Reuse val vir padveiligheid
Hoewel vee-eienaars omgekrap is dat kameeldoringbome verwyder is, meen die Paaieowerheid dit was noodsaaklik vir padveiligheid.
Elvira Hattingh – Ten spyte dat lede van die Stampriet-gemeenskap ontsteld is omdat die Paaieowerheid (RA) groot kameeldoringbome langs hul D1033-grondpad verwyder het, is owerhede glo by magte om plantegroei in padreserwes te verwyder.
Die RA het glo ook nie 'n permit nodig om selfs beskermde plantespesies te verwyder nie, terwyl dit hul mandaat is om seker te maak enige plante of bome wat 'n gevaar vir padgebruikers inhou, word verwyder.
Me. Hileni Fillemon, die RA se bestuurder van korporatiewe kommunikasie, het aan Republikein verduidelik daar is besluit om die bome op die spesifieke pad te verwyder nadat padgebruikers gekla het hul vragmotors sukkel om deur die bome te beweeg.
Sy voeg by die bome wat wel verwyder is, het op die kant van die pad gestaan of bo-oor die pad gegroei.
“Om sommige bome te bewaar, het ons besluit om dit net te snoei eerder as om die bome te verwyder. Dit is ook belangrik om te noem dat dié pad baie kronkel en die groeiende bome hou 'n gevaar in,” het Fillemon gesê.
'BOME WAS EERSTE DAAR'
Grondeienaars het foto's aan Republikein gestuur van die bome wat omgestoot is. “Die kameeldoringbome is al langer as die pad daar en baie groot en oud.
“Die bome se peule het ons vee deur die afgelope droogte gedra. Mense het van heinde en verre gekom om vir hul vee van die peule te kom optel.
“Vir so ver as 30 tot 40 km is 'n klomp bome langs die pad omgestoot,” het die grondeienaar gesê, wat anoniem wou bly. Kommer is ook uitgespreek omdat die kameeldoringboom 'n beskermde spesie is waarvoor mens gewoonlik nie 'n permit kan kry om lewend af te kap nie.
Fillemon sê egter die RA benodig nie 'n permit om enige plantegroei te verwyder nie en is in terme van die Padordonnansie 17 van 1972 gemagtig om enige voorwerpe te verwyder wat gevaarlik vir padgebruikers mag wees.
Die direkteur van bosbou van die ministerie van omgewing, bosbou en toerisme, mnr. Joseph Hailwa, gee gelyk dat die Paaieowerheid bome kan verwyder as dit 'n gevaar vir padgebruikers blyk te wees, ongeag of dit 'n beskermde spesie is of nie.
Hy sê in dieselfde opsig kan plantegroei, wat nie as 'n bedreiging vir padgebruikers beskou word nie, toegelaat word om op padreserwes te groei.
Hailwa sê net soos die Paaieowerheid, is munisipaliteite ook by magte om plantegroei te verwyder as dit noodsaaklik blyk te wees. “Tog word dié owerhede aangemoedig om die verwydering van bome as 'n laaste opsie te beskou,” het hy gesê. Hy sê alhoewel die bome dalk tot dusver toegelaat is, kan daar skielik besluit word om dit te verwyder as dit blyk dat dit ongelukke begin veroorsaak of wanneer nuwe paaie of kraglyne aangebring word. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie