Resessie: Ekonomie gaan in 2020 óók pyn voel

Vir die volle 2019 was ekonomiese groei slegs 0,2%, die laagste in ’n dekade.
Hanlie Stadler





Trek die gordel baie styf in, want 2020 gaan nie juis makliker wees as 2019 nie. Nóg werkverliese lê voor te midde van trae ekonomiese groei, waarvoor Eskom en die Covid-19-virus die skuld moet dra.

So waarsku die onafhanklike ekonoom Elize Kruger nadat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Dinsdag bekend gemaak het die land is nou amptelik in ’n resessie.

Die bruto binnelandse produk (BBP) het vir twee agtereenvolgende kwartale gedaal, met 0,8% in die derde kwartaal van 2019 en met 1,4% in die vierde kwartaal.

Vir die volle 2019 was ekonomiese groei slegs 0,2%, die laagste in ’n dekade.

Kruger sê die vooruitsig vir 2020 lyk droewig. Beurtkrag, swak vertroue onder huishoudings én maatskappye, hoë werkloosheid en die styging in kragtariewe is die plaaslike faktore wat die ekonomie knou.

Dié plaaslike uitdagings gaan vererger word deur die uitbreking van die covid-19-virus.

Die Momentum-ontleders Herman van Papendorp en Sanisha Packirisamy sê in die lig daarvan dat dit lank kan neem voordat wêreldhandel ná die virus normaliseer, en ook in die lig van Eskom se waarskuwing dat beurtkrag nog 18 maande lank kan duur, verlaag hulle hul verwagting vir ekonomiese groei vir 2020 van 0,8% tot net 0,5%.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het onlangs gesê die verwagting is dat China se ekonomie in die eerste kwartaal weens die virus ingekrimp het. China is Suid-Afrika se grootste handelsvennoot – in Januarie was dit die bestemming van 11,7% van die land se uitvoer en Chinese produkte verteenwoordig 19,8% van invoer.

Die verwagting is dat wêreldgroei as geheel vanjaar met tussen 0,25 en 0,75 van ’n persentasiepunt laer gaan wees weens die virus – en dís as die virus in bedwang gebring word, sê Kganyago.

Verskeie Suid-Afrikaanse maatskappye – onder meer Shoprite, Woolworths, Massmart en Bidcorp – het die afgelope weke gewaarsku dat die virus hulle geld kos en hul sake ontwrig.

Kruger sê Suid-Afrikaners moet hulself voorberei op nóg potensiële werkverliese. Sy verwag dat die ekonomie verder gaan inkrimp.

Een van die syfers wat Kruger die meeste bekommer, is dat die tersiêre sektor – dienste – in die vierde kwartaal met 2,9% ingekrimp het. Dié sektor was tot dusver betreklik veerkragtig.

Die onafhanklike makelaar Karin Richards sê op Twitter vir haar is die kommerwekkendste syfer die 10%-daling in vastekapitaalvorming, dus beleggings in bates soos geboue, masjinerie en motors.

RENTEKOERS

Die swak vooruitsigte vir die ekonomie, tesame met lae inflasie, behoort die Reserwebank eintlik te oorreed om op 19 Maart die rentekoers vir die tweede keer vanjaar te verlaag, reken Kruger. Sy wys ook daarop dat die Reserwebank in Januarie voorspel het dat die olieprys in 2020 gemiddeld US$66,50 per vat gaan beloop, maar die prys het intussen tot net US$52 per vat geval.

Maar met Moody’s Investors Service wat op 27 Maart oor die land se kredietgradering besluit, reken Kruger die groot vraag is of die Reserwebank “volsterkte in risikobestuur-modus” oor Moody’s se besluit sal wees, “of sal die plaaslike en wêreld- ekonomiese toestande harder praat?” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!