• Tuisblad
  • Afrika
  • Reserwebank bring nuwe, strenger regulasies vir bitcoin
Reserwebank bring nuwe, strenger regulasies vir bitcoin
Reserwebank bring nuwe, strenger regulasies vir bitcoin

Reserwebank bring nuwe, strenger regulasies vir bitcoin

Diegene wat in kriptogeld wil handel dryf, moet ook aan sekere vereistes van die sogenaamde Fica-wet voldoen.
Petrus Malherbe

Suid-Afrikaanse skelms sal eersdaags ander heenkome moet gaan soek as digitale geld om onwettige transaksies mee uit te voer.

Die Reserwebank het ’n konsepvoorstel uitgereik vir nuwe, strenger regulering van digitale geldeenhede soos bitcoin en ethereum.

Dit sluit in dat plaaslike verhandelingsplatforms waarop rande vir digitale geld verruil kan word by die Finansiële Intelligensiesentrum (FIS) moet registreer, en dat kopers van digitale geld se besonderhede bevestig moet word alvorens hulle daarmee kan handel dryf.

Volgens Marius Reitz, hoof van die verhandelingsplatform Luno in Suid-Afrika, gaan gewone mense nie juis die uitwerking van die nuwe regulasies voel nie, maar dit sal beter beskerming bied teen slenters en skelmstreke.

Die Reserwebank sê in ’n verklaring ’n taakspan is verlede jaar op die been gebring om die posisie van digitale geld in Suid-Afrika te ondersoek.

Die konsepregulasies kyk spesifiek na die regulering van plaaslike platforms wat rande vir digitale geld verruil, die uitruil van digitale geld toelaat en weer digitale geld na rande omskakel.

Dit stel bepaalde vereistes aan hierdie platforms, sê Reitz, onder meer dat “verdagte en ongewone transaksies” en kontanttransaksies van meer as R25 000 by die FIS aangemeld moet word.

FICA-WET

Diegene wat in kriptogeld wil handel dryf, moet ook aan sekere vereistes van die sogenaamde Fica-wet (die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum) voldoen, gegrond op ’n risikoprofiel soos bepaal deur die verhandelingsplatform.

Luno voldoen reeds hieraan, sê Reitz.

Kopers wat net ’n identiteitsnommer verskaf, kan net ’n maksimum bedrag van R15 000 by Luno inbetaal of onttrek.

Sodra stawende dokumente soos ’n afskrif van hul ID-boekie en ’n bewys van adres indien word, word die limiet verhoog.

“Sonder hierdie regulasie word die platform blootgestel aan skelms wat dit kan gebruik vir geldwassery,” gee Reitz toe.

Nou sal verhandelingsplatforms verdagte transaksies tussen rand en byvoorbeeld bitcoin kan monitor en aanmeld. Betalings in kriptogeld van een digitale beursie na ’n ander bly egter steeds grootliks anoniem, sê Reitz.

As die beursie waarheen ’n betaling gemaak word nie op dieselfde platform geregistreer is nie, is daar geen manier om die identiteit van die eienaar te bepaal nie.

Sogenaamde “bewakers” van digitale beursies wat dit namens verhandelingsplatforms stoor, moet ook volgens die konsepregulasies by die FIS registreer.

BEPLANDE REGULASIE

Lede van die publiek en rolspelers in die bedryf het ’n maand kans om op die voorstelle te reageer.

Volgens Reitz sal die Reserwebank na verwagting teen die einde van die kwartaal uitsluitsel gee oor watter regulasies in werking gestel gaan word.

Intussen sê hy Luno verwelkom die beplande regulering van die bedryf.

“Jy moet weet wie jou kliënte is. Digitale geld is nie die Wilde Weste nie; ons het ’n verpligting om mense se geld te beskerm.”

Reitz sê Luno voldoen gelukkig reeds aan al die vereistes soos uiteengesit in die konsepvoorstel, hoofsaaklik omdat hulle dit kon voorsien.

Die Reserwebank maak dit egter ook duidelik dat hy nog nie digitale geld as ’n sistemiese risiko vir finansiële stabiliteit in Suid-Afrika beskou nie en dat daar ook tans geen planne is om dit tot ’n erkende betaalmetode te verklaar nie.

Volgens die Reserwebank wil hy, soortgelyk aan ander sentrale banke wêreldwyd, proaktief regulasies instel vir wanneer digitale geld moontlik as ’n noemenswaardige rolspeler in die finansiële bedryf beskou word.

Dit sal egter nie gebeur voordat die totale markwaarde daarvan US$1 000 miljard oorskry nie.

Volgens CoinMarketCap beloop die totale markwaarde van alle digitale geldeenhede tans sowat US$123 miljard, waarvan 52% bitcoin is. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!