Republikein: die vroeë dae
Nic Kruger skryf:
Die Republikein. . .
Wonder wie sou nou vir 'n koerant so 'n moeilike naam gee? Re-pu-bli-kein. Vier lettergrepe! Sjoe!
Dit was my eerste gedagte na 'n telefoniese gesprek met Christo Wessels, bestuurder van Die Republikein, in Januarie 1978. Ek was in daardie stadium sportverslaggewer vir Die Vaderland in Johannesburg en was daardie Maandag in die persbank by die Wanderers Krieketstadion waar Transvaal teen Natal gespeel het.
Christo wou weet of ek sou belangstel om by Die Republikein aan te sluit as sportredakteur. Natuurlik het ek belanggestel! Dit was nie moeilik om die Goudstad vir huis te verruil nie en op 1 Maart 1978 begin ek as sportverslaggwer by Die Republikein werk.
Dit was die begin van sestien holderstebolder jare in my lewe. Harde, interessante, gebeurtenisvolle en genotvolle jare.
Ek het met 'n gevoel van groot opwinding die eerste keer by die Trust Bank-gebou in Kaiserstraat (vandag Bank Windhoek se Kudu-tak) ingestap. Die Republikein was daar op twee vloere gehuisves.
Dr. Jan Spies (redakteur), Christo Wessels, Marie Pretorius (finansies), Lina Loubser (administrasie) Kobus Grobbelaar, Hermien Mulder en Liesl Willemse (advertensies), Maria Ferris (sirkulasie) en Marena van Zyl (sekretaresse) het kantore op die derde vloer beset, terwyl die redaksie en die “fabriek” op die tweede vloer gewerk het.
Die redaksie het bestaan uit Coenie Slabber (assistant-redakteur), Carol Kotze, Johann Britz, Bill Hulme, Emil Appolus, Rieth Mudge, myself en fotograaf Len Ward. Die tipografiese afdeling het bestaan uit setter Jorene Coetzee, Rina Kruger en Rosie Duvenhage en tegniese personeel Vincent Bester, Johan van der Merwe, Deon Olivier en Michael Witbooi. Chrisjan Diergaardt en Chris Armstrong was in beheer van verspreiding.
Die direksie bestaan uit mnre. Dirk Mudge (voorsitter), Cecil Damant en Andrew Theunissen, mev. Barbara Rathay end dr. Jan Spies.
ALMAL MOES HELP
Ons het die koerant op Maandag- en Donderdagmiddag persklaar gemaak. Die films is dan per vliegtuig na Pretoria geneem waar Hoofstad Pers die drukwerk deur die nag gedoen het. Die koerante is op die vroegste vlug Dinsdag- en Vrydagoggend na Windhoek gebring. Dan het almal gehelp om verspreiding te doen.
In Oktober 1978 word Die Republikein 'n dagblad en word dit plaaslik deur John Meinert gedruk. Die redaksie word versterk deur Paul van Schalkwyk, Johan Potgieter en Susan Loock. Later kom Johannes Gawaxab , Ferdinand Tjombe en Aubrey Hardine by.
Vroeg in 1979 verhuis ons na die ou Grand Hotel - vandag Kenya House. Ons beset drie vloere. Elke “kantoor” het volvloermatte en sy eie badkamer. Luuks! Maar dit bring ook versoekings. Agter die toe deure voel sekere Ridders van die Pen veilig om 'n doppie te maak wanneer dit nie heeltemal toelaatbaar is nie.
Die Republikein verkry in 1980 die reg van Miss Universe Inc. om 'n Mej. Namibië te kies om aan die Mej. Heelal-kompetisie deel te neem. Riëth en Coenie reël die heel eerste Mej. Namibië-kompetisie. Bernice Tembo word in die ou Moringa Room in die Kalahari Sands Hotel as die eerste Mej. Namibië gekroon. Suid-Korea weier om aan haar 'n visum uit te reik en sy moet in Hong Kong omdraai.
Ons verkope styg week na week en die advertensie-inkomste neig ook noord. Maar dis duidelik dat die mark te klein is vir twee Afrikaanse dagblaaie.
ONS VRY NA DES
Des Erasmus, redakteur van Die Suidwester, word uitgeskuif na 'n nuwe weeklikse koerant genaamd Joernaal. Ons verneem van ongelukkigheid in Marconistraat se geledere. Ek en Dok Spies is van mening dat hier 'n gulde kans aan die ontwikkel is om Die Suidwester seer te maak.
Des was uit die aard van die saak nie baie gewild by die RP en DTA-politici nie. Maar ons oortuig die direksie dat ons 'n plan moet maak om hom by Die Republikein in te trek. Ons begin met Des praat, gewoonlik na middernag. Dis nag toe ons 'n ooreenkoms bereik en Des raak onder Jan Spies se lessenaar aan die slaap met 'n snippermandjie onder sy kop!
Ons plan werk. Dis nie lank nie toe volg Gene Travers, Marietjie Steenkamp (nou Van Staden) en Chris en Gert Jacobie en Bernard Gaeb vir Des na die "Blou Bollie" toe.
Die verkiesing vir 'n blanke Wetgewende Vergadering einde 1980 bring 'n eensgesindheid in die span wat voorheen nie bestaan het nie. Die koerant groei in alle opsigte en ons markaandeel vergroot by die dag.
In 1982 word ek bevorder tot hoofbestuurder. Ons verander Die Republikein na ponie-formaat.
VERANDERING EN VERNUWING
Ons is nie bang vir tegnologiese verandering nie en in 1984 word Die Republikein die eerste streekskoerant in Suider-Afrika wat op DTP-tegnologie uitgegee word. Die oorskakeling van tikmasjiene na rekenaars sorg vir skreeusnaakse situasies. Ons bespaar baie geld in die litografiese prosesse.
John Meinert Drukkery is nie oop vir onderhandelinge oor die hoë drukrekening nie. In 1986 koop ons 'n Pacer Web Offset drukmasjien by die Potcefstroom Herald en begin ons eie koerant druk.
Ons begin met 'n Sondagkoerant – Tempo – en 'n Engelstalige dagblad – Times of Namibia. Sonder enige bohaai koop ons die meerderheidsaandele in die Windhoek Observer. Vir die eerste keer word die drie ou grotes van die koerantbedryf – Angel Engelbrecht, Hannes Smith en Des Erasmus – uit dieselfde tjekboek betaal.
Die aanloop na onafhanklikheid is opwindend. Elke dag word daar 'n stukkie geskiedenis gemaak en ons is deel daarvan.
Enkele weke voor die onafhanklikheidsverkiesing verloor ons kollega Andre de Bruyn in 'n skietongeluk in die Noorde.
In 1990 koop ons twee erwe in Marconistraat en bou moderne kantore vir Die Republikein en 'n fabriek vir die drukkery. Ons verhuis in 1991.
John Meinert Drukkery en die Allgemeine Zeitung word in 1992 oorgeneem en Democratic Media Trust en Democratic Media Holdings (Pty) Ltd word gebore.
Die einde van my era by Die Republikein en DMH breek einde 1994 aan. Die wonderlike ervaringe, kollegas en vriende, lang nagte en harde lesse sal my altyd bybly. Ook die herinneringe aan kollegas Jan Spies, Angel Engelbrecht, Johann Britz, Constant Smit, Gene Travers, Michael Witbooi en Lil Landrey, wat nie meer met ons is nie.
Lank lewe die "Blou Bollie"!

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie