Renosterhorings in koerierpakkie
Renosterhorings in koerierpakkie

Renosterhorings in koerierpakkie

Smokkelaars van onwettige wildprodukte gebruik nou ander metodes en roetes, sê Namibië se polisiehoof.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - 'n Op en wakker polisieman het op 'n skandeerder by die Eros-lughawe in Windhoek 'n pakkie met stukkies renosterho­ring ontdek.
Die pakkie, wat op 12 Mei per koerier met 'n vragvlug van Eros af via Johannesburg na Maleisië sou vlieg, het 16 stukkies renosterhoring bevat, het die Namibiese polisiehoof, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, gesê. Smokkelaars het die stukkies horing in koffiebokse versteek wat hulle volgens Ndeitunga met 'n plaaslike koeriermaatskappy wou koerier.
“Die smokkelaars verander nou van taktiek en roetes. Hul dae is getel, want ons is hulle een voor,” het hy gesê. Dit is nie die eerste keer dat renosterhorings per koerier en kamma as koffie van Namibië af na die Ooste gestuur is nie.
Doeanebeamptes het op 22 Maart 12 stukkies renosterhoring van 6,6 kg ter waarde van US$1,3 miljoen (sowat N$16,8 miljoen) in twee lugkoerierpakkies van Namibië af op die Internasionale Lughawe Hongkong gevind. Hongkong se doeanebeamptes het tydens 'n vragondersoek twee pakkies geskandeer wat as koffie verklaar is. Verdagte beelde is op hul skandeerders gevind. Ná die besending oopgemaak is, het doeanebeamptes renosterhorings ontdek.
Ná 'n opvolgondersoek is 'n 42-jarige man op 23 Maart in hegtenis geneem. Hy is op borgtog vrygelaat. Die Namibiese polisie se eenheid vir beskermde hulpbronne sou toe saam met Interpol werk om die saak te ondersoek.
Die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het destyds gesê die persoon wat in hegtenis geneem is, sou waarskynlik die pakkies ontvang.
“Die vraag is wie die pakkie uit Namibië gestuur het,” het hy gesê.
Koffie is ook tydens 'n voorval verlede jaar as rook­skerm gebruik om stukkies ivoor uit die land te probeer smokkel. Twee Chinese mans, mnre. Xue Xinxi (47) en Ruhe Zhang (60), het na bewering probeer om die ivoor in koffieblikke uit te smokkel.
Hulle is op 7 Desember 2016 by die Kapps Farm-padblokkade op pad na die Internasionale Lughawe Hosea Kutako in hegtenis geneem.
Ndeitunga het plaaslike koeriermaatskappye gewaarsku om hul pakkies deegliker te ondersoek vir onwettige produkte.
“Koeriermaatskappye moet meer waaksaam wees en ook hul pakkies skandeer,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!