Ricky Burns se visier op Indongo

Boks
Andrew Poolman
’n Geveg is glo in die vooruitsig tussen die WBA se ligweltergewig wêreldkampioen Ricky Burns (41-5-1, 14 uitklophoue) en die nuut gekroonde IBF-kampioen Julius Indongo (21-0, elf uitklophoue), nadat die webblad Fight News glo ingelig is dat onderhandelinge aan die gang gesit is.

Die 33-jarige Indongo het op 3 Desember vir Eduard Troyanovsky die vorige IBF- en IBO-kampioen, in Moskou in die eerste ronde uitgeslaan.

Dit sal ’n baie slim skuif van Burns wees om sy visier op Indongo se titel te stel, skryf Scott Gilfoid in BoxingNews24.

Burns is ’n 33-jarige Skot wat in 2012 ook sy destydse liggewigwêreldtitel suksesvol teen nog ’n Namibiër, Paulus (Hitman) Moses, verdedig het deur oortuigend met punte te wen.

“Burns en sy bestuur sien waarskynlik swakhede in die linkshandige Indongo, want anders sou hulle nie so gretig vir hierdie geveg gewees het nie.

“Indongo het ’n goeie linkerhand, maar dit is ook al. Hy het nie ’n kragtige regterhou nie, hy mis dikwels met sy linkerhand en word dan gereeld met teenhoue raakgeslaan omdat hy sy balans verloor,” skryf Gilfoid.

“Voordat Indongo vir Troyanovsky uitgeslaan het, het hy baie gemiddeld gekyk in sy gevegte teen opponente soos Kaizer Mabuza, Zolani Morali (beide RSA), Ibrahim Class en Allan Kamote (beide van Tanzanië).

“Indongo het gesukkel teen Mabuza en Class – manne wat waarskynlik heeltemal oorheers sou word deur die beter vegters in dié gewigsklas. Die feit dat Indongo probleme met hulle ondervind het, is veelseggend.”

“Ek kan sien hoekom Burns na bewering belangstel in Indongo, want dit is ’n maklike manier vir hom om die IBF ligweltergewigtitel te wen. Indongo het erg kwesbaar gelyk in vele van sy gevegte sedert hy in 2009 ’n beroepsvegter geword het.”

Gilfoid voer verder aan dat ’n geveg teen die Namibiër vir Burns ’n veel veiliger opsie sal wees as om gedwing te word om sy WBA-gordel teen een van dié beheerliggaam se gevaarlike aanspraakmakers op die spel te plaas.

“’n Mens kan aanvoer die idee is dat Burns die kwesbare Indongo se IBF-titel so gou as moontlik afneem om te voorkom dat iemand soos Rances Barthlemy hom uitslaan.

“As Burns die IBF-titel wen, dan kan hy Barthelemy (Kuba se onoorwonne vegter met 25 oorwinnings en 13 uitklophoue) systap deur sy WBA-gordel prys te gee. Barthelemy behoort die WBA se volgende nommer een aanspraakmaker te word, nadat Burns in Oktober met punte teen Kiryl Relikh gewen het. Burns sal in die komende maande tyd hê om iemand anders op die WBA-ranglys vir ’n vrywillige titelgeveg uit te daag.”

“Dit kan vir Burns ’n goeie ‘sakebesluit’ wees om sy WBA-titel prys te gee indien hy vir ’n paar maande langer ’n wêreldtitel kan hou. Ek glo dit is wat sy promotor Eddie Hearn hom sal aanraai om te doen. Op die IBF-ranglys word die werklike gevaarmanne inderdaad laer geplaas as die middelmatige vegters.”

Indongo en sy promotor, Nestor Tobias, behoort in die komende weke meer duidelikheid oor hul volgende skuif te kry.

Die skrywer vir Boxing News 24 reken dit sal vir die Namibiër ook ’n goeie skuif wees om die geveg teen Burns te aanvaar. “Ek kan nie sien hoe Indongo in staat is om sy IBF-titel te behou teen enigiemand in die IBF se top 15 ranglys nie. Indongo het na my mening ernstige gebreke en ek kan nie sien hoe hy in die afsienbare toekoms selfs iemand soos Zappavigna kan klop nie.

“Ten minste as Indongo teen Burns veg, sal hy ’n goeie betaaldag kry vir die verlies van sy IBF-titel.

“Hearn het goeie werk gedoen om Burns se loopbaan te herstel deur die regte gevegte vir hom te kies. Vroeg in 2015 het Burns soos ’n uitgediende vegter gelyk nadat hy deur Omar Figueroa, Dejan Zlaticanin en Terence Crawford geklop is.

“Die werklikheid is dat Burns intussen nie beter geword het nie. Hy het nie die fontein van ewige jeug ontdek nie. Hearns het sy gevegte versigtig gekies, terwyl hy ook aangehelp is dat die WBA ’n paar kwesbare vegters op sy ranglys ingesluit het. Burns sou nie sy pad boontoe kon opwerk om kampioen te word as enige van Barthelemy, Adrian Granados of Frankie Gomez in 2016 die WBA se voorste aanspraakmaker was nie.”

Gilfoid voorspel dat Burns min probleme sal hê om Indongo te klop – solank hy hom nie soos Troyanovsky met een van daai linkerhoue misgis nie.

“Ek glo egter nie dit sal gebeur nie, want Indongo se wilde swaaihoue kan jy ’n myl ver sien aankom.”

• Indongo se selfvertroue is egter nog ongeskonde.

Selfs voor sy onverwagse oorwinning in Moskou het hy in ’n plaaslike media-onderhoud gesê hy reken hy het ’n goeie kans teen die Amerikaner Terence Crawford (30-0, 21 uitklophoue).

“Ek is seker ek kan die wêreldkampioen word as ek ’n kans kry, want ek werk hard. Ek is gefokus en ek gee altyd my beste. Ek het Crawford al gesien boks en ek glo nie ek sal ’n probleem teen hom hê nie. Hy is nie so vinnig nie; hy is net baie uitgeslape. Maar ek is langer as hy en my arms kan verder bykom,” het die gebore Windhoeker gesê. - BoxingNews24.com en eie berig

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer