Reusebrand verwoes nagenoeg 40 000 ha

Mense het van heinde en verre gekom om boere te help teen 'n brand wat grootskaalse verwoesting gesaai het.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh en Ronelle Rademeyer – 'n Geraamde 30 000 tot 40 000 hektaar op veertien plase het binne dae in die Otjiwarongo-omgewing afgebrand.

Mnr. Kiep Lepen van Laerplaas sê hulle was Donderdag nog besig met nasorg nadat reeds sowat 12 000 hektaar Woensdag afgebrand het, toe die vuur weer opgevlam het om selfs nóg meer verwoesting te saai.

“Tans lyk dit of die brand onder beheer is. Ons beweeg onder ver­skillende groeperings uit om seker te maak die vuur staan nie weer op nie. Die wind is egter baie sterk,” het hy Vrydagoggend gesê.

Hy sê ná twee nagte se stryd was hy en sy werkers baie moeg en “lopende lyke”.

“Ons het hulp van mense van oraloor ontvang. Lede van nabygeleë boereverenigings asook ander mense het van heinde en verre gekom om te help. Die Otjiwarongo-buurtwag het ook gehelp. Hier was mense wat ek nog nooit eens gesien het nie,” het hy aan Republikein gesê.

Die reusebrand het sowat tussen 75 km en 90 km suid van die klein Waterberg voorgekom.

Mnr. Thinus Pretorius, lid van die Otjiwarongo-boerevereniging se noodreaksiespan om die brand te bestry, sê dit was 'n reuseveldbrand met 'n groot reikwydte.

“Die plase Hoëveld van (mnr.) Barry van der Walt en (mnr.) Johan Erasmus se plaas Samoa het heeltemal afgebrand,” sê hy en voeg by groot dele van twaalf ander plase het ook afgebrand. “Dit het oor 'n afstand van 10 km van suid na noord gebrand, en van oos na wes het die brand tussen 30 en 40 km wyd gestrek. Tussen 30 000 en 40 000 hektaar het afgebrand.”

Pretorius, wat ook voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) is, sê dit het hom herinner aan die jaar 2000 toe 57 veldbrande in die groter Otjiwarongo-gebied voorgekom het. “Altesame 360 000 hektaar het toe afgebrand.”

Hy het met Republikein gepraat terwyl hy op pad was om te help met nasorg. “Dit lyk of ons die brand gewen het, maar groot binnebrande is nog aan die gang.

“In hierdie stadium maak ons seker dat dit teen die buitegrense geblus is. Ons wil keer dat dit soos Woensdag weer opstaan,” het hy gesê.

“Hulp kom egter vanuit alle oorde; dit is die wonderlike ding daarvan om in Namibië te woon.”

Hy het later laat weet die brand is geblus en gesê die Namibië Landbou-unie (NLU) sal die Dare to Care-rampfonds aktiveer sodat bystand aan die geraakte boere verleen kan word.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer