Renosterhoring: Wettige handel kan help
Renosterhoring: Wettige handel kan help

Renosterhoring: Wettige handel kan help

Navorsers het bevind dat 'n wettige mark vir renosterhoring sal help om stropery te bekamp, mits dit die horings van wilde, vrylopende renosters kan verskaf.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Die wettiging van handel in renosterhoring sal help om die sluikhandelmark te laat inkrimp, alhoewel dié stap alleen nie genoeg sal wees om dié mark tot niet te laat gaan nie.

Dis die bevinding van twee Deense navorsers, dr. Vu Hoai Nam Dang en prof. Martin Reinhardt Nielsen van die Universiteit van Kopenhagen. Hulle het pas 'n eweknie-geëvalueerde navorsingsartikel in die wetenskaplike joernaal ScienceDirect gepubliseer, waarin hulle 345 verbruikers van renosterhorings in Viëtnam betrek het.

Verbruikers van die produk het egter 'n sterk voorkeur vir die horings van wilde renosters, wat beteken 'n “wettige mark” sal voortdurend mededinging van 'n paralelle sluikhandelmark moet verduur.

Tog verkies verbruikers om die produk wettig te koop.

“Die mate waartoe renosterstropery deur wettige handel bekamp sal word, sal afhang of die wettige mark 'wilde horings' kan verskaf, asook of veldtogte sukses daarin kan behaal om verbruikers se voorkeure te verander,” het die navorsers aan Africa Sustain­able Conservation News gesê.

Die studie wys dat verbruikers nie renosters soek waarmee “geboer” is, soos met beeste of perde nie.

Hulle verkies en sal ook meer betaal vir renosters wat wild voorkom of op private grond waar hulle self hul water en kos moet vind, hoewel hulle bykomende voer sekere tye van die jaar mag ontvang. Hulle glo wilde renosters se horings het beter “medisinale voordele”, sê die navorsers.

“Verbruikers verkies egter wettige handel. Kopers van renosterhorings is dikwels ouer en baie ryk.

“Hoe ryker die verbruiker, hoe minder gee hulle om om sake wettig te doen. Dus, as die verskaffing van wilde renosterhorings nie genoeg is nie, sal dit steeds gestroop word, of stropers sal die horings van wettige verskaffers probeer steel,” sê die navorsers.



WETTIGING

Handel in renosterhoring is uiters winsgewend. In die sluikhandelmark word tot US$400 000 per kg vir Asiatiese renosterhorings en tot US$20 000 per kg vir Afrika-renosterhorings betaal.

Die aanvraag na renosterhoring op Asiatiese markte, veral in Viëtnam en China, het intussen renosterbevolkings tot op die rand van uitwissing gedryf. Oor die afgelope dekade is sowat 10 000 renosters in Afrika deur stropers doodgemaak.

Die oorblywende renosterbevolkings in Afrika en Asië krimp deurlopend met minder as 30 000 wat in 2020 oor was, teenoor 'n geskatte bevolking van 500 000 aan die begin van die 20ste eeu.

Verbruikers glo dat die horing sekere medisinale eienskappe het, buiten dat dit as 'n statussimbool dien.



DEBAT

Ten einde die stropingskrisis te stop, word voorgestel die handel daarin word gewettig sodat die horings volhoubaar geoes kan word. Dit kan terselfdertyd 'n inkomste genereer vir die bekamping van stropery, werk skep en stropers afskrik.

Renosterhorings, waarmee internasionaal wettig handel gedryf kan word, kan van mikroskyfies voorsien word, terwyl 'n sertifisering en permitstelsel ingestel kan word om geldwassery te voorkom.

“Die vraag of die wettiging van handel in renosterhoring tot die bewaring van renosters kan bydra, word vurig in bewaringskringe gedebatteer. Teenstanders hiervan meen wettige handel sal die vraag hierna tot gevaarlike vlakke verhoog,” sê die navorsers.

“Ons het bevind wettige handel in renosterhoring sal waarskynlik nie die parallelle sluikhandelmark uitwis nie, maar dit wel laat inkrimp. Ons insigte in die saak kan gebruik word om die moontlike gevolge van wettige handel te oorweeg en beleide te skep om die vraag daarna te bestuur,” het die navorsers gesê.



NAMIBIë

Plaaslik het die uitvoerende hoof van die Namibiese Kamer van die Omgewing (NCE), dr. Chris Brown, vantevore reeds gesê “die tyd is reg vir Namibië om in vennootskap met buurlande ernstige stappe oor renosterhoring en langtermynrenosterbewaring te doen”.

Brown is ten gunste daarvan dat Namibië internasionaal met renosterhoring handel dryf – ideaal gesproke mét die goedkeuring van die Konvensie in die Handel van Bedreigde Spesies (Cites), en met internasionale monitering en ouditprosedures wat ingestel is.

Tesame daarmee behoort renosters in alle nasionale parke, kommunale en kommersiële grond (plase en wildreservate) op 'n twee- tot driejaarsiklus onthoring te word.

Brown sê die internasionale handel in renosterhoring kan nagenoeg N$2 miljard per jaar tot die Namibiese ekonomie bydra en dit sal groei, soos renosterbevolkings uitbrei.

Hy voeg ook by dat die onthoring van renosters landswyd die beloning vir stropery aansienlik sal verminder, omdat die risiko-tot-vergoeding-verhouding erg skeef sal wees teen die hoë risiko en lae beloning, en die markte sal gelyktydig goed met wettige horings voorsien word.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!