Rentekoers styg dalk gouer weens swak rand
Ekonome stem saam dat die impak van die nuwe inflasiesyfers op Suid-Afrika se Reserwebank se rentekoersbesluit nie nou reeds tot ’n hoër rentekoers gaan lei nie.
Hanlie Stadler – As die rand swak bly, gaan die Reserwebank die rentekoers so vroeg as Januarie 2019 verhoog.
Dis die siening van ekonome nadat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Woensdagoggend bekend gemaak het die inflasiekoers vir Julie was 5,1%. Dis die eerste keer in tien maande dat inflasie hoër is as 5%.
Jason Muscat, senior ekonomiese ontleder van FNB, sê inflasie begin nou wegdryf van die middelpunt (4,5%) van die Reserwebank se teikenband (3% tot 6%) waar die sentrale bank dit graag sou wou laat anker voordat rentekoerse verlaag kan word.
Die styging van die inflasiekoers, wat in Junie nog 4,6% was, is aangedryf deur die styging in die petrolprys en in die prys van water en krag.
Petrol is nou 25,3% duurder as ’n jaar gelede.
Water is nou gemiddeld 11% duurder as ’n jaar gelede en krag 7,7% duurder. Dié kategorie word in Julie gemeet omdat dit ook is wanneer munisipaliteite hul krag- en watertariewe aan verbruikers verhoog.
Geadministreerde pryse – dus krag, water, petrol, skoolgeld, openbare vervoer en ander pryse wat die owerhede vasstel – is as kategorie 12,4% hoër as ’n jaar gelede, die grootste styging in meer as agt jaar.
Wat betref die impak van die nuwe inflasiesyfers op die Reserwebank se rentekoersbesluit op 20 September, stem ekonome saam dat dit nie nou reeds tot ’n hoër rentekoers gaan lei nie.
“Hoewel ons nie dink die hoër inflasiekoers sal te veel ongemak by lede van die monetêrebeleidskomitee veroorsaak nie, kan dit wel meebring dat die verwagte rentekoersstyging vervroeg word na die eerste helfte van 2019 eerder as die tweede helfte,” sê Muscat.
Lesetja Kganyago, president van die sentrale bank, het op 17 Julie gesê die bank verwag vyf rentekoersverhogings oor die volgende paar jaar. Dis volgens die Reserwebank se voorspellingsmodel, wat op huidige inligting gegrond is – dus voordat die rand op 8 Augustus drasties begin verswak het weens die Turks-Amerikaanse krisis.
Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, verwag steeds dat die Reserwebank die rentekoers . in Januarie 2019 gaan verhoog. Sy reken wel weens die verswakking van die rand met nagenoeg 6% sedert einde Julie sal die Reserwebank dalk in September meer klem lê op die risiko’s vir inflasie.
Die Nedbank-ekonome Busisiwe Radebe en Dennis Dykes sê ook die waarde van die rand is die grootste risiko vir die inflasiekoers, tesame met die voortslepende uitwerking van die hoër belasting op toegevoegde waarde, duurder brandstof en die verwagte styging in kosprysinflasie oor die volgende paar maande.
“Ons voorsien egter nie dat inflasie tot bo die Reserwebank se boonste teiken van 6% sal beweeg nie. Dít, tesame met die nog swak ekonomie, sal die monetêrebeleidskomitee waarskynlik oortuig om ’n rentekoersverhoging so lank as moontlik uit te stel.”
Nedbank verwag steeds dat die rentekoers eers laat in 2019 sal styg.
Kospryse styg steeds matig
Die spoed waarteen vleis duurder word, het vir die 12de maand in ’n ry verlangsaam.
Vleisprysinflasie was in Julie 5,6% – ’n stewig tien persentasiepunte laer as die 15,6% op die hoogtepunt in September 2017. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie