‘Renosterkarkasse word met sindikaat verbind'
Francoise Steynberg – Net voor die vermeende renosterstropers, pastoor Jackson Babi (30) en die 25-jarige mnr. Frizans Dumeni, gisteroggend in die Windhoek-landdroshof vir hul borgtogaansoek verskyn het, het 'n boer laat weet nóg twee witrenosterkarkasse is op 'n plaas in die Gobabis-distrik gevind.
"Die koei is twee maande gelede deur stropers gekwes, maar het oorleef. Sy is Maandag vanweë haar wonde dood. Haar sesjarige bulkalfie se karkas is verlede Saterdag ontdek en sy horings is verwyder," het die boer gesê.
"Die koei het Sondag gaan lê en die veearts, dr. Kallie Nel, het vir haar 'n drup gegee. Dit was 'n tranedal Maandag op die plaas toe sy dood is."
Die boer sê die bulkalf was die eerste renosterkalf wat op sy plaas gebore is.
"Die koei het ook 'n versie (twee en 'n half jaar oud) wat soos 'n besetene rondgehardloop het toe haar ma geskiet is. Gelukkig is sy gespeen en sy loop nou saam met 'n ander renosterkoei," het die boer gesê.
Die hoof van die Blue Rhino-taakspan, komm. Barry de Klerk, was gister op die plaas om die voorval te ondersoek.
Die boer sê een patroonpunt is uit die blad van die koei gehaal en twee patroonpunte en ’n patroondoppie is by die karkas van die kalfie gevind en sal vir forensiese toetse gestuur word.
"Die vermoede bestaan dat dit die werk van dieselfde sindikaat van agt verdagtes is wat verlede week in hegtenis geneem is, want die kaliber geweer is dieselfde as die een wat gebruik is om twee renosters op 'n ander plaas in die Gobabis-distrik te skiet," het die boer gesê.
"Die geweer is te klein om 'n renoster te skiet."
BABI EN KIE
Babi en Dumeni se borgtogaansoek het gister 'n wending in die Windhoek-landdroshof geneem toe staatsaanklaer Rowan van Wyk gesê het Babi moet volgende Maandag (8 Junie) in die Gobabis-landdroshof op 'n klag van renosterstropery verskyn.
Volgens Van Wyk word nog op die uitslae van die jaggeweer se ballistiese toetse en die renosterhorings se DNS-toetse gewag, asook vier verklarings en 'n fotolêer.
Landdros Linus Samunzela het die twee beskuldigdes se saak tot 24 Julie vir verdere ondersoek uitgestel. Albei bly in aanhouding.
Mnr. Kadhila Amoomo verdedig vir Babi en mnr. Kalundu Kamwi vir Dumeni.
Hulle word van renosterstropery, -horingsmokkelary en die onwettige besit van renosterhorings, 'n vuurwapen en ammunisie aangekla nadat hulle verlede week saam met ses verdagtes in Windhoek en op Otjiwarongo in hegtenis geneem is.
Twee renosterhorings, 'n jaggeweer en ammunisie is glo in Babi se huis op erf 454 in Rheintfonteintstraat in die Kleine Kuppe-woonbuurt in Windhoek gevind.
Dit volg na twee renosterkarkasse, wie se horings verwyder is, verlede week op 'n plaas in die Gobabis-distrik ontdek is.
Buite die hofsaal het Babi se lidmate van sy House of Joy Ministries weer opgeruk en aan hom probeer raak.
'n Manlike aanhanger het 'n joernalis van Republikein se susterkoerant, Namibian Sun, se kamera in haar gesig en teen die muur gestamp toe sy 'n foto van Babi probeer neem het.
Die ander beskuldigdes is mnre. Alberto Mbwale en Joseph Matheus wat Maandag op klagte van renosterstropery en geldwassery op Gobabis verskyn het.
Hulle bly in aanhouding tot hul volgende verskyning op 15 September.
Die vier wat verlede Dinsdag op Otjiwarongo in hegtenis geneem is toe hulle glo twee renosterhorings aan 'n geheime polisiebeampte wou verkoop, is mnre. Enos Uutoni, Onesmus Haufiku, Vaaruka Musutua en Elias Nashivela. Nashivela is 'n voormalige lid van die Namibiese weermag en Haufiku 'n polisiebeampte verbonde aan die eenheid vir die beskerming van baie belangrike persone (BBP's) in Windhoek. Hulle bly ook in aanhouding.
Altesaam 11 verdagtes is verlede week volgens die weeklikse wildmisdaadverslag in verband met renosterstropery of -horingsmokkelary in hegtenis geneem.
Mnre. Sakaria Manasse, Augustinus Jonas en Limbu Maseka is Vrydag by Tsumeb glo met twee renosterhorings in hul besit in hegtenis geneem. Die polisie het beslag op 'n voertuig gelê.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie