Riedels: Dit was moontlik moord
Die polisie moet die geleentheid gegun word om die ondersoek na die dood van 'n egpaar uit die boeregemeenskap af te handel.
Henriette Lamprecht en Ronelle Rademeyer
Die polisie ondersoek volgens 'n familielid van die Riedel-egpaar, wat die naweek in hul plaashuis buite Gobabis doodgebrand het, die moontlikheid dat hulle oorval, vermoor en daarna aan die brand gesteek is.
Volgens die familielid is wyle me. Brunhild Riedel (66) se liggaam op 'n bababedjie in die uitgebrande opstal op hul plaas Grunfeld, 17 km oos van Gobabis, gevind. Dié van mnr. Armin Siegfried Riedel (68) is voor sy geweerkluis gevind. Die polisie ondersoek die moontlikheid dat hulle oorval en vermoor is en dat die huis daarna deur die aanvallers met diesel besprinkel en aan die brand gesteek is.
Die familielid van die Riedels het gister aan Republikein gesê die oorledenes se kinders was Maandag saam met die polisie op die plaas.
Van Riedel se werkers het Saterdagaand omstreeks 22:50 op 'n buurplaas, enkele kilometers van Grunfeld af, aangekom en gesê die egpaar se opstal brand. Volgens 'n ingeligte bron het die werkers gesê een van hulle se vrou het 'n draai gaan loop en toe die vlamme gesien.
Die bure was van die eerste mense op die toneel.
'onnodige paniek'
“Dit was nie 'n brand wat jy ver gehoor of gesien het nie. Die vensters was toe,” het die bron gesê. 'n Venster is met 'n klip stukkend gegooi om die vlamme met 'n tuinslang in die huis te probeer blus. Volgens die bron was misdaad in die hegte boeregemeenskap tot op hede beperk tot veediefstal per geleentheid.
Met verwysing na 'n boodskap wat wyd in sosiale media versprei is, het die bron gemaan dit saai onnodige paniek en spanning.
“Mense moet die polisie die geleentheid gun om hul werk te doen en die ondersoek te voltooi.”
Dié pleidooi is gister ook deur mnr. Ryno van der Merwe, president van die Namibië Landbou-unie (NLU) gerig, wat die boerderygemeenskap gevra het om die polisie kans te gee om hul werk te doen.
“Ons moet nie emosioneel raak en gerugte versprei wat dalk nie die waarheid is nie,” het hy gesê.
“Hierdie is 'n verskriklike, skokkende en tragiese voorval. Ons moenie emosioneel optree en afleidings maak nie. Ons het van georganiseerde landbou se kant af volle vertroue daarin dat die polisie hul uiterste bes sal doen om die waarheid te bepaal,” het Van der Merwe gesê.
Die woordvoerder van die Namibiese polisie, hoofinsp. Kauna Shikwambi, het intussen gesê die ondersoek na die voorval duur voort en die forensiese ondersoek is nog nie afgehandel nie. Shikwambi wou haar nie uitlaat oor wanneer dit wél afgehandel sou wees nie. Die Riedels laat hul twee seuns, Manfred en Burkhard, hul dogter, Karin, en hul vyf kleinkinders agter. Wyle Riedel was 'n bekende Simmentaler-teler en het gereeld met diere geskou.
Geen begrafnisreëlings is al getref nie, omdat die polisie se forensiese ondersoek steeds voortduur.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie