Resiesduiwe is Dieter se lewe
Ná bykans 50 jaar en ’n leeftyd se stories het Dieter Lucks afskeid geneem van sy groot liefde.
Tanja Bause – “As die gogga vir resiesduiwe jou een keer byt, raak jy nie van hom ontslae nie. Dis nie iets wat jy vir iemand kan leer nie, dis in jou bloed,” sê die 79-jarige Dieter Lucks.
Vir die afgelope sowat 50 jaar was Dieter ’n ywerige teler van wedvlugduiwe, medestigter van die Windhoek Resiesduifklub en mededinger in dié sport. Ná soveel dekades het hy met ’n swaar hart besluit om halt te roep. Hy het reeds sy duiwe weggegee en sy hokke afgebreek.
“Ek het al op skool in die koshuis resiesduiwe in hokke gehad. Duiwe was nog altyd deel van my lewe. ’n Oom het daai tyd vir ons duiwe gegee en ons het draad gesoek en ’n hok gebou. Dit was ’n eenvoudige hok en die draad was verkeerd. Saans het die katte gekom en kon deur die draad hul pote in die hok kry en die duiwe vang. Ons het elke nag duiwe so verloor.”
Aan die einde van ’n skooljaar het ’n vriend van Dieter by die skoolhoof van ’n ander skool duiwe gekry en hy het tien van hulle vir Dieter gegee.
“Ek het hulle in ’n boks gesit en huis toe na die plaas by Gobabis geneem. Daar aangekom, het ek besef ek het nie ’n hok nie en moes vinnig ’n plan maak. Ek het ’n ou boks gevat waarin ’n klavier was en hulle daarin gesit. Ná vier weke het hulle eiers gelê en ek het gedink ek kan hulle nou laat vlieg omdat hulle altyd na hul neste toe sal terugkom. Ek het die boks oopgemaak en hulle het een ná die ander weggevlieg. Binne twee dae het ek niks meer duiwe gehad nie, omdat hulle almal terug Windhoek toe gevlieg het. ’n Resiesduif kan nie verander nie; hulle sal altyd terug na hul huis vlieg.”
Volgens Dieter dink sommige mense jy kan vir ’n wedvlugduif ’n bestemming in die oor fluister, dan gooi jy hom in die lug en hy vlieg soontoe.
“Dis snert. Hulle kan dit nie doen nie. Hulle kan slegs na hul eie huis toe terugvlieg.”
In die Tweede Wêreldoorlog is duiwe gebruik om boodskappe heen en weer te stuur.
“Die mense het die duiwehok op ’n voertuig vasgemaak en vandag was die voertuig hier en môre dalk 50 kilometer verder. Die duif sal dan hoog opstyg en die hok soek en soontoe vlieg. Hulle vlieg terug huis toe.”
Ná skool het Dieter Walvisbaai toe getrek en by visserye begin werk. Hy het ook by die duiweklub aangesluit en was vir sy tien jaar op die kusdorp ’n aktiewe lid van die klub, tot hy na waterwese in Windhoek verplaas is. Vir twee jaar het hy opgehou om met duiwe te vlieg.
“Ek het weer klein begin en stadig uitgebrei en groter hokke gebou en nog ’n duif bygekry en nog een en nog ’n hok vergroot.”
In 1982 was hy ’n stigterslid van die Windhoek Resiesduifklub (WRDK).
“Daar was drie klubs in Windhoek, maar hulle het stryery opgedoen en ons het een klub gestig. Vroeër jare was die vlieg van duiwe baie groot, nie net in Windhoek nie, maar landswyd. Ons het dit altyd die arm man se resiesperde genoem. Vandag is die aanhou van duiwe en deelname aan wedvlugte baie duur. Dis amper nou ’n rykmansport.”
Vandag het die WRDK 15 lede en waar elke dorp vroeër sy eie duiweklub gehad het, is daar vandag slegs een elk in Windhoek, Walvisbaai en Swakopmund aktief en een vir Tsumeb en Grootfontein.
“Ek het ’n foto wat in 1935 van die duiweklub geneem is. Duiwe word al lank voordat dié foto geneem is in Windhoek gevlieg.”
TEEL
’n Paar teelduiwe sal hul lewe lank bymekaarbly, behalwe as die teler hulle skei.
“Ons laat die paar twee tot drie keer in die broeiseisoen wat in die lente is teel en dan skei ek hulle. As ons hulle bymekaarlos, dan sal hulle aanhoudend broei en ek het nie so baie duiwe nodig nie. Ek weet ek het tussen 40 en 50 nodig, want meer kan ek nie hanteer nie.”
Dieter het twee broeihokke. Sodra hy genoeg kuikens het, skei hy die pare en sit hy die 15 wyfies in een hok en die 15 mannetjies in die ander hok.
“Tien dae nadat ek hulle aan die begin van die broeiseisoen bymekaargebring het, lê die wyfie haar eiers. Agtien dae later broei die kuiken uit. Die wyfie ontwikkel kropmelk; dis ’n dik geel vloeistof wat sy in die kuiken se bek braak. Sy doen dit vir so vier tot vyf dae en dan vat die mannetjie oor wat ook kropmelk ontwikkel. So word die kuiken vir sowat ’n week gevoer, dan vreet die wyfie haar krop vol kos wat sy dan weer in die kuiken se bek braak. Sy maak haar hele krop in die kuiken se bek leeg; soms word die krop van die kuiken groter as die kuiken self.”
Wanneer die kuiken sowat ’n maand oud is, word hulle van die ouers geskei. Die kuiken word dan in die vlieghok gesit en moet daaraan gewoond raak.
“Nadat hulle so ’n week in die hok is, maak ek die hok oop en die kleintjies loop uit, kyk rond en hardloop vinnig weer terug in die hok. Dis baie oulik, want hulle is baie bang, maar dis ook baie senutergend, omdat jy nooit weet hoeveel van jou duiwe vlieg weg en hoeveel kom terug nie.”
OPLEIDING
Sodra die kuikens groot genoeg is, begin Dieter hulle leer vlieg.
“Ek maak die hokke oop en jaag hulle op. Die meeste vlieg sommer vanself, maar jy kry altyd die lui een wat opgejaag moet word. Hulle moet opstyg en verdwyn. Hulle moet rondvlieg en ná ’n uur terugkom en in die hok ingaan.
“Sodra hulle dit regkry, dan begin die regte opleiding. Hulle word geplaas in wat ons mandjies noem en op my bakkie gelaai. Die eerste keer ry ek Aris toe. Ek maak die hokke oop en hulle moet huis toe vlieg.”
Die oefenvlugte se afstande word algaande langer. Ná Aris kom Groot Aub, Wortel, Rehoboth en so moet die duif al verder en verder huis toe vlieg.
Duiwe vlieg net in die wintermaande, van Junie tot September. In die winter vlieg die duiwe elke naweek. Hulle word in twee groepe ingedeel – jong duiwe en volgroeide duiwe.
“Die duiwe wat vanjaar uitbroei, vlieg volgende jaar as jong duiwe; die ander is almal ou duiwe. Tydens wedvlugte word die jonges en oues ’n uur uitmekaar vrygelaat en vlieg huis toe.”
WEDVLUGTE
Vir ’n wedvlug word al die duiwe van die klub op een bakkie gelaai en vervoer na die plek van waar hulle moet vlieg.
Op die bakkie is 24 klein hokke waarin elk 40 duiwe pas.
“As ek 23 duiwe wil laat vlieg, word hulle een-een in ’n hok gesit saam met ander mense se duiwe. Dit word gedoen sodat niemand agterna kan beweer jy het gewen omdat jou hok eerste oopgemaak is nie. Duiwe wen dikwels met net ’n paar sekondes. So, alles moet so regverdig as moontlik wees.”
As ’n wedvlug byvoorbeeld vanaf Keetmanshoop is, word die afstand vanaf Keetmanshoop tot by elke duiwehok gemeet.
“Ek woon in die suidelike deel van Windhoek en ’n ander hok is in die noordelike nywerheidsgebied. Vir regverdigheid het ’n landmeter die afstand van Keetmanshoop tot ’n sentrale punt in Windhoek gemeet en elke duif se werklike vliegafstand word bereken.”
Die eerste wedvlug vir die seisoen begin altyd op Gibeon en van daar word die afstande al hoe langer.
“Ons mag ongelukkig deesdae nie meer oor die grens gaan met ons duiwe nie, omdat Suid-Afrika bang is vir voëlgriep. Vroeër jare het ons uit Bitterfontein, Upington, Marydale en sulke plekke in Suid-Afrika gevlieg. Nou is ons verste wedvlugte vanaf Ariamsvlei en Noordoewer. Ons kan ook nie Noorde toe gaan nie, want ons kry nie regtig afstand nie. As ons Katima Mulilo toe gaan, is die ry ver, maar die duif vlieg reguit oor Botswana en vir hulle is dit nie ver nie.”
WRDK laat sowat 500 duiwe tydens elke wedvlug vlieg. Die hokke word gelyk oopgemaak en die duiwe vlieg met een groot gefladder uit.
“Die duiwe styg op, vlieg een keer in die ronde, kry hul rigting en vlieg huis toe. Die swerm begin soos ’n bal en ná sowat ’n uur lyk hul formasie soos ’n sigaar wat lank uitgerek is namate die vinniger duiwe hul voorsprong rek.
“’n Duif kan meer as 1 000 kilometer vlieg. Toe ons nog van Bitterfontein af gevlieg het wat sowat 800 kilometer ver weg is, kon die duif met gunstige weer daai selfde aand by die huis wees. In ideale wind- en weersomstandighede kan hulle tussen 1 500 en 1 600 meter per minuut vlieg. Dis sowat 100 km/h – met hul eie krag en daai klein lyfies.”
RING
Ná geboorte kry elke duif ’n unieke geslote ring wat oor die been getrek word.
“Op die ring staan Namibië, die geboortedatum en die duif se nommer. Daar is net een so ’n ring in die wêreld; elke klub het sy eie ringe.
“Voor ’n wedvlug kry die duif ’n rekenaarskyf aan die ander voet. In my hok is ’n antenna en wanneer die duif by die huis aankom en in die hok oor die antenna loop, word die tyd op die rekenaar geklok.
“Die aand voor die wedvlug moet almal by die klub bymekaarkom, dan word die duif se skyfie ingelees op die klub se rekenaar en tydhoustelsel. Sodra die duif by die hok aangekom het, vat ek my rekenaar klub toe en daar word hy gekoppel en die meter per minuut wat elke duif gevlieg het uitgewerk.”
In die era voor die rekenaarskyf is ’n ring voor elke wedvlug om die duif se been gesit. Wanneer die duif dan by die huis aangekom het, moes die eienaar die duif vang en die ring afhaal. Die ring is dan in ’n sogenoemde duifhorlosie gesit wat die tyd opgestempel het.
“Die duifhorlosie het 18 gate en wanneer jy die ring insit, draai jy die ring basies weg vir die stempel, wat beteken ek kan hom nie weer uithaal nie. Deesdae moet die duif net oor die antenna loop, wat dit natuurlik baie makliker maak. Soms sit ’n duif op die dak en mors tyd, maar dis die eienaar se verlies; hy moet die duif oplei dat hulle onmiddellik in die hok gaan.”
Volgens Dieter is duiwe baie slim en hulle kan baie leer.
“In die winter wanneer ons met die duiwe oefen, moet hulle vroeg die oggend gevang en in mandjies gesit word. Ek wil nie al die duiwe vang nie. Ek het hulle geleer om self in die hokke in te loop. Ek het ’n ysterklap voor hul hok waaraan ek die mandjies vasmaak. Ek klop dan op die klap en hulle kom uit die hok uit en hardloop in die mandjie in.”
HOOGTEPUNTE
Jare gelede het Dieter ’n duif gehad wat hy vanuit Bitterfontein laat vlieg het. Die duif het eerste of tweede plek in die resies gehaal. Die volgende jaar het hy haar weer laat vlieg, maar die duif het verdwyn.
“Ons verloor gereeld duiwe in wedvlugte en dit was een van hulle of so het ek gedink. Die duif was vir twee jaar net weg en kort voor dit weer tyd was vir Bitterfontein het sy by die huis opgedaag. Ek het gekyk of sy fiks is en kan vlieg en sy was fiks en in ’n uitmuntende kondisie. So ek het haar weer Bitterfontein laat vlieg en sy het weer die tweede plek gekry.”
Dieter onthou ook die wedvlug van Marydale in Suid-Afrika se Noord-Kaapprovinsie – ’n wedvlug van sowat 900 km.
“Ek en my seun, Heiko, het buite by die hokke gesit en gewag dat die duiwe moet terugkom. Heiko was nog baie klein. Die volgende oomblik sê hy: Pappa, daar is ’n duif op die dak. Ek het vir hom gesê dis onmoontlik, omdat dit nog te vroeg is.
“Heiko het begin huil omdat ek nie wou opstaan en gaan kyk nie. Toe het ek maar gaan kyk en ’n klip op die dak gegooi en sowaar, twee duiwe het opgevlieg. Dit was die eerste twee duiwe van die klub wat aangekom het. Hoewel ek eerste en tweede plek gekry het, kon die tyd selfs nog beter gewees het as hulle in die hok ingegaan het en nie eers op die dak vertoef het nie.”
Hy onthou ook ’n duif in die era voor rekenaarskyfies wat by die hok aangekom het. Toe hy die ring wou afhaal het hy agtergekom die ring is weg.
“Ek was geskok, want ek kon nie die duif inklok nie. Daar was geen bewys dat sy wel by die huis is nie. Ek het onmiddellik die voorsitter en nog ’n man gebel en om hulp gevra. Hul voorstel was dat ek die duif vang en na hulle bring sodat hulle die duif kan sien en seker maak dat dit wel die duif is wat gevlieg het.
“Selfs met al die heen en weer, die bel en duif vang en ry en bevestiging kry, het ek nog steeds die tweede plek gekry.”
LES GELEER
“Ons het een keer vanaf Beitbridge in Suid-Afrika op die grens met Zimbabwe gevlieg, maar niemand wou so ver ry nie. Ons het die duiwe op ’n vliegtuig gesit, maar dit was die grootste fout.
“Duiwe moet stadig oor die afstand vervoer word. Ná ’n week het ’n paar duiwe wel teruggekom, maar die meeste het nie huis toe gekom nie. Die duiwe vrek nie, hulle gaan soek vir hulself ’n hok en jy sien hulle nie weer nie.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie