierdie seisoen nou mooi in Namibië oopmaak – want dit kan – en dat notas gemaak word hoe seisoene verander, want die sonseisoen en reënseisoen (plantseisoen) sal met tye in die toekoms erg(er) ontkoppel.”

Volgens LandWater bevorder La Niña normaalweg ’n gunstiger reënseisoen, maar is dié “gunstigheid” steeds onderworpe aan ander klimaatsfaktore wat dit inperk of verbreed en waarborg dit ook nie orals goeie reëndekking nie.

“Dis een of ander wangeloof wat steeds floreer, dat La Niña orals goeie reën verseker, selfs binne ’n groter omgewing van reëngunstigheid.”

Die “kern van Namibië se reëntraagheid vanjaar” lê waarskynlik opgesluit in die bolug, sê LandWater.

“Wanneer die bolug se reënenergie sterker na Suid-Afrika verplaas, skep dit oor Namibië ’n aansienlik meer uitdagende reënomgewing, met die ‘bankrot’-westewind wat meermale kragtig oorheers. Dit gebeur alles binne goeie sin en rede weens die plasing van die oppervlaklugdrukstelsels.”

Volgens die blad is dié oorheersing egter besig om tans te kwyn.

“Dis daarom nie toevallig dat Suider-Afrika nou so ‘erg’ besig is om oop te maak tydens die opvolg matig-tot-sterker La Niña nie. Die bolug bied nou ‘meer ruimte’, terwyl grondvlak sterker ’terugstoot’.”

Hulle verwys ook na seetemperature langs Namibië wat vir ’n geruime tyd kouer as gemiddeld was.

“Wanneer die water (in die Atlantiese Oseaan) te koud (of warm) is, ondermyn (of bevorder) dit reën. Hierdie prentjie het die afgelope drie weke verander en dis tans warmer as gemiddeld.”

Intussen voorspel die Namibiese weerkantoor net verspreide donderbuie in die verre noordooste van die land, terwyl ’n paar geïsoleerde buie buiten vir die westelike helfte in die res van die land kan voorkom. Ligte motreën kan oor die sentrale en suidelike kusgebiede uitsak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!