• Tuisblad
  • Sake
  • Risiko’s uitgewys oor SAL en Chinese kragstasie
Risikou2019s uitgewys oor SAL en Chinese kragstasie
Risikou2019s uitgewys oor SAL en Chinese kragstasie

Risiko’s uitgewys oor SAL en Chinese kragstasie

Die DA-leier het verwys na lande wat bates moontlik aan China moet oordra omdat hulle nie hul skuld kan terugbetaal nie.
Francois Williams – Skerp vrae oor die regering se planne met die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) asook die voorgestelde kragstasie in Limpopo wat deur Chinese gebou gaan word, is Sondag uit DA-kringe geopper.

Mmusi Maimane, DA-leier, wou in ’n toespraak in Thohoyandou in Limpopo weet of die regering dan buitelandse maatskappye gaan toelaat om hul eie kragstasies te bou ter wille van hul eie belange terwyl die res van Suid-Afrika in die donker is weens Eskom se probleme.

Hy het verwys na die nuwe steenkoolkragstasie van 4 600 MW wat na verwagting deur PowerChina International by die Musina-Makhado- spesiale ekonomiese sone (SES) gebou gaan word. Die nuwe kragstasie is aanvanklik verlede jaar in September tydens pres. Cyril Ramaphosa se besoek aan China aangekondig.

Maimane wou weet wanneer die kragstasie gebou gaan word, wie presies dit gaan bou en of dit net die beoogde Chinese nywerheidspark by die SES gaan bedien.

Die SES is een van ses SES’e landwyd, benewens vyf nywerheidsontwikkelingsones, wat deur die departement van handel en nywerheid ontwikkel word in ’n poging om beleggings in werkskepping en ekonomiese groei te lok. Sakelui wat in ’n SES belê, kry afslag op maatskappybelasting, BTW en invoertariewe binne sekere voorwaardes, en kry aansporings as hulle jong werkloses in diens neem.

Maimane het egter gewaarsku teen China se “skuldstrik-diplomasie” en het verwys na Sri Lanka, Zambië en Djiboeti waar bates moontlik aan China oorgedra moet word omdat die lande nie hul skuld aan China kan terugbetaal nie.

Maimane meen die regering moet eerder Eskom se kragopwekking privatiseer, sy ingenieurs- en instandhoudingspersoneel as noodsaaklike diensverskaffers verklaar wat nie mag staak nie, en slimmeters by munisipaliteite installeer om hulle te dwing om hul kragskuld in te vorder.

Eskom behoort ook bouwerk aan die oorblywende eenhede by sy Kusile-kragstasie te staak en eerder meer onafhanklike kragprodusente kontrakteer om krag op te wek. Munisipaliteite wat wel hul geldsake goed bestuur, behoort toegelaat te word om hul krag van onafhanklike verskaffers te koop.

Alf Lees, DA-woordvoerder oor finansies, het op sy beurt gesê hy gaan aan die ouditeur-generaal skryf om te vra waarom die oudit van die SAL se jaarstate nie betyds afgehandel is nie. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het verlede week in die parlement gesê die oudit van die staatslugdiens se state is nog ver van klaar.

Die state vir SAL se boekjaar tot einde Maart 2018 moes al teen einde September verlede jaar ingedien gewees het ingevolge die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies.

Lees meen die ouditeur-generaal weet waarskynlik die SAL is nie ’n lopende saak nie en hy sal dus genoop wees om ’n gekwalifiseerde ouditmening te gee as hy sy ouditverslag oor die SAL moet afhandel.

In rekeningkundige terme is ’n maatskappy ’n lopende saak as hy die hulpbronne het om onbepaald met sy bedrywighede te kan voortgaan. As ’n ouditeur bevind die maatskappy het nie die hulpbronne daarvoor nie, moet hy sy mening oor die maatskappy se finansiële state kwalifiseer. Dit impliseer die maatskappy is bankrot of kan enige tyd bankrot speel, en leners soos banke sal nie geld aan hom wil leen as die kans skraal is dat hy sy lenings aan hulle sal kan terugbetaal nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!