Resessie gaan voortknyp in 2019
Resessie gaan voortknyp in 2019

Resessie gaan voortknyp in 2019

Die regering se hoop om vanjaar die ekonomie uit die as te hê, het beskaam.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het gister by monde van sy Namibiese sendingshoof, mnr. Geremia Palomba, gesê die land se ekonomie sal waarskynlik steeds nie vanjaar positief groei nie.

Dít sal beteken die land bevind hom vir die derde agtereenvolgende jaar in ’n resessie.

Mnr. Calle Schlettwein, die minister van finansies, het vroeër vanjaar gesê die regering hoop die land se ekonomie sal vanjaar met tot 1% van die bruto binnelandse produk (BBP) groei.

Die BBP verteenwoordig die totale waarde van ’n land se goedere vervaardig en dienste gelewer binne een jaar.

REGERING GEE IMF GELYK

Gister het Schlettwein op ’n nuuskonferensie in Windhoek gesê die regering stem saam met die IMF se jongste bevindings oor die land se ekonomie.

Volgens Palomba beleef die Namibiese ekonomie tans ’n herbalanseringsproses wat met die voortgesette inkrimping gepaard gaan.

Verlede jaar het die land hom vir die tweede agtereenvolgende jaar in die rooi bevind nadat “vorige ekonomiese stimuli verdwyn het en die regering aangehou het met konsolidasie om openbareskulddinamika te stabiliseer”.

Hy sê die waghond verwag dat die ekonomie geleidelik sy kop sal optel. “Groei sal na verwagting matig negatief bly in 2019 omdat ’n treurige reënseisoen en verlaagde diamantvervaardiging swaar op die voorlopige herstel rus.”

Palomba sê die gety sal waarskynlik eers volgende jaar verander. “Groei sal na verwagting in 2020 positief word.”

Die verwagting is voorts, sê hy, dat die ekonomie op lang termyn met tot 3% van BBP sal groei.

3% NIE GENOEG

Hy het egter gewaarsku 3%- ekonomiese groei is nie genoeg om Namibië se ongelykheid volhoubaar aan te spreek nie.

In hierdie stadium word groter groei deur die land se tanende produktiwiteits- en meegaande mededingendheidsvlakke gekortwiek, sê hy.

Die IMF-baas het gister gesê die land se produktiwiteit is tans die laagste sedert onafhanklikwording.

Hy sê dalende verwagte inkomste uit die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sacu) en fiskale glipse kan die regering se pogings om openbareskuldvlakke bestendig te kry, in die wiele ry. “Namibië se hoofuitdaging is om spesifieke beleidsrigtings te identifiseer om die regering se fiskale konsolidasieplanne uit te voer,” sê hy.

Terselfdertyd moet die regering strukturele hervorming in werking stel om langtermyn- ekonomiese groei aan te help, het hy gesê.

Palomba het gesê dit is uiters belangrik vir die regering om sy 2019-’20-begroting soos dit tans staan, uit te voer om die balans te handhaaf tussen die skuldvlakke bestendig hou en die ekonomie ’n hupstoot te gee.

Omdat druk aan die bestedingskant styg, is dit veral belangrik om by die verwagte begrotingstekort te hou, het hy gemaan.

SCHLETTWEIN Sê OOR SALARISREKENING

Intussen het Schlettwein gesê die regering het geen ander keuse as om te hou by sy voornemene om die staat se salarisrekening met 2% per jaar te probeer sny nie.

In dié stadium, sê hy, is afleggings nog nie op die tafel nie omdat die regering nie verdere olie op die werkloosheidvuur wil gooi nie.

Hy sê salarisse beloop 51% van die staat se uitgawes en as ’n mens staatsdienswerkers se mediesefondsbyvoordeel byreken, verteenwoordig dit 62% van alle uitgawes.

Schlettwein sê wanneer die regering se rente op skuld bygetel word, beloop dié bedrag 73% van die regering se besteding. “Die salarisrekeningverlaging is ’n moet.”

Die span van die IMF was die afgelope twee weke in die land op ’n verpligte jaarlike ter plaatse ondersoek waartydens lidlande se makroëkonomiese prentjie ontleed word.

Oor die nuwe raamwerk vir gelyke ekonomiese bemagtiging (NEEEF) het Palomba gesê die gesloer met beleidsrigtings soos dié gee aanleiding tot onsekerheid. “Gewoonlik is onsekerheid nie regtig goed vir beleggings nie.”

Hy sê ’n land se finansiële sektor – waarvan een derde in Namibië uit banke bestaan – ervaar dikwels die meeste druk gedurende ’n tydperk van uitgerekte resessie.

Hul bevinding is dat die land se finansiële sektor egter goed vaar onder die omstandighede. Maar die regering moet deurgaans dié sektor goed monitor, het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!