Resolusies nu00e1 beraad aangekondig
Resolusies nu00e1 beraad aangekondig

Resolusies ná beraad aangekondig

Volgens die Namibiese eerste minister sal die regering sal implementering binne die toepaslike wetsraamwerk en beleide oorweeg word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die tweede nasionale grondkonferensie het Vrydag omstreeks 18:00 afgesluit met pres. Hage Geingob wat die beraad van merkwaardige veranderinge in grondhervorming verseker het.

Verskeie resolusies is binne vyf tematiese gebiede tydens die konferensie aangeneem.

Eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila het aan konferensiegangers verduidelik die resolusies sal voorts deur die regering vir implementering binne die toepaslike wetsraamwerk en beleide oorweeg word, waarna Namibiërs ‘n merkwaardige verandering sál sien.

Die status quo sal nié langer voortduur nie, het president Hage Geingob benadruk.

Konferensiegangers was skynbaar verras dat die besluite wat tydens die tweede nasionale grondkonferensie gemaak is, aanvanklik slegs voorstelle genoem sou word en nie resolusies nie. Nadat sommige beswaar gemaak het daarteen omdat hulle meen so ‘n benaming doen afbreek aan die gewig en afdwingbaarheid daarvan, het Geingob ingegryp en gesê dit moet resolusies genoem word.

Die resolusies het altesaam aanvanklik 49 bladsye beslaan en slegs enkele word dus genoem. Die volledige resolusies sal binne dae op die ministerie van grondhervorming se webblad gepubliseer word.

Kommersiële grondhervormingsprogramme en verwante sake:

· Die vrywillige verkoper, vrywillige koper-beginsel moet opgeskort en vervang word met alternatiewe verkrygingsmetodes.

· ‘n Eenvormige, nasionale waarderasiemodel moet ontwikkel word om pryse te harmoniseer en realistiese grondpryse te verseker.

· Slegs een plaas word per Namibiër toegelaat. Die grootte van plase wat deur ‘n individu besit kan word, moet gereguleer word.

· Landbougrond wat in buitelanders se besit is of onderbenut word, moet onteien word.

· Wetgewing wat op sy eie kan staan, moet vir die onteiening van grond ontwikkel en toegepas word.

· Volledige ondersteuningspakkette behoort vir beter produktiwiteit onder hervestigde boere in beide kommunale en kommersiële gebiede ontwikkel te word, wat op besigheidsplanne gebaseer is.

· Regte op besit- en verblyfreg van hervestigde plase moet hersien word sodat dit bankwaardig kan word en beleggings kan lok, landbouproduktiwiteit kan verbeter en werkskepping kan plaasvind.

· Beleide moet ontwikkel word om plaaswerkers te beskerm wat vir geslagte lank op plase werk, om eindelik van alternatiewe behuising voorsien te word.

· Die regstellende aksie-leningskema (AALS): die grondbelastingstelsel moet heroorweeg word om beleggings te lok en produktiwiteit te verbeter, en lenings moet hersien word en opgestel word volgens die produksiewaarde van die plaas.

· ‘n Spesiale program moet ontwikkel word om potensiële sterk kommunale boere te identifiseer en te help om na kommersiële gebiede te skuif.

Kommunale grondhervormingsprogramme en verwante sake:

· Die geleidelike verwydering van die veterinêre kordonheining, met die inagneming van verskeie faktore.

· Die abattoirs in kommunale gebiede behoort opgeknap en tot Klas-A opgegradeer te word sodat dit geskik is vir uitvoere.

· Die kommunale grondhervormingswet moet hersien word sodat uitdagings soos ‘n beperking op grondgrootte en oorvleuelings getakel en die aansoekproses verkort kan word.

· Afdeling vier van dié wet moet hersien word omdat dit tans net een lid van tradisionele owerhede toelaat, terwyl sommige van die owerhede jurisdiksie oor tot drie kiesafdelings het. Dit moet ook verander word om oorlogveterane in te sluit.

· Tradisionele owerhede moet vergoed word vir grond wat vir die uitbreiding van dorpe opgeëis word, terwyl die normale kompensasie vir individue in verband hiermee steeds moet staan.

· Die boete vir onwettige heinings binne kommunale gebiede moet verhoog word, terwyl die polisie tradisionele owerhede behoort te steun in die verwydering van onwettige heinings.

· Die regering moet ‘n databasis ontwikkel van diegene wat oor grond beskik, om te vermy dat enkele grond op verskeie plekke het.

· Maatreëls moet ingestel word sodat mense nie dubbele weidingsregte in kommunale en kommersiële gebiede het nie, en boetes moet ook ingestel word vir diegene wat hulle daaraan skuldig maak.

· ‘n Kommunale gebiede moet in beide die Khomas- en ||Kharasstreek geskep word vir mense wat geen grond het nie.

· Die regering moet markverwante vergoeding betaal vir vee wat deur roofdiere gedood word, asook gewasse wat deur wilde diere verwoes word.

Grondhervorming in dorpsgebiede en verwante kwessies:

· Ontwikkel binne een jaar ‘n beleid en program vir grondhervorming in dorpsgebiede.

· Die tydsraamwerk vir die beskikbaarstelling van erwe moet tot ses maande beperk word.

· Belas winste wat op eiendom gemaak word – maar sluit die primêre wooneenheid uit. Stel hoër oordragkoste in met die verkryging van sekondêre en tersiëre eiendomme, en verminder oordragkoste vir eienaars wat vir die eerste keer eiendom bekom.

· Stel grond beskikbaar vir plaaslike nywerheidsontwikkeling.

· Bouregulasies behoort aanpasbaar te wees sodat mense stuk-stuk kan bou, en ook hersien te word sodat standaarde vir boumateriaal (dalk in sekere sones) meer buigsaam is en laekoste-energie vir lae-inkomstehuishoudings oorweeg kan word.

· Ontwikkel standaarde vir plaaslike en alternatiewe boumateriale en heroorweg standaarde vir die bou van laekostehuise, moedig die vervaardiging van die boumateriale aan en kry banke om dit te finansier.

· Bou 300 000 huise of wooneenhede of bied die geleentheid vir die bou van soveel binne die volgende sewe jaar omdat behuising ‘n nasionale noodsituasie is.

· Laat toe dat gedeeltelik gedienste erwe verkoop word, met dienste wat later bygevoeg kan word.

· Implementeer en reguleer die wet op die beheer van huurpryse.

· Die regering moet pleks van 0,1% per jaar, 10% van die BBP vir die ontwikkeling van dorpsgebiede vergroot.

Voorvaderlike grondregte en restitusie:

· Stig ‘n presidensiële ondersoekkommissie vir voorvaderlike grond wat onder meer ‘n gemeenskaplike begrip of konsensus moet skep oor wat voorvaderlike grond is, gemeenskappe moet identifiseer wat voorvaderlike grond verloor het, en hoeveel grond verlore is.

· Skep ‘n gemeenskaplike begrip of konsensus oor wat voorvaderlike grond is.

· Identifiseer alternatiewe maniere om vir verlore grond te kompenseer, sosiale gelykheid te bevorder en die ekonomiese bemagtiging van geraakte gemeenskappe te verseker.

· Die tydperk waarvoor voorvaderlike grondeise gemaak te kan word, behoort vanaf voor-koloniale tye tot ná onafhanklikheid te strek.

· Formuleer wetgewing om voorvaderlike grondeise te fasiliteer.

· Ontwikkel meganismes wat die mees geraakte gemeenskappe prioritiseer.

· Die herbenoeming van koloniale name na die oorspronklike tradisionele name, waar moontlik.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!