Resessie of Groot Depressie?

Volgens ’n landbou-ekonoom is die buurland se ‘tegniese resessie’ veel erger as dít.
Johan Willemse – Die jongste ekonomiese groeisyfers – dié van die tweede kwartaal – het heelwat debat ontlok oor wat nou eintlik ’n resessie daarstel en wat gedoen kan word om Suid-Afrika se ekonomie aan te help.

Talle ekonome voer aan dat die tegniese resessie waarin Suid-Afrika is, net tydelik is en nie so ernstig is nie. Selfs adj.pres. David Mabuza het in die parlement gesê hy stem nie saam dat die land in ’n tegniese resessie is nie.

Ongelukkig verskil ek van hulle.

Die definisie van ’n “tegniese” resessie is twee opeenvolgende kwartale van negatiewe groei op ’n kwartaalgrondslag, met ander woorde vergeleke met die voorafgaande kwartaal.

In die eerste kwartaal het die ekonomie met 2,6% gekrimp teenoor die laaste kwartaal van 2017, en in die tweede kwartaal was die inkrimping 0,7% teenoor die eerste kwartaal.

Veral landbou het agteruitgeboer. Sy skerp inkrimping van 29,2% in die tweede kwartaal volg op die nog skerper inkrimping van 33,6% in die eerste. Daar is egter ook ander sektore wat krimp.

Landbou se groei word natuurlik teen ’n baie hoë basis vergelyk. 2017 was ’n baie goeie oesjaar met ’n rekordmielieoes en goeie vrugteproduksie en -uitvoer, veral in die Wes-Kaap.

Daar is al vroeg gewaarsku dat landbou se bydrae in 2018 laer gaan wees as in 2017 omdat 2018 se someroeste heelwat kleiner was as 2017 se rekordgraanoeste en baie laat ingesamel is.

Na wat berig word het vrugte-produksie en -uitvoer met sowat 15% gedaal in 2018 (hoofsaaklik in die eerste helfte van die jaar) weens die droogte in vrugteproduserende gebiede. Veeslagtings en eierproduksie is ook laer in 2018 weens kuddebou en die uitwerking van voëlgriep.

Landbou gaan na my mening vir die res van 2018 (gemeet teen 2017) nie veel positiewe groei toon nie. Die uitwerking wat die onsekerheid oor grondonteiening sonder vergoeding het op investering en later op produksie, gaan ook nie veel help op mediumtermyn nie.

Dinge is erger as wat dit lyk

Ek dink egter die stand van die ekonomie is baie slegter as ’n “tegniese” resessie van twee opeenvolgende kwartale se negatiewe groei – vir die landbou en ander sektore wat inkrimp.

Daar is sedert 2008 ’n langdurige verswakking in verskeie ekonomiese aanwysers. Ek dink ons moet verby die “tegniese” debatte kom en ophou om perdedrolle vye te noem!

Die ekonomie is al jare lank in ’n ernstige daalfase.

Daar is sekerlik talle definisies vir ’n ekonomiese depressie. Sonder om in ekonomiese teorieë te verval, wil ek ’n gangbare definisie aan die hand doen – dit is ’n langertermynafswaai in ekonomiese bedrywighede.

Dit is slegter as ’n resessie, wat net ’n tydelike afswaai is in ’n normale sakesiklus. ’n Depressie word beskou as ’n unieke soort resessie wat ’n lang en voortdurende afname in ekonomiese bedrywighede is.

Dit word ook gekenmerk deur stygende werkloosheid, dalende produksie namate verbruikers minder bestee en produsente hul produksie laer aanpas en investering uitstel. Daar is natuurlik ook ander kenmerke, soos die beskikbaarheid van krediet.

Na my mening beskryf dít die huidige stand van sake.

Grafiek 1 toon die ekonomiese groeikoers van sowel landbou as die totale ekonomie. Dit wys die dalende tendens in ekonomiese groei die laaste paar jaar. Dit is nie vreemd dat ons tans in negatiewe gebied is nie.

Grafiek 2 toon die groeikoers van private huishoudelike besteding. Die reële groeikoers hiervan daal sedert 2010 voortdurend en was ook in die tweede kwartaal van 2018 negatief.

Grafiek 3 toon Statistieke Suid-Afrika (SSA) se syfers op grond van die eng definisie van werkloosheid. Ek gebruik telkens vierdekwartaalsyfers, met die tweedekwartaalsyfer vir 2018 om die tendens oor tien jaar te toon. Die stygende tendens in die amptelike werkloosheidsyfer is onmiskenbaar.

Ons kan verskil oor die “tegniese” definisie van ’n sogenaamde resessie en of dit dalk ’n depressie is.

Maar die bronne wys dat verskeie ekonomiese aanwysers voortdurend verswak.

Ons moet begin erken dat ons in groot ekonomiese moeilikheid is en dat ’n drastiese regrukplan vir die ekonomie nodig is om die fundamenteel verswakkende tendense om te draai.

Hopelik is daar kundiges in die regerende party wat dit verstaan en sal hulle die moed kry om oor die volgende aantal maande drastiese beleidshervormings deur te voer. Daar ook al baie geskryf oor watter veranderinge nodig is. Die aanduidings is tog dat die realiteite begin deurdring.

Hopelik is ons elke dag nader aan die onderste draaipunt en sal die hoop op herstel nie beskaam nie deurdat die nodige beleidsaanpassinge in die afsienbare toekoms gedoen sal word.

· Prof. Johan Willemse is ’n landbou-ekonoom van Agrimark Consultants en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!