Renoster onthoring toe stropers toeslaan

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Die totale renosterbevolking van 'n wildplaas in die Waterberg-omgewing is verlede week as 'n noodmaatreël onthoring nadat stropers by verskeie geleenthede in Julie toegeslaan het.

'n Renosterkoei met 'n vier maande oue kalf is tydens een van dié besoeke deur die vermeende stropers met 'n .303-geweer gewond. Sy het oorleef, maar die staalpunt van die patroon sit nog tussen haar ribbes vas, het me. Sylvia Jansen van Rensburg van ­Osonjiva Hunting Safaris gister vertel.

Jansen van Rensburg dring daarop aan dat die naam van die plaas genoem word, “sodat voornemende stropers weet die renosters ís onthoring en hulle moet nie eers daarin dink om toe te slaan nie”.

Sy sê sy is dankbaar vir die ministerie van die omgewing en toerisme se hulp met die vinnige uitreiking van die nodige permitte om die renosters deur die bekende wildveearts van Wildlife Vets Investigated, dr. Ulf Tubesing, te laat onthoring.

“(Mee.) Chantel Louw en Elly Hamunyela van die ministerie het uit hul pad gegaan om ons te help.”

Jansen van Rensburg is ook vol lof vir die hulp wat deur mnr. Tinus Hansen van Intelligence Support Against Poaching (Isap) verleen is.

Sy sê die ondersoek dui daarop dat twee mans die plaas by ­verskillende geleenthede in Julie besoek het. Hulle is in 'n sedanvoertuig uit Okakarara daarheen geneem deur twee mans wat hulle ­afgelaai het, maar nie saam die veld in is nie.

Sy sê die twee ­vermeende stropers het oor die hele plaas beweeg.

“Hulle het die renosters gevolg soos wat hulle oor die plaas gehardloop het. Ons het ook die plek gevind waar die mans in die veld oornag het. Hulle het 'n vlakvark dood­gemaak en dit in 'n gat gaargemaak.”

Jansen van Rensburg sê die spore wat gevind is, dui daarop hulle was op 12 en 13 Julie op die plaas en toe weer op 15 of 16 Julie.

Hansen en die polisie se hulp is dadelik ingeroep toe die spore die eerste keer gewaar is. Tubesing en mnr. Jannie du Preez van Du Preez Wild by Otjiwarongo het ook met 'n lugsoektog per helikopter gehelp.

“Op 25 Julie het ons vars bloed op een van die koeie opgemerk, maar kon nie vars voetspore in die veld vind nie. Ons vermoed hulle (die vermeende stropers) het haar die vorige week al gekwes, maar dat sy kort voordat ons haar gewaar het, in die modder gerol het waarna die wond oopgegaan en erg begin bloei het.

“Op 26 Julie was die permitte gereed en kon ons al die renosters as voorsorgmaatreël laat onthoring. Die horings is weggeneem en word elders in veilige bewaring gehou,” het Jansen van Rensburg gesê.

Sy het 'n beroep op ander wildplaas- en lodge-­eienaars gedoen om ook hulle renosters te laat onthoring om ­sodoende te verhoed dat hulle ­gestroop word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!