Rio 2016: Soroseb hoop vir die beste
Rio 2016: Soroseb hoop vir die beste

Rio 2016: Soroseb hoop vir die beste

Paralimpiese Spele
Andrew Poolman
Hesron Kapanga in Rio de Janeiro - Namibië se tweemalige Paralimpiese kragopteller Ruben Soroseb sal al sy ervaring gebruik om ’n medalje te probeer wen by die Rio 2016 Paralimpiese Spele wat in Brasilië aan die gang is.
Hy het deelgeneem aan die Paralimpiese Spele van 2004 in Athene asook die 2012 Londen Spele, waar hy onderskeidelik 15de en negende geëindig.
Soroseb sal vandag om 15:00 Namibiese tyd in die 107 kilogram kategorie se finaal meeding.
Die Swakopmunder het gister aan Nampa gesê hy is bly om vir die Spele in Rio te kon kwalifiseer.
“Ek is gereed en sien uit na die kompetisie. Ek sal bly wees as ek ’n medalje vir my land wen, aangesien dit ’n bonus sal wees. As ek nie wen nie, sal ek teruggaan na die tekenbord en weer harder werk,” het hy gesê.
Die atleet het egter gesê kragoptel in Namibië kry nie die nodige geldelike en kundige steun met afrigting nie, wat dit altyd moeilik maak vir hom om mee te ding wanneer hy vir kompetisies kwalifiseer.
“Kragoptel is een van die sportkodes wat in Namibië nie genoeg ondersteuning kry nie. Ek oefen op my eie en in ons omgewing word nie kompetisies aangebied waarin ek kan meeding nie, maar ek het nie nou tyd om hieroor te kla as dit nie sal help nie.
“Ek is net bly dat ek gelukkig genoeg is om my land op drie Paralimpiese Speles te kon verteenwoordig.”
Soroseb het bygevoeg dat hy nie seker is of hy sal voortgaan met die sport ná die Spele, vanweë die gebrek aan ondersteuning by die huis nie.
“Ek is regtig nie seker of ek steeds kragoptel sal doen nie. In die verlede was ek ’n diskusgooier en ek kan dit of gewigstoot oorweeg, want in dié sportsoorte kan ’n mens beter steun kry.”
Nege atlete verteenwoordig Namibië by vanjaar se Paralimpiese Spele in atletiek, swem en kragoptel.

AFLOSSPAN VIERDE
Namibië se gesiggestremde aflosspan het hul teleurstelling uitgespreek dat hulle ’n medalje in die mans 4x100 meter aflos misgeloop het.
Die span bestaan uit Martin Aloisius (T12), Johannes Nambala (T13), Ananias Shikongo (T11) en Moses Tobias (T11) met hul gidse Even Tjiviju en André Oberholster.
Hulle was gister laaste van die vier spanne in die finaal in 43.66 sekondes, ná Oesbekistan wat derde was.
Brasilië het gewen met ’n tyd van 42.37 sekondes – ’n nuwe Paralimpiese rekord.
Om die finaal te haal, het die Namibiese span Maandag tweede geëindig in hul uitdun met hul beste tyd van die seisoen, 43.49 sekondes.
Nambala het agterna gesê hy is teleurgesteld dat hulle ’n medalje misgeloop het, want dit was ’n wonderlike geleentheid vir die span wat baie hard geoefen het. Nambala het goed weggespring, maar uiteindelik het Shikongo vir die vierde skof in die pylvak af die aflosstok laaste ontvang.
Shikongo het gesê dit was baie moeilik om in te haal teen die ander spanne en daar was niks wat hy meer kon doen nie. “Ons sal hard werk in ons ander items om hopelik iets te wen.”
Johannes Nambala het die eerste medalje vir Namibië by vanjaar se Spele verower (silwer in die mans se T13, 100m) voordat Shikongo nog ’n bronsmedalje in die mans se T11, 100m bygevoeg het.
Intussen het Johanna Benson ook gister laaste in die T37 vroue se 400m wedloop klaargemaak.
Sy was 13 sekondes agter die wenner, Georgina Hermitage van Groot-Brittanje, wat ’n nuwe wêreldrekord van een minuut en 53 sekondes (1:00.53) opgestel het. Benson was agtste in 1:12.35.
Benson het nog die T37 verspring vandag om 16:05 Namibiese tyd.
- Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!