Ridders van die Richtersveld

Die Desert Knights-bergfietstoer vind weer in September in die /Ai/Ais-Richtersveld-oorgrenspark plaas.
Ronelle Rademeyer
As jy van avontuur en die natuur hou en graag jou die speke van jou bergfiets laat sing, is die Desert Knights-bergfietstoer wat weer van 10 – 16 September aangebied word, die ding vir jou.

Dit is die beste manier om die bergagtige woestyngebied van die /Ai/Ais-Richtersveld-oorgrensparkstet tussen Namibië en Suid-Afrika te verken.

Hier trap jy in die laatmiddagson op stofpaaie deur die ongenaakbare landskap met sy windverwaaide klowe en berge – met ’n onbelemmerde uitsig van 360 grade.

Die ontdekkingsreis strek oor sewe dae, waarin 280 km in die laatmiddag en saans per bergfiets afgelê word. Hoewel ’n deel van elke fietsryskof in die maanlig onder die sterre plaasvind, word ’n fietslig met ’n sterkte van minstens 1 200 lumen vir die aandritte aanbeveel, veral op die grondpaaie en sanderige dele. Een skof word ook deels per kano op die Oranjerivier in ’n afgeleë deel van die oorgrenspark afgelê.

Die toer begin op dag een by die goed toegeruste Hobas-kampterrein naby die Visrivier-canyon.

Die roete loop ál langs die canyon en teen laatmiddag kan jy by die uitkykpunt jou aan die sonsondergang verkyk. Die skof oor erg klipperige terrein is 35 km lank en bied ’n voorsmakie van wat wag.

Op die tweede dag vertrek fietsryers laatmiddag van Hobas op ’n 68 km lange tweede skof wat laataand by die /Ai/Ais-vakansieoord met sy warmwaterbron eindig. Die roete strek oor verlate vlaktes met motorwrakke, woestynplante en kokerbome, en later verby koppies.

Op die derde dag ry fietsryers van /Ai/Ais na Gamkab, ’n dorre en winderige kloof aan die voet van reusagtige rotshange, waar in die droë loop van die Gamkabrivier oornag word.

Op dag vier vertrek deelnemers vroegoggend op ’n kanorit wat by die De Hoop-kamp langs die Oranjerivier, aan die Suid-Afrikaanse kant van die grens, eindig.

Op dag vyf pak fietsryers ’n 38 km lange skof oor bergagtige terrein van De Hoop tot by die Hakkiesdoring-kamp aan.

Dag ses se skof is ’n 67 km lange rit met die Helsbergpas af, verby Vyf Susters, tot by Sendelingsdrif, langs die Oranjerivier.

Op dag sewe groet die deelnemers, wat teen dié tyd hegte vriende geraak het, mekaar voordat hulle van Sendelingsdrif af huis toe vertrek.

Op die bergfietsavontuur word lekker gekuier. Snags om die kampvuur of etenstafel word hegte vriendskappe gesmee voordat deelnemers in hul tente kruip. Die honger fietsryers kry drie stewige maaltye per dag.

Daar is ook ’n fietswerktuigkundige en ’n span van vier noodhulpbeamptes, asook ’n span werkers wat help om tentedorpies op en af te slaan.

Bedags kan jy staptogte meemaak en meer oor die gebied se unieke plantegroei en geologie leer.

Die Richtersveld is een van die oudste woestynlandskappe ter wêreld, met ’n stabiele klimaat waar unieke plante miljoene jare lank kans gehad het om aan te pas

Die toer kos N$17 500 per persoon en sluit die tentkamp-akkommodasie, etes, drankies, aktiwiteite en vervoer in.

Mense wat nie wil fietsry nie, maar ook die toer wil meemaak, is welkom. Hulle betaal dieselfde tarief.

Die toer word aangebied deur Namibia Wildlife Resorts en die ministerie van die omgewing en toerisme in samewerking met Sanparke en die departement van omgewingsake in Suid-Afrika.

Stuur ’n e-pos na [email protected] vir meer inligting. - Bronne: Desertknights-mtb.com en Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!