Resessie klou verbete
Van die onaangename verrassings in die jongste ekonomiese groeisyfers is konstruksie, wat opnuut in die moeilikheid is.
Jo-Maré Duddy
Met groei van -0,8% in die derde kwartaal het Namibië sy taaiste drie maande nóg vanjaar beleef en sit die twee swaargewigte wat die ekonomie se wiele laat rol – die verbruiker en die staat – steeds in die rooi vas.
Namibië is reeds sedert die einde van die derde kwartaal in 2016 amptelik in 'n resessie. Met die jongste syfers wat 10 opeenvolgende kwartale van negatiewe groei toon, meen sommige ontleders die land is in 'n depressie, veral gegewe die hoë werkloosheidsyfer.
Aangepaste syfers, wat gister deur die Namibië Statistiekagentskap (NSA) vrygestel is, toon die ekonomie het in die eerste kwartaal vanjaar met -0,1% gegroei, gevolg deur -0,3% in die volgende een.
Gemeet aan die bestendige pryse van 2010, wat inflasie in ag neem, het bykans N$27,1 miljard die afgelope kwartaal in die ekonomie ingevloei. Dit is sowat N$694 miljoen minder as in die derde kwartaal van 2015 – die laaste derde kwartaal waarin die ekonomie positief gegroei het.
Geldgewys het klein- en groothandel die afgelope kwartaal meeste tot die bruto binnelandse produk (BBP) bygedra. Die sektor het egter reeds agt opeenvolgende kwartale van negatiewe groei agter die rug. Soos in die tweede kwartaal, het klein- en groothandel die afgelope kwartaal met -5,8% gegroei.
Die sektor het presies twee jaar gelede laas positief gegroei. Gemeet aan bestendige 2010-pryse het dit toe sowat N$3,8 miljard tot die BBP bygedra. Dié bedrag het in die afgelope kwartaal met sowat 'n halfmiljard Namibiese dollar tot bykans N$3,3 miljard gekrimp.
Staat
Openbare administrasie, wat die tweede grootste BBP-steunpilaar is, het met -1,8% gegroei. Sedert die regering in die tweede helfte van 2016 met begrotingskonsolidering begin het, ry dié sektor wipwa tussen positiewe en negatiewe groei. Vanjaar het dit nog net negatief gegroei: -0,9% in die eerste kwartaal en -1,7% in die volgende een.
Gesondheid en onderwys – waarin die staat ook 'n reuse-aandeel het – boer ook in die rooi.
Onderwys het die afgelope kwartaal tot groei van 0,1% herstel ná dit die vorige twee kwartale met onderskeidelik -2,3% en -1,8% gegroei het.
Gesondheid groei sedert die laaste kwartaal van 2017 negatief en het in die afgelope een met 5,4% ingekrimp. In die eerste twee kwartale vanjaar was groei -4,5% en -7,6% onderskeidelik.
Konstruksie
Konstruksie het in die eerste twee kwartale vanjaar telkens met groei van sowat 24% herstel ná dit die hele 2016 én 2017 in 'n diep resessie was. Die afgelope kwartaal was konstruksie egter opnuut in die rooi met groei van -6,5%.
Die volgende sektore is almal reeds vier opeenvolgende kwartale in negatiewe groei gedompel: Visserye (-10,6% die afgelope kwartaal), vervaardiging (-0,6%), asook hotelle en restaurante (-0,6%), 'n maatstaf vir toerisme.
Sektore wat die afgelope kwartaal beter as dieselfde kwartaal in 2017 gevaar het, was elektrisiteit en water (13,5% teenoor 3,7%), asook vervoer en kommunikasie (2,5% teenoor 0,4%).

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie