Renosterbewaring nie vir sissies nie
Tanja Bause – Ek het die naweek die voorreg gehad om ’n spesiale plek in die land te besoek waar ontsagwekkende passievolle mense renosters oppas, bewaar en versorg.
Ek het lanklaas met iemand gepraat en gesien werk wat so passievol oor diere, bewaring en haar werk is. Passie vir iets en veral wanneer jy baie min betaal word, is deesdae so skaars soos hoendertande.
Elke dag moet Juliette douvoordag opstaan om lusern en ander kos op die bakkie te laai en haar ronde begin om elke renoster te voer om seker te maak hulle kondisie bly goed en hulle is gesond.
Dan doen sy dieselfde weer in die aand. Tydens dié voeding kyk sy na elke renoster, maak seker hulle is gesond, het geen seerplekke en sy moet seker maak hulle daag wel op.
As hulle nie opdaag nie kan dit slegte nuus voorspel, veral in ons land en die toenemende stropery. Dus wanneer ’n renoster nie sy opwagting maak nie, dan moet hy of sy gesoek word.
Daarbenewens moet hulle met ’n pyl “geskiet” word met verskillende medisyne in. Die pyl val uit sodra die medisyne in die renoster is. Elke renoster moet met tot vier van dié pyle geskiet word. Juliette moet rekord hiervan hou sodat dieselfde renoster nie te veel of niks medisyne kry nie.
Die werk is in die son en fisiek uitputtend en tog is haar liefde vir die diere en hulle bewaring so groot dat sy dit dag na dag, insluitend naweke doen.
Die renosters word ook onthoring as daar geld beskikbaar is. Dit kos sowat N$20 000 per renoster. Dit sluit onder meer die huur van ’n helikopter, vlieënier, veearts, brandstof en die span wat die werk doen in. Die voordeel is dat wanneer die renoster verdoof is, kan hy al sy spuite kry, ondersoek word, bloedmonsters en DNS-monsters geneem word. Dit is baie minder stres vir die dier om alles op eenslag te doen. ’n Bekwame span kan alles in sowat 20 minute doen.
Die renoster se horing is soos ons naels en wanneer dit verwyder word, groei dit eenvoudig net terug. Die renoster ervaar geen pyn en kan bly lewe. Die dier hoef nie geskiet te word sodat iemand in Asië van sy horing kan gebruik nie.
Daar is baie renosterhorings in verskillende kluise gebêre wat stof opgaar. Horings van renosters wat aan natuurlike oorsake dood is. Horings van stropers wat gevang is en gekonfiskeer is. Die horings lê in kluise en het geen waarde nie. Sou die handel in renosterhorings wettig gemaak word, kan die regering en die boer geld uit die horing maak wat dan weer vir die verdere bewaring van dié en ander diere gebruik kan word.
Maak dit nie sin nie? Want as jy ’n horing maklik, wettig en sonder die risiko’s wat stropery inhou kan koop, sal stropery en als wat dit behels nie meer die moeite werd wees nie.
Die argument dat dit na meer stropery sal lei, maak tog nie sin nie omdat die horing elke jaar geoes kan word. Mens kan dit vergelyk met ’n skaap. Die wol groei en die skaap word geskeer. Die skaap kom niks oor nie en die hare groei net sodat dit volgende jaar weer geskeer kan word.
’n Renoster se horing kan nie met ’n olifant se tande vergelyk word nie, want dié tande groei nie weer terug nie en die dier moet dood wees om die tande te verwyder.
Het ons nie al alles probeer om die renosters te beskerm en te bewaar en gefaal nie, want stropery is beslis aan die toeneem en soos dit nou gaan, gaan ons hulle verloor? Is dit nie dalk tyd dat ons die onthoring en die wettiging van die handel in renosterhorings probeer nie. Dis iets nuuts wat dalk kan werk.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie