Reënseisoen skop op plekke goed af

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die Otjombinde-kiesafdeling in die Omahekestreek het die meeste reën in Oktober gehad, met die Eiseb-gebied wat 189 mm vir die maand aangeteken het. Dit is bykans elf keer meer as hul maandelikse gemiddeld.

Die ministerie van werke en vervoer se afdeling vir meteorologiese dienste het in hul reënbulletin vir Oktober gesê weervooruitsigte bly gunstig vir die res van die seisoen oor die grootste dele van die land.

Dienooreenkomstig het die oostelike dele van Keetmanshoop se landelike kiesafdeling ook ‘n beduidende hoeveelheid reën gehad, met Koës wat 65 mm vir die maand aangeteken het en Aroab 55,6 mm. Dit is ook bogemiddeld vir hierdie plekke.

Die noordelike dele van die Otjozondjupastreek het ook tussen 15 mm en 45 mm reën ontvang, wat bo hul gemiddelde reënval vir Oktober is.

Die meeste van die westelike dele van die Zambezistreek het min tot geen reën in Oktober ontvang.

Eiseb het op een dag in Oktober 85 mm reën gehad, gevolg deur Grootfontein en die Grootfontein-lughawe waar onderskeidelik 48 mm en 47,6 mm ook binne ‘n dag gemeet is.

Daarnaas het die grootste reënbuie binne ‘n dag op Aroab en Koës geval toe onderskeidelik 39 mm en 35 mm gemeet is. Ariamsvlei het binne ‘n dag 33 mm gehad, gevolg deur Otjituuo wat 32,5 in 24 uur gehad het.

Naas Eiseb wat 1 012% van sy normale reën (altesaam 189 mm) vir Oktober gehad het, het 0,4 mm op Walvisbaai geval, wat beteken dit het 300% van sy normale reën vir Oktober gehad. Aroab het 694% (altesaam 55,6 mm) van sy normale reën gehad en Koës 550%, of 65 mm.

Ariamsvlei en Karasburg het ook ongewone neerslae gehad toe onderskeidelik 409% en 371% van hul normale reën geval het. Hulle het vir die maand altesaam onderskeidelik 35,6 mm en 33 mm reën gemeet.

Mururani, in die noordooste van die land, het vir Oktober 192% van sy normale reën gehad (altesaam 52,5 mm), terwyl Tsumkwe 233% (altesaam 50 mm) van sy normale reën gehad het en Huttenhof 200%, of 45 mm.

Dit volg nadat die Australiese Buro vir Meteorologie Dinsdag gesê het ‘n La Niña het nou in die tropiese Stille Oseaan gevestig. Dit is goeie nuus vir Namibië se reënseisoen, omdat ‘n La Niña-weerverskynsel dikwels met natter toestande plaaslik vereenselwig word.

Klimaatmodelle voorspel die La Niña sal van korte duur wees en net tot die Suidelike Halfrond se láátsomer of vroeë herfs (in 2022) duur,” sê die buro.

Soos vir Suider-Afrika, verhoog ‘n La Niña ook die kans op bogemiddelde reën vir Noord- en Oos-Australië in die somer.

“Verskeie aanwysers van die El Niño-Suidelike Ossillasieklimaatspatroon (Enso) dui op duidelike La Niña-patrone. See-oppervlaktemperature in die tropiese Stille Oseaan is naby aan La Niña-drempels, met klimaatmodelle wat voorspel dat dit verder sal afkoel.

“Die wolk- en windpatrone in die atmosfeer is tipies van ‘n La Niña, wat ‘n aanduiding is dat die atmosfeer nou op die veranderinge in die oseaan reageer en dit verder aanhelp,” sê die Australiërs.

“Die negatiewe fase van die Indiese Oseaan-dipool (IOD) bereik nou sy einde, met indekswaardes wat tans in die neutrale fase verkeer. Tog dui wolk- en windpatrone oor die Indiese Oseaan daarop dat die negatiewe fase steeds ‘n mate van ‘n invloed uitoefen,” het die buro gesê.

‘n Negatiewe IOD is ook goed vir reën oor Suider-Afrika.

“Alle weermodelle dui aan dat die IOD tydens die komende maande neutraal sal bly,” sê die Australiërs. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!