Reu00ebnvooruitsigte steeds belowend
Reu00ebnvooruitsigte steeds belowend

Reënvooruitsigte steeds belowend

La Niña-toestande behoort tot in April of Mei in beheer van wêreldwye weersake te bly.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Alhoewel reënneerslae oor Namibië onlangs ietwat opgeklaar het, dui weervoorspellings steeds op gemiddelde tot bogemiddelde reën vir die grootste dele van die land vir April en Mei.

Toestande vir reën in Suider-Afrika se somerreënvalgebiede behoort ook beter vanaf die tweede deel van Maart te begin lyk.

Só sê die onafhanklike landboumeteoroloog, mnr. Johan van den Berg. Hy sê ook voorts is reën in die sentrale en noordelike dele van die land meer waarskynlik as in die suidwestelike dele. Die goeie vooruitsigte is te danke aan die impak van die heersende La Niña-toestande.

Hy sê in sy Santam-reënvooruitskouing vir Maart alhoewel La Niña-toestande begin verswak het voor dit weer versterk het, behoort dit tot in April of Mei in beheer van wêreldwye weersake te bly.

TROPIESE STORMS

Van den Berg sê tropiese laedrukstorms in die Mosambiek-kanaal was verantwoordelik vir die onlangse afname in reën.

“Tropiese siklone, of stygende lug in die omgewing van Madagaskar lei tot die ontwikkeling van hoëdrukstelsels (of dalende lug) oor die westelike dele van Suid-Afrika asook Namibië. Dit oorheers bolugtoestande en lei tot ongunstige reëntoestande,” verduidelik hy.

“Minder tropiese storms sal help dat die tropiese lug sal terugskuif tot oor Botswana en Namibië – voor die einde van die reënseisoen . . .”

Van den Berg sê egter die tydjie van droogte is veral in graanproduserende gebiede verwelkom, waar warm weer en sonskyn gehelp het om gewasse te herstel ná uitermatige swaar reën in Januarie en die eerste week van Februarie. Daar waar versuiping nog nie permanente skade aan gewasse aangerig het nie, word rekordoeste nou verwag, het hy bygevoeg.

Hy sê egter Maart gaan na verwagting steeds wárm wees.

Intussen het Amerika se Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Administrasie (Noaa) gesê onderdrukte reënneerslae sal na verwagting tot môre (Woensdag) oor Suider-Afrika heers – vanaf die suide van Angola, Namibië, Botswana, asook die grootste dele van Suid-Afrika.

Daarteenoor word oorvloedige reën oor onder meer die Mosambiek-kanaal en die westelike en sentrale dele van Madagaskar verwag.

’N WYER BLIK

Beduidende ondergemiddelde reënneerslae asook die oneweredige verspreiding daarvan sedert die begin van die reënseisoen het tot ’n abnormale droogte in Angola asook die noordweste van Namibië gelei.

Noaa sê ’n groot gebied in die sentrale dele van suidelike Afrika het terselfdertyd natter toestande as gewoonlik ervaar. Dit sluit in suidoostelike Angola, die noordooste van Namibië, suidelike Zambië, Botswana, Zimbabwe, die noordelike dele van Suid-Afrika, asook die sentrale dele van Mosambiek.

“Daarteenoor het onvoldoende reën tot droër as normale toestande oor die westelike Angola en noordwestelike Namibië gelei, asook oor die noordoostelike dele van Mosambiek en die suidelike en oostelike dele van Madagaskar. In sommige gebiede is tot 300 mm minder reën as normaalweg ontvang.

Volgens die verslag het plantegroei dienooreenkomstig verswak in onder meer die noordweste van Namibië, die westelike dele van Angola en suidelike Suid-Afrika.

“Terselfdertyd is plantegroeitoestande bogemiddeld in die suide van Namibië, Botswana, sentrale en noordoostelike Suid-Afrika en die suidelike dele van Mosambiek.”

Noaa sê verder ’n ongewone droogte heers oor die oostelike kusgebied asook in die suide van Madagaskar wat tot ‘n 40% verlies in gewasoeste kan lei.

Verder was noordwestelike Mosambiek ook ongewoon droog, terwyl ondergemiddelde reën in Februarie ook ‘n ongewone droogte in die suidelike dele van Suid-Afrika veroorsaak het.

Daarteenoor het vloede oor die afgelope vier weke verwoesting in Burundi, asook in die noordweste van Tanzanië, in die land se Kagera- en Kigoma-omgewing gesaai.

Méér reën word in dié gebiede voorspel wat die risiko op nog vloede verhoog.

Van den Berg meen verder daar is hoop dat die voortslepende droogte in die suidwestelike dele van die Noord-Kaap asook suidoostelike dele van die Oos-Kaap nog voor die einde van die reënseisoen verligting sal ontvang.

ENSO-TOESTANDE

Seeoppervlaktemperature bly La Niña-vlakke handhaaf binne al vier die hoof Niño-gebiede (tussen 0,9 °C en 1,2 °C koeler as normaal), sê hy.

“Die El Niño- Suidelike Ossillasieklimaatspatroon (Enso) keer tipies in die winter terug na neutrale vlakke en ontwikkel vanaf Augustus weer in die rigting van óf ’n La Niña óf ’n El Niño, of bly neutraal. Langertermynvoorspellings leun egter na die ontwikkeling van ’n La Niña óf neutrale vlakke vanaf Augustus of September, met ’n baie klein kans dat ’n El Niño sal ontwikkel,” sê Van den Berg.

Nog goeie nuus is dat die Indiese Oseaan-dipool (IOD) neutraal is en, volgens voorspellings, in die volgende ses maande só sal bly of negatiewe waardes sal handhaaf.

Van den Berg meen dit alles dui op ’n moontlike gunstige 2021-’22-reënseisoen, terwyl die heersende La Niña dalk tot ’n vertraging in die aanvang van winterreën kan lei. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer