Reu00ebnval bogemiddeld diu00e9 seisoen
Reu00ebnval bogemiddeld diu00e9 seisoen

Reënval bogemiddeld dié seisoen

Sommige plekke het die meeste reën in vyf jaar gehad.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Hoewel die reënval in Maart wisselvallig was, dui die jongste reënverslag deur die ministerie van werke en vervoer se meteorologiese dienste-afdeling daarop dat die groter Namibië tot dusver ’n bogemiddelde reënseisoen tussen Oktober 2016 en Maart gehad het.

Katima Mulilo, Rundu, Outapi, Grootfontein, Monica en Keetmanshoop het reeds meer reën as hul gemiddeldes in dié tydperk ontvang. Verder vergelyk vanjaar se reënsyfers vir dieselfde dorpe goed teenoor die afgelope twee jaar s’n.

Katima Mulilo het tot einde Maart die beste reënseisoen die afgelope ses jaar gehad, terwyl hierdie die meeste reën is sedert die 2010-'11-seisoen vir Ondangwa en Outapi.

Windhoek het effens minder reën as gewoonlik ontvang, maar hierdie is ook die stad se beste seisoen sedert die een van 2013-'14.

Keetmanshoop ervaar tans ook ’n bogemiddelde jaar, hoewel die dorp in die seisoene van 2010-'11, 2013-'14 en 2015-'16 meer reën as in die huidige seisoen ontvang het. Khorixas ervaar egter ’n effens ondergemiddelde reënseisoen.

Gibeon het vanjaar 101% meer reën as normaal ontvang, terwyl Okahandja (+ 71%), Rehoboth (+ 68%) en Ariamsvlei (+ 153%) ook baie meer reën as hul gemiddeldes ontvang het.

Omatjette (- 50%), Ongwediva (- 44%) en Ongenga (- 38%) ervaar tot dusver egter ’n ondernormale reënseisoen.

MAART-REËN VAL ONEWEREDIG

Die grootste hoeveelheid reën in Maart het oos van Windhoek tot in die noordwestelike dele van die land voorgekom. Onesi, ’n nedersetting wat in die verre Noorde naby Ruacana geleë is, het die meeste reën vir die maand ontvang - 298,3 mm in totaal.

Daarnaas het Okalongo (289,3 mm) en Outapi (286 mm) onderskeidelik die tweede en derde meeste reën in Maart ontvang. Dié reënsyfers is meer as drie keer hul maandelikse gemiddeld.

Terselfdertyd het Ondangwa minder as die helfte van hul maandelikse gemiddeld ontvang. Die gebied oos van Grootfontein en die verre Suidooste het net sowat 75% van hul normale reënval in Maart ontvang.

Die gebied oor die suidelike Kunene en dele van Erongo het steeds groot hoeveelhede reën verlede maand ontvang, maar nie genoeg om die seisoenale gemiddeldes verby te steek nie. Hierdie gebiede het hoofsaaklik eers sedert Februarie en Maart reën begin ontvang.

Die Windhoek-omgewing het reën tydens die eerste 10 dae van Maart gehad, maar geen groot buie het gedurende die res van die maand voorgekom nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer