Resessie wurg Namibië

Nie eers die wêreldwye ­finansiële krisis van 2008 kon die Namibiese ekonomie vier kwartale ná mekaar in die rooi dompel nie.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy - Die ekonomie wat in die eerste kwartaal vanjaar sowat N$750 miljoen armer was as in dieselfde drie maande in 2016, het Namibië vir die vierde opeenvolgende kwartaal in 'n resessie gedompel.
Dit is die slegste vertoning van die ekonomie sedert minstens 2001, toon die Namibië Statistiekagent­skap (NSA) se databasis van hergebaseerde BBP-groei.
“Dis tyd om die eufemisme van 'tegniese resessie' te los en dit te noem wat dit is,” het die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR) in reaksie op die NSA se jongste syfers getwiet.
Syfers wat gisteroggend deur die NSA vrygestel is, toon Namibië se ekonomie het in die eerste kwartaal in 2017 op 'n jaargrondslag met -2,7% gegroei. Gemeet teen konstante pryse van 2010 was die land se bruto binnelandse produk (BBP) sowat N$26,9 miljard - N$751 miljoen minder as in die eerste kwartaal van 2016.
Namibië se ekonomie groei sedert die tweede kwartaal verlede jaar negatief. Toe was groei -1,9%, gevolg deur -1,2% in die derde kwartaal en -1,4% in die laaste kwartaal, volgens hersiene NSA-syfers.
Nie eers die wêreldwye finansiële krisis van 2008 kon die Namibiese ekonomie vier kwartale ná mekaar in die rooi dompel nie. Tydens dié krisis het Namibië drie opeen­volgende kwartale van negatiewe groei ­aangeteken. In die laaste ­kwartaal van dié jaar het die ekonomie met -4,8% gegroei, gevolg deur -6,1% en -4,4% in die eerste twee kwartale van 2009.
Konstruksie
Konstruksie het met -44,9% gegroei – die vyfde opeenvolgende kwartaal dat dié sektor negatief groei. Hoewel die sektor al voorheen sulke lang tydperke van negatiewe groei beleef het, is die jongste inkrimping van bykans 45% die grootste op die NSA-databasis.
Konstruksie was die hele 2002 én die eerste kwartaal van 2003 ook in die rooi. Met die finansiële krisis het dié sektor sewe opeenvolgende maande negatief gegroei: Die laaste kwartaal van 2008, die hele 2009 én die eerste twee kwartale van 2010.
Die boubedryf steier vanweë drastiese begrotingsbesnoeiing op ka­pitaalprojekte. Volgens die NSA het die reële waarde van regerings­projekte met 50,9% gekrimp. Daarenteen is bloot 'n afname van 23,3% in die­selfde kwartaal verlede jaar waargeneem.
Konstruksie se bydrae tot die ekonomie in die eerste kwartaal vanjaar was 'n skrale N$904 miljoen – N$736 miljoen minder as in dieselfde kwartaal in 2016 en N$319 miljoen minder as in die laaste kwartaal verlede jaar. Dit is die eerste keer sedert die tweede kwartaal van 2013 dat konstruksie minder as N$1 miljard in die ekonomie inpomp.
Verbruiker
Verbruikers wat hoofsaaklik vanweë hul skuldlas vuisvoos is, het die groot- en kleinhandel vir die eerste keer sedert 2008 in 'n resessie laat beland.
Dié sektor het in die eerste kwartaal vanjaar met -7,4% gegroei ná dit die vorige kwartaal groei van -3,2% aangeteken het. Groot- en kleinhandel se bydrae tot die eerste kwartaal vanjaar se BBP was sowat N$3,2 miljard, ongeveer N$258 miljoen minder as in dieselfde kwartaal in 2016 en N$744 miljoen minder as in die laaste kwartaal. Dit is die laagste BBP-bydrae sedert die tweede kwartaal van 2014.
Steeds tuimelende voertuigverkope het 'n groot rol gespeel, maar supermarkverkope het van 9,5%-groei in die eerste kwartaal van 2016 tot 0,6% geval. Klereverkope se groei was 4,2% vergeleke met 6,2% 'n jaar gelede.
Regering
Die staatsdiens het bykans N$3,27 miljard in die ekonomie ingepomp en met 0,7% teenoor die eerste kwartaal verlede jaar gegroei.
Vervaardiging het N$272 miljoen minder tot die BBP bygedra as in die eerste drie maande van 2016 en sodoende met -10,7% gegroei – die laagste sedert die eerste kwartaal van 2015. Dit is hoofsaaklik weens inkrimpings in die verwerking van basismetale en vleis.
Toerisme het met -9,3% gegroei en sy BBP-bydrae was N$43 miljoen kleiner.
Ligpunte
Beide landbou en mynbou het goeie kwartale agter die rug.
Landbou het met 10,5% gegroei teenoor -4,3% in die eerste kwartaal van 2016 en -13% in die laaste kwartaal. Mynbou se groei was 16,8% vergeleke met -2,2% en 3,2%.
In die kwartaal onder oorsig het mynbou meer as N$2,65 miljard tot die ekonomie bygedra – 'n styging van N$381 miljoen teenoor die eerste drie maande van 2016 – en landbou se bydrae het met N$86 miljoen tot N$910 miljoen gestyg.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!