Reënweer bring groot skade
Sowat 50 hektaar van die Naute-besproeiingskema is oorspoel.
Kristien Kruger – Terwyl Namibië die derde week van swaar neerslae binnegaan, is groot skade reeds aan paaie, landerye en ander infrastruktuur aangerig.
Windhoekers is Vrydag deur die munisipaliteit teen swaar reën en kitsvloede gewaarsku wat gister sou voorkom en vandag sal voortduur.
Gister laatmiddag het stortreën met neerslae van meer as 60 mm op plekke in die hoofstad veroorsaak dat heinings deur vloedwater meegesleur is.
Die Klein-Windhoekrivier en ander spruite en riviere in Windhoek het Saterdag al sterk geloop en motoriste moes by laagwaterbrûe omdraai waar riviere te sterk gevloei het. Gistermiddag was die vloedwater in die oostelike voorstede selfs sterker.
Mnr. Job Amupanda, burgemeester van Windhoek, het verlede week gesê die stad se noodreaksiespan het tussen 30 Desember en 5 Januarie 14 vloedinsidente hanteer.
“Hoewel ons dankbaar is vir die reën, is die skade aan publieke en private eiendom 'n groot bekommernis.
“Skade aan elektriese pale kan kragonderbrekings veroorsaak en die toestand van ons paaie kan onveilige bestuurstoestande tot gevolg hê,” het Amupanda gesê.
Hy sê 'n taakspan met lede van verskillende munisipale afdelings het reeds begin om gemeenskappe in laagliggende dele en rivierbedekkings na veiliger gebiede te verskuif.
Altesaam 71 huishoudings in Havana en agt in Otjomuise is reeds deur vloede geraak.
“Die stad se ramprisikobestuurkomitee en 'n span vir vloedparaatheid is geïdentifiseer en ontmoet weekliks om sake te evalueer, te beplan en die nodige hulp te bied,” het Amupanda gesê.
BESPROEIINGSKEMA VERSPOEL
Sommige dele van die Naute se besproeiingskema is onder water nadat al vier sluise van die Nautedam oopgemaak is toe die watervlakke Dinsdag op 116% gestaan het.
Mnr. Simon Akwenye, projekbestuurder van die Naute-besproeiingskema wat deur die Agentskap vir Nywerheidsontwikkeling in Namibië (Nida) bestuur word, het aan Nampa gesê twee van die pype wat water aan die skema voorsien, is beskadig. Dit is volgens hom duisende dollar se skade.
“Ons is in kontak met NamWater om te kyk of die dam as waterbron kan dien. Dit sal spoedig moet gebeur, anders sal die bome daaronder ly en dit kan verliese meebring,” het hy gesê.
Volgens Akwenye is 15 dadelpalmbome deur die vloedwater ontwortel, terwyl sowat 60 hektaar waarop bome geplant is, oorspoel is.
By die Al Dahra-besproeiingplaas, waar druiwe en dadels geplant word, het die vloed sowat 15 hektaar landerye uitgewis.
ANDER GEVALLE
Die Paaieowerheid het die naweek herstelwerk aan die teerpad tussen Aussenkehr en Rosh Pinah gedoen om dit weer begaanbaar te maak nadat dit deur vloedwater oorstroom is.
Die C28-pad oor die Bosuapas, sowat 60 km wes van Windhoek, het ook verspoel. By plaas Aub is die water oor die brug.
Die B1-roete tussen Otavi en Tsumeb was Saterdagoggend sowat 5 km buite Otavi vir 'n tyd lank gesluit toe vloedwater oor die teerpad gestroom het. Namib Mills se pakhuis op Otavi was ook oorstroom.
Dit is benewens ander padverspoelings waaroor Republikein verlede week berig het.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie