Reusekunswerk by Aus kant en klaar

Tanja Bause
Tanja Bause – ’n Reusekunswerk van 100 m x 150 m van ’n galoppende perd is eindelik voltooi – dit met die hulp van 4 244 strategies gepakte klippe.

Die Suid-Afrikaanse kunstenaar Anni Snyman het in Junie 2018 dié reusegeoglief ontwerp.

Volgens Snyman is ’n geoglief ’n tekening op die aarde se oppervlak.

Snyman en haar broer, PC Janse van Rensburg, het die Site Specific Collective gestig, wat geogliefkunsprojekte aanpak.

Dié twee en ’n span van nege vrywilligers het 1 299 herwonne houtpale van 30 jaar oud gebruik om die beeld mee te skep.

Dit is hul eerste skepping in Namibië en hulle het juis Aus gekies weens die wilde perde wat daar voorkom.

“Die wilde perde is in ’n benarde toestand weens klimaatsverandering en die langdurige droogte wat hulle teen die heinings van die park vaskeer – hulle het geen uitkomkans as mense nie nou inspring en hulle help nie. Ons kon enige ander dier wat daar voorkom, soos volstruise en gemsbokke gebruik het, want hulle is ook in dieselfde penarie, maar mense vereenselwig hulle met perde. Die teenwoordigheid van ’n perd impliseer ’n ruiter – en ons hoop om mense met die werk tot aksie oor te haal,” het Snyman gesê.

’n Span het die pale in Mei vanjaar met klippe vervang sodat die kunswerk van bo af duidelik gesien kan word.

Die geoglief kan gesien word van ’n uitkykpunk wat 630 m weg en 153 m hoog is.

Die perd galop weswaarts langs ’n bestaande pad na ’n kruispad.

Site Specific noem die geoglief Thinking Path.

Dit is staproetes of meditasiepaaie, soortgelyke aan ’n labirint.

Weens die sensitiewe Namib-woestynomgewing sal mense nie, soos by die ander twee geogliewe in Suid-Afrika, deur die kunswerk kan stap nie, maar op ’n nabygeleë koppie moet klim om die kunswerk van bo af te sien.

Besoekers moet by Klein-Aus Vista se ontvangs die nodige permitte en kaarte hiervoor kry.

Die Snake Eagle: Thinking Path by Matjiesfontein in Suid-Afrika is Snyman en Van Rensburg en die Site-Specific-span se grootste kunswerk.

Dié geoglief van 170 m x 58 m is ’n uitdrukking van kommer oor wat hidrouliese breking (fracking) vir die waterbronne en brose Karoo-ekologie inhou.

Dit is ook ’n labirint wat die besoeker noodsaak om die werk deur middel van die verbeelding én fisieke deelname te waardeer.

Die Riverine Rabbit: Thinking Path op Loxton vestig die aandag op dié kritiek bedreigde hase.

Die wilde perd by Aus is Site Specific se eerste kunswerk in Namibië.

Kommentaar

Republikein 2024-11-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 37° Rundu: 22° | 38° Eenhana: 21° | 37° Oshakati: 22° | 34° Ruacana: 19° | 37° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 21° | 36° Omaruru: 20° | 38° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 18° | 34° Henties Bay: 14° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 18° | 34° Mariental: 18° | 35° Keetmanshoop: 18° | 35° Aranos: 17° | 35° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 17° | 34° Oranjemund: 14° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 16° | 32° Lubumbashi: 16° | 33° Mbabane: 12° | 25° Maseru: 7° | 24° Antananarivo: 17° | 27° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 19° | 30° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 24° Durban: 14° | 23° Johannesburg: 13° | 27° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 30° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!