Reuse-ontsoutingsaanleg oorweeg

Die voorlopige plan is dat die ontsoutingsaanleg deur ’n 350 km lange pyplyn water aan verskeie dorpe verskaf.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Openbare vergaderings met belangstellendes en geraakte partye vir die moontlike bou van ’n ontsoutingsaanleg aan die Namibiese kus begin eerskomende Maandag op Hentiesbaai.

Vergaderings volg daarná op Swakopmund, Walvisbaai, Arandis, Usakos, Karibib en Okahandja.

Die laaste vergadering sal op 8 November in Windhoek plaasvind.

Dit vorm deel van NamWater se navorsing om vas te stel of ’n ontsoutingsaanleg, wat water tot so ver as Windhoek sal neem, lewensvatbaar is.

In ’n dokument op SLR Environmental Consulting se webwerf word verduidelik so ’n projek sal volgens beplanning uit drie dele bestaan.

Dit sluit in die ontsoutingsaanleg self, ’n waterpyplyn tussen die kus en Windhoek, en ondersteuningsinfrastruktuur.

Laasgenoemde sluit pompstasies en kragverskaffingsinfrastruktuur langs die pyplyn in.

’n Pyplyn van die aanleg af sal oor sowat 350 km strek en sal op die meeste water tot op ’n hoogte van 2 000 m moet kan pomp.

Dit moet water aan sentrale kusdorpe, asook aan Arandis, Usakos, Karibib, Okahandja en Windhoek verskaf.

Vir die projek sal oorweging geskenk word aan die koop van die bestaande Erongo-ontsoutingsaanleg, wat jaarliks tot 20 miljoen m³ drinkwater kan lewer.

In 2010 is opdrag gegee om dié aanleg te bou om water aan die Trekkopje-uraanmyn te verskaf, maar sedert dié myn sy werksaamhede verminder het, het die aanleg se water via NamWater na ander grootmaat watergebruikers gegaan.

Dit behoort aan Orano Mining Namibia en is sowat 30 km noord van Swakopmund naby Wlotzkasbaken geleë.

’n Tweede opsie is om ’n eie ontsoutingsaanleg te bou, waarskynlik iewers tussen Swakopmund en Hentiesbaai. Voorheen is studies asook EIA’s gedoen vir die ontwikkeling van ’n aanleg by Myl 6. Die perseel sal weer oorweeg word.

Terselfdertyd sal verskillende ontsoutingstegnologieë oorweeg word.

As dit by die verskaffing van elektrisiteit kom, sal onder meer oorweeg word om ’n sonkragaanleg te bou wat die nasionale kragstelsel bedags voer, terwyl die projek snags weer elektrisiteit van die nasionale kragstelsel sal kry.

Wat volgende?

Volgens ’n advertensie wat gister in plaaslike koerante verskyn het, sal die haalbaarheidstudie vir die projek na verwagting in die eerste kwartaal van 2020 afgehandel wees, terwyl ’n formele aansoek vir ’n omgewingsimpakstudie reeds vroeg in Oktober by die ministerie van landbou, water en bosbou ingedien is.

Die verslag sê as deel van die haalbaarheidstudie se fase vir aanvangs- en ontwerpvereistes is verskeie tegniese vergaderings en besoeke reeds tussen April en Junie vanjaar aan moontlike persele gebring.

Sodra die projek beter uiteengesit is en die omvangbepalingsverslag goedgekeur is, sal die assesseringsfase van die EIA voltooi word.

Dan volg spesialisstudies om sekere sleutelkwessies aan te spreek. Hierná word ’n konsep EIA-verslag en omgewings- en maatskaplike bestuursplan (ESMP) versprei sodat die publiek nog insette kan lewer.

Daarná word dit by die ministerie ingedien, wat dit na die ministerie van die omgewing en toerisme vir ’n finale besluit sal stuur.

Die haalbaarheidstudie is deur die Duitse regering gefinansier.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!