Resessie verslap sy greep op Namibië

Namibië spoeg steeds rooi eko­nomiese groeisyfers uit, maar vertoon die beste sedert die tweede kwartaal verlede jaar.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy



Hoewel die Namibiese ekonomie sedert die tweede kwartaal van 2016 geen of negatiewe groei toon, het die resessie se houvas op die land verminder.

Sowat N$27,6 miljard het in die eerste drie maande vanjaar deur die ekonomie gevloei. Dié bedrag, wat aan konstante pryse van 2010 gemeet en dus vir inflasie aangepas is, is ongeveer N$32 miljoen minder as die bruto binnelandse produk (BBP) van die eerste kwartaal in 2017. Dit beteken Namibië se ekonomie het die afgelope kwartaal met bykans -0,12% gegroei.

Syfers wat gister deur die Namibië Statistiekagentskap (NSA) vrygestel is, toon dié inkrimping is egter beduidend kleiner as die -1,5% van die laaste kwartaal van verlede jaar en die -1,1% van die derde kwartaal. In die eerste kwartaal van 2017 het die ekonomie met -0,4% gegroei.



Goeie nuus

Die beste nuus in die jongste data is konstruksiebedryf wat ná twee jaar uit 'n resessie gewikkel is. Dié sektor het in die eerste kwartaal met 23,7% gegroei.

Geldgewys het dié bedryf vir bykans N$1,29 miljard in die ekonomie gesorg – sowat N$247 miljoen meer as die eerste kwartaal van 2017. Die laaste keer dat konstruksie soveel geld in die ekonomie ingepomp het, was in die laaste kwartaal van 2016. Dit is egter steeds aansienlik minder as die tussen N$1,7 miljard en bykans N$2 miljard wat konstruksie in 2015 kwartaalliks tot die ekonomie bygedra het.

Die NSA skryf die konstruksiebedryf se beter vertoning toe aan groter regeringsbesteding en die hoër waarde van voltooide geboue.



Verbruiker

Op die verbruikersfront lyk sake ook beter. Met groei van -1,3% die afgelope kwartaal was dit weliswaar groot- en kleinhandel se sesde opeenvolgende kwartaal in die rooi, maar die inkrimping is die kleinste sedert dié sektor negatief begin groei het.

Die NSA skryf die voortslepende resessie in dié sektor aan swak motorverkope toe. Supermarkte, klerewinkels en groothandelaars het egter “relatief” goed gevaar.

Mnr. Dylan van Wyk, 'n senior ontleder by Cirrus Capital, het in reaksie gesê verbruikersbesteding bly waar­skynlik vanweë laer reële besteebare inkomste onder druk.

Groot- en kleinhandel het in die kwartaal onder oorsig vir bykans N$3,2 miljard in die ekonomie gesorg, sowat 'n half miljard minder as in die laaste kwartaal van verlede jaar. ­Vergeleke met die eerste ­kwartaal in 2017 het dié sektor se bydrae met sowat N$43 miljoen gekrimp.



Staatsdiens, mynbou

Begrotingsbesnoeiing het die staatsdiens die afgelope kwartaal opnuut in die rooi gedompel ná dit in die laaste kwartaal met 0,7% gegroei het. Dié sektor se ekonomiese inspuiting van bykans N$3,15 miljard was N$94 miljoen minder as die eerste kwartaal in 2017. Dit verteenwoordig jaarlikse groei van -2,9%.

Met groei van 4,7% het mynbou die swakste vertoning sedert die laaste kwartaal van 2016 gelewer. Geldgewys het dié sektor egter steeds sowat N$2,7 miljard in die ekonomie gestort.

Volgens die NSA het sink- en loodproduksie die afgelope kwartaal ingekrimp, terwyl goud- en diamantproduksie gedaal het.

In teenstelling hiermee het die nuwe Husab-myn die uraansubsektor met 56,3% laat bult. Met produksie by Langer Heinrich wat binnekort gestaak gaan word en die myn wat op 'n versorging- en instandhoudingsgrondslag geplaas word, sal dié groeineiging waarskynlik nie voortduur nie, sê Van Wyk.



Visserye, vervaardiging

Met groei van -13,6% het visserye sy stormagtigste kwartaal sedert die vierde kwartaal in 2014 agter die rug. Die N$727 miljoen wat dié sektor tot die BBP bygedra het, was N$114 miljoen minder as in die ooreenstemmende drie maande in 2017.

Volgens die NSA het swak vangste, stygende brandstofpryse en 'n gunstige wisselkoers tot dié bedryf se kopsere bygedra.

Die vervaardigingsektor is nou amptelik in 'n resessie ná twee opeenvolgende kwartale van negatiewe groei: -2,1% die afgelope kwartaal en -12,5% in die vierde kwartaal van 2017.

Vergeleke met die eerste kwartaal verlede jaar was dié sektor se bydrae van sowat N$2,6 miljard nou ongeveer N$57 miljoen minder. Die NSA skryf dié afname hoofsaaklik aan die verwerking van minerale toe.



Landbou

Landbou het sy swakste kwartaal sedert die laaste drie maande van 2014 beleef en met net 1,4% gegroei. As sulks het dit net meer as N$1 miljard tot die BBP bygedra.

Die lewendehawe-subsektor was hoofsaaklik vir die skraal groei verantwoordelik, sê die NSA. Uitvoere op die hoef na Suid-Afrika het aansienlik toegeneem sonder dat waarde toegevoeg is. Dit het tot 'n groot afname in die inventaris en gevolglik disinvestering in kuddes gelei.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!