Reserwebanktwis 'toets Cyril se leierskap'
Reserwebanktwis 'toets Cyril se leierskap'

Reserwebanktwis 'toets Cyril se leierskap'

Die gevegte maak die buurland se ekonomie nog kwesbaarder omdat dit beleggers se vertroue in die land skaad, waarsku ontleders.
Die openbare skermutseling binne die ANC oor die Reserwebank se mandaat sal 'n groot toets vir pres. Cyril Ramaphosa se ­leierskap wees.

Die gevegte maak die Suid-Afrikaanse ekonomie, wat reeds in die “waakeenheid” is, net nog kwesbaarder omdat dit beleggers se vertroue in die land skaad, waarsku politieke ontleders.

Die geveg is ontketen ná 'n uitlating van Ace ­Magashule, sekretaris-­generaal van die party, dat die ANC se ­nasionale uitvoerende komitee (NUK) verlede naweek op sy ­lekgotla besluit het die Reserwebank se mandaat moet drasties uitgebrei word.

Hoewel Tito Mboweni, minister van finansies, en dr. Enoch ­Godongwana, die ANC se hoof van ekonomiese ­transformasie, dit later ten sterkste ontken het, was daar nog geen reaksie van Rama­phosa self nie.

Woensdagmiddag het die vakverbond Cosatu, 'n alliansievennoot van die ANC, verdere vet op die vuur gegooi deur te sê hy steun die idee dat die Reserwebank se mandaat uitgebrei moet word.

Op sy beurt het die EFF ook 'n eiertjie te lê gehad en Mboweni daarvan be­skuldig dat hy “irriterend” en “arrogant” is en dink hy is verhewe “bo die kollektiewe wil van die mense”.

Die rand het in 'n stadium Woensdag met sowat 30 sent teenoor die dollar teruggesak.



ZUMA EN CHAOS

Dr. Sithembule Mbete, politieke ontleder aan die Universiteit van Pretoria, sê enige verwagting dat die faksie van oudpres. Jacob Zuma ná die verkiesing sou verdwyn of stilbly, is onrealisties.

“Zuma floreer daarop om chaos te saai.

“Dit is mense soos ­Magashule (wat deel is van dié faksie) se taak om soveel moontlik ­afleidings te skep om die intense druk op hulle te verlig,” sê Mbete.

“Dit is 'n groot toets vir pres. Ramaphosa se leier­skap.

“Hy gaan nie slaag met sy eenheidsprojek as hy aanhou om mense soos dié (die Zuma-faksie) aan boord te bring nie.

“Hy moet die moed hê om sy presidensiële magte te gebruik en sonder dié faksie optree,” sê Mbete.

Sy sê dit is opmerklik dat so 'n twis in die openbaar gevoer word – twee dae ná die NUK-vergadering. “Die ANC is altyd gou om te sê hy praat nie uit die huis uit nie.”

Mboweni het Woensdagoggend by die bekendstelling van nuwe gedenkmunte op Konstitusieheuwel in Johannesburg gesê daar is nie sprake daarvan dat die mandaat van die Reserwe­bank verander gaan word nie.

Die mandaat word deur die Grondwet beskerm.

“Ek weet nie wat die ­probleem is (wat mense) met die mandaat het nie,” sê Mboweni.

Lesetja ­Kganyago, ­president van die Reserwe­bank, het in sy voordrag op ­dieselfde ­geleentheid, waar 'n reeks gedenkmunte wat 25 jaar van demokrasie gedenk bekend gestel is, ook herhaaldelik gesê die Reserwebank se mandaat word deur die Grondwet beskerm.

Godongwana het Dinsdagaand reeds in 'n verklaring ontken die ANC het besluit om die bank se mandaat uit te brei.



SOOS 1980'S

Prof. Jannie Rossouw, hoof van Wits se Skool vir Ekonomiese en Sakewetenskappe, waarsku die jongste twis ­herinner aan die 1980's toe die Reserwe­bank ook nie 'n duidelike mandaat gehad het nie.

In dié tyd het inflasie tot so hoog as 15% per jaar geklim en selfs in 'n stadium tot bo 20% gestyg.

As die ANC die Reserwebank in dié rigting stuur, sal Suid-Afrika terug wees op die pad van hoë ­inflasie, en sal dit nie lei tot 'n inklusiewe ekonomie wat werk skep nie, sê hy.

Die politieke ­ontleder Theo Venter van die Noordwes-Universiteit se sakeskool in Potchefstroom, sê die moontlike verandering van die ­Reserwebank se mandaat is 18 maande gelede al op die ANC se ­nasionale kongres by Nasrec in ­Johannesburg bespreek, maar geen besluit is toe daaroor geneem nie.

“Wat nou duidelik is, is dat pres. ­Ramaphosa in beheer is van die uitvoerende gesag (sy kabinet), maar nie oor die ­gesprekke wat binne die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) plaasvind nie.”

Die gebeure moet ook gesien word teen die agtergrond van die debat oor “witmonopoliekapitaal” en die druk van die EFF oor die Reserwebank.

Die EFF wil hê die ­Reserwebank moet genasionaliseer word.

“Wat ook duidelik is, is dat iets besig is om binne die ANC te ­manifesteer.

“Daar is een groep wat nader aan die EFF wil beweeg om hulle so te neutraliseer, terwyl 'n ander groep niks van die EFF wil weet nie, en dit ook sê,” sê Venter.

“Die ekonome met wie ek gepraat het, is in sak en as oor Magashule se uit­lating.”

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!