Risiko vir sprinkaanplae hoog
Risiko vir sprinkaanplae hoog

Risiko vir sprinkaanplae hoog

Sprinkaanprobleme van verlede jaar, toe plae in nege van Namibië se tien gewasproduserende gebiede uitgebreek het, dreig opnuut.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Die risiko vir die uitbreking van sprinkaanplae teen die einde van ’n goeie reënseisoen soos vanjaar, is hoog. Boonop sal die kans vir uitbrekings hoog bly tot ná die winter in Augustus asook tot in Januarie volgende jaar.

Dr. Gerhard Verdoorn, ’n plaagbestrydingskenner van Suid-Afrika, het dié waarskuwing aan die Namibië Landbou-unie (NLU) gerig dat weerstoestande tans uiters gunstig is vir sprinkane om uit te broei.

“Reën wat landswyd val, selfs in gedeeltes van die Kalahari- en Namibwoestyn, en gepaard gaan met hoë temperature, verhoog die moontlikheid vir nuwe uitbrekings.

“Sprinkane lê eiers in die grond wat slegs in gunstige toestande sal uitbroei, dit wil sê wanneer die grondvog, temperatuur en vog in die lug optimaal is. In die gebiede waar hulle uitbroei, lyk grondoppervlak ‘gebreek’ en die sprinkane is rooi vir die eerste twee tot drie dae,” waarsku Verdoorn.

Die afgelope Sondag is ’n swerm rooisprinkane by Rundu se Kaisosi-informele nedersetting opgemerk, soos mnr. Moses Munenge, ’n amptenaar van die ministerie van landbou, water en grondhervorming in die Kavango-Oosstreek, aan die nuusagentskap Nampa bevestig het.

Voor dit is die sprinkane ook in die Mashare-kiesafdeling opgemerk en toe ook Sondag by die Universiteit van Namibië (Unam) se Rundu-kampus en by die grensdorp se begraafplaas.

Munenge het bevestig die ministerie het ’n span wat gereed is om op te tree, sou die pes in dié streek uitbreek. Boere in die omgewing is bekommerd oor die bedreiging van hul gewasse en lewensbestaan.

BESTRYDING

Dié kennersmening volg nadat die VSA se Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Administrasie (NOAA) se klimaatsvoorspellingsentrum in ’n gevaarvooruitskouiingsverslag aan die begin van Maart gesê het peste, insluitend sprinkane, is reeds in die noorde van Namibië, Suid-Afrika se Vrystaatprovinsie asook in die weste van Botswana en Namibië aangemeld.

In die NLU-nuusbrief van Donderdag 4 Maart word twee bestrydingstegnieke teen sprinkaanplae voorgestel.

Die een is om kleinvee oor die gebiede te jaag waar die sprinkane pas uitgebroei het.

Nog ’n manier is om met ’n trekker wat ’n band agterna sleep, oor die swerm te ry. Dié metodes is doeltreffend omdat die meeste sprinkane dan nog in die voetgangerstadium is en sonder enige gifstowwe gedood kan word.

Die ministerie van landbou, water en grondhervorming bied ook ondersteuning aan boere in die geval van sprinkaanuitbrekings, sê die NLU. Boere word aangemoedig om die ministerie of die Namibië Landbou Unie te kontak vir hulp met sprinkaanbestryding.

2020-UITBREKINGS

Rooisprinkane het verlede jaar vanaf Augustus in Namibië se streke Zambezi, Kavango-Wes-, Kavango-Oos, Ohangwena en Oshikoto uitgebreek. Net in die Zambezistreek is 400 216 hektaar binnegedring en tot 5000 hektaar se weiding verwoes.

Sprinkaanplae het die eerste keer in Februarie verlede jaar binne nege van die land se tien gewasproduserende streke uitgebreek.

Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) het in November verlede jaar ook ’n beroep gedoen op steun in die stryd teen Afrika-treksprinkane.

Dit volg nadat altesaam tien SADC-lande sedert die begin van 2020 uitbrekings van die pes ervaar het. Toe is gesê dit hou ’n ernstige bedreiging vir voedselsekuriteit in die streek in, met die grootste getalle mense in ’n dekade wat voedseltekorte in die gesig staar – ook weens inperkings wat teen die Covid-19 pandemie ingestel was.

Die lande wat deur treksprinkane getref is, is Namibië, Suid-Afrika, Botswana, Malawi, Mosambiek, Tanzanië, Eswatini, Zambië, Angola en Zimbabwe.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!