Resep vir 'n ramp
Dit is absoluut noodsaaklik om teen die ooraanbod van dokters en tandartse en 'minderwaardige' opleiding te waak.
Henriette Lamprecht - Namibië het nie voldoende geriewe om praktiese opleiding aan nuwe en toekomstige tandartse en dokters te verskaf nie.
Die verwagte aantal mediese en tandheelkunde-gegradueerdes wat hul studies tussen 2017 en 2020 sal voltooi, oorskry die kapasiteit van hospitale en gesondheidsgeriewe in die land wat tans goedgekeur is om dié studente, sowel as diegene wat internskappe doen, op te lei.
Volgens mnr. Cornelius Weyulu, registrateur en uitvoerende beampte van die Raad vir Gesondheidsberoepe (HPCNA), kan dit beteken dat dié betrokke gegradueerdes by die huis op 'n internskap gaan sit en wag.
In die proses kan die basiese kennis en vaardighede wat hulle reeds verwerf het, moontlik verlore gaan, sê hy.
Dit is 'n resep vir 'n ramp, waarsku Weyulu.
“Die inname van 'n hoë aantal leerlingdokters en -tandartse, sónder die ooreenstemmende toename in kapasiteit vir opleiding by goedgekeurde opleidingshospitale en gesondheidsgeriewe, gaan lei tot die substandaard-opleiding van mediese praktisyns en tandartse.”
Die hoë aantal mediese en tandheelkunde-gegradueerdes mag nodig wees om pogings te ondersteun
om die kritieke tekort aan dié personeel in veral die openbare sektor te takel.
Tog bly dit “absoluut noodsaaklik” om te waak teen 'n ooraanbod en substandaard-opleiding, waarsku Weyulu.
“Bogenoemde kan teenproduktief wees en potensieel bydra tot groot ondoeltreffendheid in die gesondheidsektor. In gesondheid kan kwaliteit nie vir kwantiteit ingeboet word nie, mense se lewens is letterlik op die spel.”
Die Mediese en Tandheelkunderaad het sedert 2013 reeds verskeie kere die ministeries van gesondheid en maatskaplike dienste en hoër onderwys, opleiding en vernuwing oor die hoë aantal mediese en tandheelkundestudente, plaaslik sowel as in die buiteland, gewaarsku.
Waarskuwings in dié verband is ook aan die Universiteit van Namibië (Unam) se mediese skool en die Finansiële Ondersteuningsfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) gerig. Volgens dié waarskuwings moet studentegetalle beheer word en opleidingsplatforms vir internskappe in die land vermeerder.
Ongelukkig, sê Weyulu, het nie almal hierop ag geslaan nie.
Hy wou homself nie uitlaat oor of die regering in die huidige ekonomiese klimaat daartoe in staat sal wees om leerlingdokters en –tandartse se salarisse tydens hul internskappe te betaal nie.
Weyulu het voorts verduidelik dié wat internskappe doen, is gegradueerdes, terwyl studente steeds aan mediese en tandheelkundeskole verbonde is.
“Slegs dié wat internskappe doen en nie meer studente is nie, word betaal vir die diens wat hulle aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste lewer.”
Dié internskappe is 'n voorvereiste vir registrasie as 'n mediese praktisyn en tandarts in Namibië.
Sonder die suksesvolle voltooiing van 'n internskap kan geen mediese of tandheelkunde-gegradueerde in aanmerking kom om in dié rigtings te praktiseer nie.
Volgens Weyulu moet pogings aangewend word om die kapasiteit van infrastruktuur en menslike hulpbronne by verskeie hospitale en gesondheidsgeriewe in die land te versterk sodat die aantal internskappe beduidend verhoog kan
word.
Internskappe moet voorts “eksklusief” vir Namibiese burgers gereserveer word.
“Die aantal Namibiërs wat jaarliks plaaslik en in die buiteland vir mediese en tandheelkundestudies inskryf, moet beheer word.”
Dié getalle moet met die aantal beskikbare internskappe in die land ooreenstem, sowel as met die menslike en infrastruktuurkapasiteit by goedgekeurde opleidingsplatforms.
“Slegs dié wat goeie punte in graad 12 behaal het in die vereiste vakke vir die betrokke studierigtings, moet deur die tesourie ondersteun word.”
Private hospitale en gesondheidsgeriewe moet volgens Weyulu ook pogings van die regering in die opleiding van mediese en tandheelkunde-gegradueerdes ondersteun.
“Sodanige praktisyns sal beide die openbare en private sektore kan bedien wanneer hul internskappe voltooi is.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie