Reuseboom val in streek se vleisbedryf
Reuseboom val in streek se vleisbedryf

Reuseboom val in streek se vleisbedryf

Huldeblyke stroom in ter ere van die beesvleis-wetenskaplike, dr. Michael Bradfield.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Die Suider-Afrikaanse en internasionale rooivleis- en stoetveebedryf het met die dood van dr. Michael Bradfield (56) nie net 'n wêreldklas genetikus en genomikus verloor nie, maar ook iemand met versiendheid wat op die verbetering van die totale vleiswaardeketting ingestel was.

Só het mnr. Mecki Schneider, stoetteler, boer en hegte vriend van Bradfield, Vrydag gesê. Hy is Donderdagaand in Pretoria aan kanker dood.

Schneider beskryf hom as 'n wêreldklas genetikus wat sedert die 1990's 'n reusebedrae gelewer tot die genetiese verbetering van beesrasse in Suider-Afrika.

Bradfield, 'n gebore en getoë Oos-Kapenaar, het ná sy studies aan die Universiteit van die Vrystaat in Skotland en later in Australië verder studeer.

“As uitgelese wetenskaplike was een van sy grootste bydraes dat hy met sy terugkeer meer as 20 jaar gelede die nuwe wêreldklas genetiese evaluasiestelsel, bekend as Breedplan, in Suider-Afrika gevestig het. Dit het die stoetbedryf in die streek onmiddellik binne 'n wêreldkonteks geplaas," sê Schneider.

Saam daarmee het hy die sagteware van die kuddebestuurstelsel, HerdMaster, aan die streek bekend gestel en sy maatskappy, AgriBSA, gestig.

Mnr. Paul Strydom, uitvoerende bestuurder van die Vleisraad van Namibië, beaam wat Schneider gesê het.

“Danksy hom het die Namibiese vleisbedryf baat gevind by die toepassing van die Breedplan-stelsel en kon ons die genetiese vooruitgang van die meerderheid rasse en die internasionale maatstaf daarvan verbeter.

“So ook kon ons deur die ultrasoniese skandering van sekere parameters van die lewende dier, vleiskwaliteiteienskappe bepaal,” sê hy en verwys ook na die waarde wat die jaarlikse Aldam Veeskool in die Vrystaat, ook Bradfield se inisiatief, vir Namibiese produsente gehad het.

Bradfield het ook as uitvoerende hoof van die Livestock Registration Federation (LRF) dié federasie so herstruktureer en -organiseer dat dit die stoetbedryf in Suid-Afrika, Namibië en Zimbabwe beter ondersteun.

Hy het deur sy loopbaan wyd gepubliseer en talle kursusse aangebied.

Verder was hy een van die stigters van die Beef Genomics Programme in Suider-Afrika waardeur ver­skeie beesrasse finansieel steun vir genetiese verbetering ontvang het.

“N$36 miljoen is vyf jaar gelede in die stoetbedryf gestort tot voordeel van alle raase en Michael het die afgelope tyd spesifiek die wissel meer na die genomika-kant toe gestel.”

Schneider sê Bradfield het die afgelope twee of wat jaar telersgenootskappe aan nuwe tegnologie op die gebied van genomika blootgestel en het hulle aangemoedig om van genotipering gebruik te maak ten einde die genetiese evaluering van hul diere te verbeter.

“Hy het op die totale waardeketting gefokus – van die produsent tot die voerkale, abattoirs, vleisverwerkers en die mark,” sê Schneider.

“Michael was 'n sterk motiveerder. Hy het die gesegde gehad: 'If the tide comes in, everybody benefits'.

“Hy was 'n baie goeie kommunikeerder en hy kon goeie verhoudinge met almal bou en behou – ook dié wat hom nie goedgesind was nie,” sê Schneider.

Mnr. Ryno van der Merwe, voormalige president van die Namibië Landbou-unie (NLU), 'n stoetteler en vriend, sê Bradfield was 'n kundige wetenskaplike “wat sy kennis in die praktyk toegepas het”.

“Hy was altyd aan die voorpunt van die jongste wetenskaplike en tegnologiese ontwikkeling en verwikkeling. Sy dood is 'n ongelooflike verlies vir die telerswêreld,” sê hy.

“Hy was passievol, baie energiek en het altyd die groot prentjie gesien. Hy was 'n vernuwende denker, 'n harde werker en 'n fenomenale strateeg.

“Sy doelwit was om die Suider-Afrikaanse vleisbedryf geneties te verbeter om meer doeltreffende diere in terme van voerverbruik te teel. Hy het Namibië dikwels as 'n voorbeeld voorgehou wanneer hy die Suid-Afrikaanse bedryf gemotiveer het om dieselfde pad te stap,” sê Van der Merwe.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!