Risa behou titel, JP kook weer

Jean-Paul Burger het 96 sekondes voor Divan du Plooy die eindstreep gehaal.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Risa Dreyer en Jean-Paul Burger het gisteroggend onderskeidelik die elite vroue- en manstitels in die nasionale senior Rand Merchant Bank-duathlonkampioenskap van die Namibiese Triathlonfederasie (NTF) gewen.
Die Sprint- en Supersprintkompetisies het afsonderlik voor die hoofkantoor van RMB Namibia in Windhoek se hoofstraat weggespring.
Die Sprint bestaande uit 5 km hardloop, 20 km fietsry en 2.5 km hardloop is as ingespan die proeflopie vir die Afrika-duathlonkampioenskap wat Oktobermaand by dieselfde venue aangebied gaan word.
Die Supersprint (2.5 km hardloop, 10 km fietsry en 1.25 km hardloop) is meer op junior atlete en op ontwikkeling gemik.
Die nasionale triathlonkampioen Divan du Plooy (tweede) het uit die staanspoor voor gehardloop, maar Burger het sy staal getoon en was kort op sy hakke, terwyl Gino Chiappini (derde) gevolg het.
Burger het aan Republikein gesê: “Dit was nogal ’n baie lekker resies. Ek was vir lank uit die sport weens ’n hakskeenbesering, want ek kon nie hardloop nie.
“Ek het so sewe of agt weke vir die kampioenskap geoefen. Ek het geweet my fietsry is sterk, want dis basies al wat ek vir die laaste jaar gedoen het.
“Ek was bietjie onseker oor die hardloopskof. Die ouens het nogal met die eerste rondte die pas aangejaag. Daar was twee ouens met ’n 40-sekonde voorsprong voor my, maar ek het geweet as ek die gaping onder ’n minuut hou, kan ek dit met die fietsry inhaal en ’n groot genoeg gaping tussen my en hulle opbou.
“Oor die laaste skof moes ek streng gesproke oorleef en die afstand tussen my en die naaste elite atlete handhaaf om die titel te verseker. Ek reken dit het nie te sleg gegaan nie en ek kon die kampioenskap wen.
“Die venue was baie goed en die kompetisie was uitstekend gereël, wat natuurlik ’n toetslopie vir die Afrikaduathlonkampioenskap was.
“Die Afrika-kampioenskap sal volgens internasionale triathlonstandaarde gehou word. Daar sal ons 10 km hardloop, 40 km fietsry en weer 5 km hardloop.
“Vandag se byeenkoms het basies ’n uur geduur, maar met die kontinentale kompetisie verdubbel die tyd en jy het baie meer energie en uithouvermoë nodig.
“Baie geluk aan elke atleet. Ek sien uit na die Afrika-byeenkoms wat oor so oor sewe weke op 17 Oktober hier in die hoofstad plaasvind. Die Afrikakampioenskap voor jou eie mense is ’n geleentheid wat jy net een keer in ’n leeftyd kry. Dan kan die Namibiërs wys wat in hulle steek.“
Dreyer het agterna gesê: “Ek kan eintlik nie glo ek kon my titel suksesvol verdedig nie! Ek is nie regtig op peil nie en die kompetisie was taai vandag. Ek het geweet Imke (Jagau) gaan my hard druk. Ek het die eerste 5 km lekker gehardloop, maar my oorgang na die fiets was swak.
“Imke was heeltyd naby my, maar die hele resies was ongelooflik lekker. Die nuwe roete en atmosfeer was fantasties. Ek dink die komitee het hulself weer oortref. Ons het baie harde werk ingesit om dit ’n spesiale byeenkoms te maak.
“Ek haal my hoed af vir hoe Roual Spangenberg, ons nuwe NTF-president, die leisels geneem het en die energie wat hy uitstraal. Dis altyd ’n eer om ’n nasionale titel te wen en lekker om soveel nuwe gesigte en deelnemers te sien.
“Die gees tussen die deelnemers was vriendelik en positief. En dis waaroor sport gaan. Ek sal definitief aan die Afrika-kampioenskap deelneem. Ek kan nie wag nie. Ons hoop ons kan ’n suksesvolle byeenkoms aanbied en Namibië trots maak.
“Sonder borge soos RMB en Mannie’s Bike Mecca kan ’n klein sportsoort soos dié nie oorleef nie.
“Ons is opreg dankbaar aan elke klein borgskap en elke toeskouer wat die dag so spesiaal gemaak het. Dis so lekker om weer deel te neem en mense langs die pad te sien. Die afgelope tyd het ek net weer besef dat sport ’n nasie bymekaar bring. Ek is trots om deel van hierdie sport, die land en sy mense te wees.
“Baie geluk aan die manswenners. Hulle was vandag blitsvinnig!”
Die voorste uitslae van die Sprint:
Elite vroue: 1 Risa Dreyer (1 uur 03 minute 01 sekondes), 2 Imke Jagau (1:04:32), 3 Anri Krugel (1:08:34), 4 Jo Pretorius (1:13:45).
Elite mans: 1 JP Burger (52:31), 2 Divan du Plooy (54:07), 3 Gino Chiappini (1:04:00).
Junior vroue: 1 Hilde-Marie Olivier (1:12:31), 2 Laurika Burger (1:23:22).
Junior mans: 1 JG van der Westhuizen (1:00:29), 2 Jedidiah Bekker (1:04:44), 3 Ethan Snyders (1:08:34).
Subveteraan vroue: 1 Benita Kasch (1:09:11), 2 Lelani Swart (1:12:12), 3 Lauren Davidson (1:17:23).
Subveteraan mans: 1 Willie Mac van Zyl (1:00:07), 2 Petrus Human (1:01:45), 3 Jaco van der Berg (1:05:38).
Veteraanvroue: 1 Adelé de la Rey (1:10:48), 2 Marion Schonecke (1:12:43), 3 Charmaine Shannon (1:18:53).
Veteraanmans: 1 Ian Grassow (1:06:35), 2 Allan Vivier (1:17:21).
Meestersvroue: Karin Brockmann (1:21:35).
Meestersmans: 1 Greg Chase (1:06:06), 2 Mark Brinkmann (1:13:15), 3 Harald Preschel (1:24:01).


FOTO’s Tielman van Lill
Divan du Plooy (links) en Jeremia Shaliaxwe gee vroeg-vroeg die pas aan.
Les Trollope trek vir Willie Mac van Zyl en J.F. Labuschagne om Snymansirkel.
Gino Chiappini (voor) jaag JP Burger en Divan du Plooy vir 'n derde plek.
Benita Kasch (veteraanvroue) op pad na haar eerste plek in dié afdeling.
JP Burger (regs) hardloop saam met Robert Kaxuxuena tydens die eerste 5 kilometer.
Die elite-vrouekampioen, Risa Dreyer, draai die krane oop.
Adelé de la Rey, die veteraanvrouewenner, in aksie.
Die vroue se podium. Van links is Mannie Heymans, Imke Jagau (tweede) en Risa Dreyer (kampioen) saam met Herman Maritz (Deopharm). Afwesig is Anri Krugel (derde).
Die manspodium. Links is Mannie Heymans, Divan du Plooy (tweede), JP Burger (kampioen) en Gino Chiappini (derde).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!