Reusesoektog deurnag ná sneeustorting
Talle skiërs is Dinsdag in die sneeu by die Crans-Montana-oord in Switserland vasgekeer nadat daar 'n sneeustorting was. Die plaaslike owerhede sê minstens vier mense is beseer en een se lewe is in gevaar, maar dit blyk nie dat iemand tydens die sneeustorting dood is nie. Omtrent agt helikopters, 12 honde en meer as 240 polisielede, reddingswerkers en soldate is ontplooi om na slagoffers te soek. Christian Varone van die polisie sê reddingwerkers het vinnig by die toneel opgedaag en die vier beseerdes, asook die persoon wie se lewe in gevaar was, gered. Drie mense het ligte beserings opgedoen. Volgens ooggetuies was daar 'n moontlikheid dat nóg mense onder die sneeu begrawe was en daarom het die polisie aangehou soek. Die BBC berig dat reddingswerkers deur die nag gewerk het om mense te soek wat moontlik in die sneeu vasgekeer is. Varone sê die sneeustorting het oor 'n gebied van 840 m by 100 m voorgekom. Foto Netwerk24/Reuters
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie