Renosterbewaarders beloon vir goeie werk
Renosterbewaarders beloon vir goeie werk

Renosterbewaarders beloon vir goeie werk

Een man het verder as die afstand tussen Swakopmund en Kaapstad agter renosters aangeloop om hulle te beskerm.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



'n Renosterbewaarder van Save the Rhino Trust (SRT) Namibia, mnr. Simon Kangombe, het in 2019 altesaam 2 439 km agter renosters aangeloop om hulle te monitor.

Hy is een van die renosterbewaarders wat in Maart tydens die eerste Kunene Renoster-toekenningseremonie met 'n toekenning beloon is.

Die afstand wat Kangombe agter renosters aangeloop het, is verder as die afstand tussen Swakopmund en Kaapstad.

Die seremonie is ter ere van bewaarders wat hul tyd en energie opoffer om die wêreld se laaste vrylopende swartrenosterbevolkings te beskerm.

Alhoewel die koers van stropery vir olifante en renosters die afgelope paar jare afgeneem het, het die stroperykrisis wat in 2012 begin het in ander dele van Namibië voortgeduur.

Die afname is deels weens die ­wildmisdaadvoorkomingsprogram wat in 2016 afgeskop het om hulpbronne te versterk en plaaslike eie­naarskap van renosterbewaring geneem het.

Die afgelope twee en 'n half jaar is in die 25 000 vierkante ­kilometer kommunale bewaringsgebied in die Noordweste nie een renoster se lewe aan die hand van 'n stroper geneem nie.

“Hierdie sukses is internasionaal waargeneem. Baie het gewonder hoe 'n weerlose bevolking buite 'n amp­te­like beskermde gebied vir so 'n lang tyd kon oorleef,” lui 'n verklaring van SRT.

“Daar is min twyfel die toename van patrollies was die sleutel tot sukses, asook die samewerking en unieke vennootskappe tussen die regering, polisie, tradisionele owerhede, nieregeringsorganisasies, private sektor en kommunale bewaringsgebiede.”

Om hierdie suksesse te vereer, het meer as 60 bewaarders van die SRT, Integrated Rural ­Development (IRDNC), natuurbewaring en ­verskeie bewaringsgebiede meer as 200 pryse, soos medaljes, toerusting en Rhino Hero-baadjies ontvang.

Toekennings is vir die beste patrollies, beste foto's tydens patrollies, beste renosteropspoorder, die beste voertuigbestuurder en beste bewaarder ontvang.

Die bewaarder wat die meeste ­renosters - altesaam 275 - in 2019 opgespoor het, het ook 'n prys ontvang.

'n Spesiale toekenning vir dapperheid is aan twee vroulike bewaarders, mee. Fiona Goses en Jessica Kharuxas, gegee.

“By SRT verstaan ons baie kan bereik word as gemeenskappe eienaarskap van hul omgewing neem. Die sukses van die renoster in die Noordweste is 'n bewys hiervan. Baie dankie aan al die renoster­bewaarders,” sê SRT.

Die SRT se benadering sedert hul ontstaan in 1982, is om die plaaslike gemeenskap op te lei om te help om renosters te monitor.

Die toekenningsgeleenthed is deur die World Wildlife Fund (WWF) in Namibië deur USAID ­Combat­ing Wildlife Crime Project en die ­Minnesota-dieretuin geborg.

 - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer