Renosterhorings: 4 Chinese appelleer
Renosterhorings: 4 Chinese appelleer

Renosterhorings: 4 Chinese appelleer

Die vier Chinese wat in 2014 met 14 renosterhorings en 'n luiperdvel in twee tasse betrap is, meen hul tronkstraf is te lank.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die hoërhof het Dinsdag verlof tot appèl aan vier veroordeelde Chinese renosterhoringsmokke­laars teen hul lang tronkstraf toegestaan.

Li Zhibing (53), Li Xiaoliang (30), Pu Xuexin (49) en Wang Hui (40) is op 30 September 2016 deur landdros Alexis Diergaardt in die Windhoekse landdroshof in Katutura tot 14 jaar tronkstraf gevonnis.

Die twee Li's en Pu is op 24 Maart 2014 op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako met 14 renosterhorings ter waarde van N$2,3 miljoen en 'n ­luiperdvel van N$50 000 in twee tasse in ­hegtenis geneem. Wang, wat as die meester­brein van die ­smokkelbedryf van renosterhorings in Namibië beskou is, is eers later, in Mei 2015, by die ­Windhoek-buitekluboord in ­hegtenis geneem.

Li Zhibing het uit die staanspoor skuldig gepleit en die ander drie on­skuldig. Die vier is op 16 September 2016 op klagte van die onwettige besit van, handel in en uitvoer van beheerde wildprodukte skuldig bevind.

Hulle is onskuldig bevind op 'n klag van geldwassery. Mnr. Orben Sibeya was hul regsverteenwoordiger.

Diergaardt het tydens hul vonnisoplegging gesê 'n duidelike boodskap word aan die internasionale gemeen­skap uitgestuur dat sulke misdade nie in Namibië geduld sal word nie.

“Renosters is 'n beskermde spesie. Oortreders kan nie net 'n boete betaal, teruggaan na hul lande, terugkom en wéér sulke misdade pleeg nie.”

Die landdros het gesê renosters is op die rand van uitwissing en die vonnis moet as afskrikmiddel vir die wêreldwye gemeenskap dien.

Die Chinese dien hul tronkstraf in die Windhoek Sentrale Gevangenis uit.

Die vier het Dinsdag voor adjunkregterpresident Hosea Angula in die hoërhof verskyn, wat bevestig het 'n ­appèlverhoor teen hul lang tronkstraf sal op 3 Desember plaasvind, berig Nampa. Die Chinese se regsverteenwoordiger, mnr. Nambili Mhata, moet sy ­argumente voor of op 14 November by die registrateur van die hoërhof indien en die staatsaanklaer, mnr. Simba Nduna voor of op 23 November. Regters Alfred ­Siboleka en Boas Usiku sal die ­appèlverhoor aanhoor.

“Die Chinese moet maar lekker ­appelleer en hul ­regsverteenwoordigers nóg ryker maak, maar dié saak is water­dig. Die klinkklare bewyse teen die vier smokkelaars was net te veel,” het 'n ­amptenaar van die ministerie van die omgewing en toerisme Woensdag aan Republikein gesê.

Die saak het destyds groot opslae gemaak met verskeie openbare optogte wat teen renosterstropery gehou is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!