Renoster op sy voete
Renoster op sy voete

Renoster op sy voete

Die Franse beeldhouer Gé Pellini is tans besig om 'n renoster uit marmer te kerf.
Tanja Bause
Tanja Bause - 'n Reusehyskraan is gister by die Franko-Namibiese Kultuur­sentrum (FNCC) in Windhoek gebruik om 'n marmerblok van agt ton op te lig en om te draai.

Die beeldhouwerk van 'n renoster wat tans deur die Franse beeldhoukunstenaar Gé Pellini geskep word, is op sy voete gedraai.

Pellini het eers die voete gekerf omdat die rug te rond en onstabiel sal wees vir hom om verder daaraan te werk.

Die renoster is nou omgedraai en staan op sy voete.

Pellini en mnr. Ngavee Kambezunba, 'n beeldhoustudent van die Kollege vir die Kunste (Cota) wat Pellini bystaan, gaan nou in die komende weke die beeldhouwerk voltooi.

Wêreldwyd word 25 van Pellini se beelde uitgestal.

Die grootste en swaarste is die French Kiss wat uit 'n blok van 50 ton gekerf is en in China se grootste beeldhoupark staan.

Sy Namibiese werk gaan op 31 Augustus tydens 'n galadinee, aangebied deur die Namibiese Professionele Jag­tersvereniging (Napha), opgeveil word. Die geld wat ingesamel word, sal gebruik word om die bedreigde ­renoster te beskerm.

Veilingkenners uit Nederland het die skep van 'n aanlyn veilingsplatform geborg.

Die aanlyn veilingsplatform sal saam met 'n regstreekse veiling plaasvind.

“Ons moedig almal aan om aanlyn te registreer en plaaslike sowel as internasionale aanbiedinge op die renoster sal in ag geneem word,” sê Napha.

Mense kan by http://auction.huaptrust.com registreer. Die aanlyn katalogus is by https://www.yumpu.com/document/view/59238372/huap-2017-catalogue beskikbaar.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer