Reserwebank koop vir 1ste keer nóg staatseffekte
Nellie Brand-Jonker
Die Reserwebank het gisteroggend aangekondig hy gaan begin om staatseffekte in die mark terug te koop om 'n groot tekort aan kontant in die finansieringsmark van Suid-Afrika te verlig.
Dit sal die eerste keer wees wat die Suid-Afrikaanse Reserwebank sogenaamde kwantitatiewe verruiming doen, het Henk Kotze, 'n portefeuljebestuurder van Prescient, Dinsdag gesê.
“As 'n verdere maatreël om likiditeit by die mark te voeg, sal die Reserwebank 'n program begin om staatseffekte in die sekondêre mark aan te koop,” sê die bank in 'n verklaring.
Die Reserwebank sê dit sal likiditeit (kontant) verskaf en die gladde funksionering van plaaslike finansiële markte bevorder.
Watter staatseffekte gekoop word, sal deur die Reserwebank besluit word.
Die bank het verlede week ook maatreëls aangekondig om banke te help, maar dis as onvoldoende beskou.
Soortgelyke stappe om staatseffekte terug te koop om sodoende kontant in 'n kontanthonger mark te sit, is reeds oorsee aangekondig.
Die Federale Reserweraad van die VSA het Maandag onbeperkte aankope van staatseffekte aangekondig.
Kenners het vandeesweek aan Netwerk24 verduidelik met die paniek wat in die mark geheers het, wou almal net verkoop en daar was nie kopers nie.
Dit sluit in buitelandse beleggers wat uit Suid-Afrikaanse staatseffekte gevlug het, asook uit dié van ander opkomende markte.
In die binneland wou beleggers in staatseffekte ook verkoop om kontant te kry.
“Die Reserwebank het nou gesê hy kom in die mark in en koop staatseffekte en vat dit op sy balansstaat. Dit is maatreëls om die mark bietjie minder volatiel te maak,” verduidelik 'n kundige wat nie geïdentifiseer wil word nie.
“Daar is nie net verkopers nie, maar ook 'n koper. Hopelik haal dit van die paniek uit die mark uit.”
Volgens die kenner het Suid-Afrika dit nog nie voorheen in die nuwe bedeling gedoen nie. Hy is onseker of dit in die apartheidsjare gedoen is.
Baie mense se pensioenfondse en effektetrustfondse is waarskynlik gedeeltelik in staatseffekte belê.
Die opbrengs op staatseffekte het ook baie geval, hoewel nie soveel soos die aandeelmark nie.
“Maar dis slegter as kontant.”
Volgens hom het baie beleggers hul geld onttrek.
“Dis deel van die irrasionaliteit. Hopelik sal dit nou die mark kalmer maak.”
Prysmakers in die mark het hulle ook twee weke gelede onttrek aan die mark omdat hulle nie meer die werk oor die risiko kon verrig nie.
Dit het nog groter wisselvalligheid veroorsaak.
Die aankondiging het die markkoerse van die 20- en 10- jaar-staatseffekte reeds laat daal.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie