Rivier van wetteloosheid

Die gewapende roof van Suid-Afrikaanse vakansiegangers op die Oranjerivier, is die uiteinde van ‘n lang stryd teen wetteloosheid, sê inwoners.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Die Oranjerivier is ’n plek waar algemene wetteloosheid, smokkelary, diefstal asook die onwettige oorsteek van die rivier deur mens en hul vee aan die orde van die dag is, sê inwoners van dié gebied.

Die situasie word vererger aangesien daar steeds geen duidelikheid is oor waar die grens presies loop nie, wat verdere ruimte vir ongereguleerde aktiwiteite skep, sê hulle.
’n Groep gewapende mans het op 5 Oktober Suid-Afrikaanse vakansiegangers op die Oranjerivier beroof. Nét voor dit is navorsers se kameralokvalle op die rivier gesteel, terwyl ooggetuies sê daar word selfs wapens en dwelms oor die rivier gesmokkel.
GERAAKTE PLASE
Dr. Peter Morkel, ’n afgetrede veearts wat teen die rivier op die plaas Kambreek boer, sê buiten vir sy plaas, word die plase Houms Rivier, Girtis, Hartebeestmund, Kumkum, Kambreek en Pelladrift ook geraak.
“Die gebied lê tussen die Velloorsdrift- Onseepkans-grenspos en die plaas Girtis, wat sowat 80 km stroomaf geleë is. Hierdie gebied is baie moeilik om vanaf die Namibiese kant te beheer, omdat dit bergagtig is en daar nie paaie is wat toegang tot die rivier bied nie.”
Morkel sê hulle sien dikwels hoe mense oor die rivier beweeg. “Mense woon op verskeie plekke aan die Suid-Afrikaanse kant, maar die grootste nedersetting is by Pella.
“Die rivier is die meeste van die tyd nie baie diep nie en dis moontlik om deur te loop. Bote word ook gebruik. “Mense steek die rivier om verskeie redes oor – om Namibië onwettig te verlaat of binne te kom, om vee oor te neem, om wild te stroop of kos of ander voorrade te bring vir mense wat aan die Namibiese kant woon.
“Dwelms word na Namibië gebring en sigarette is ook na Suid-Afrika geneem toe daar ’n verbod op die verkope daarvan in die buurland was,” beweer hy.
“Beeste en bokke beweeg ook voortdurend oor en weer. Hulle wei in die gebied, maar word na Suid-Afrika geneem om te verkoop, omdat beter pryse dáár betaal word.”
Morkel het sy kommer uitgespreek oor die bedreiging wat dit vir Namibië se dieregesondheidstatus kan inhou. Hy sê die jarelange onsekerheid oor waar die grens presies loop, word deur trekboere benut wat met hul vee in die niemandsland boer.
Volgens Suid-Afrika lê die grens teen die noordelike hoogwatermerk van die rivier, terwyl Namibiese wetgewing aandui dat dit in die middel van die rivier lê. Hierdie teenstrydigheid beteken grondeienaars is nie seker tot presies waar hul eiendom strek nie.
“Ek is ongelukkig met die situasie, want dit lei daartoe dat mense ons eiendom onwettig oorsteek, onwettig daarop woon en hul vee op ons grond laat wei. Ons grond word beskadig en dit het ’n beduidende impak op ons vermoë om ’n inkomste te verdien,” het Morkel gesê.
AANGEMELD
Hy het die situasie reeds telkemale by Warmbad se polisie aangemeld, sê Morkel.
Sy optrede sluit in dat hy in Augustus 2018 ’n verslag, wat al die nodige besonderhede bevat, aan die stasiebevelvoerder oorhandig het.
“Dieselfde verslag is aan Nampol asook SAPS (die Suid-Afrikaanse polisiediens) by die Velloorsdrift-Onseepkans- grenspos ingehandig.
“Ek het ook ’n afskrif van die verslag aan die staatsveearts op Karasburg gegee, asook aan die direkteur van veeartsenydienste in Windhoek, dr. Albertina Shilongo.”
In Februarie 2019 het hy polisiebeamptes asook gesondheidsinspekteurs na die rivier vergesel sodat hulle self kon sien wat daar aangaan.
Morkel sê ongeag sy beste pogings het daar nog min van gekom.
Hy het intussen versoeke vir aksie aan verskeie ministeries gerig, insluitend die kantoor van die eerste minister, asook die ministeries van landbou en binnelandse sake, maar het geen reaksie ontvang nie. Dié ministeries is genader en het ontvangs van Republikein se vrae afgelope Maandag (25 Oktober) erken, maar het tot dusver geen antwoorde verskaf nie.
BROWN SE BRIEF
Terselfdertyd het dr. Chris Brown in November 2020, as die uitvoerende hoof van die Namibiese Kamer van die Omgewing, ’n brief aan die landbouministerie geskryf om die minister te nooi om die gebied vanuit ’n vliegtuig waar te neem.
Volgens Brown boer spesifiek twee families met groot getalle vee in die “niemandsland-gebied” op die Oranjerivier. Hy sê hulle beweeg met hul vee tussen Onseepkans en Goodhouse, maar meestal in die Pellagebied tot by die Homs-riviergebied.
In die brief het Brown kommer uitgespreek dat die vee nie in die oewerband bly nie, maar ook na Namibiese weiding beweeg. Bewerings word gemaak dat baie van die vee geen oorplaatjies of brandmerke het nie en informeel op beide Suid-Afrikaanse en Namibiese markte gekoop en verkoop word.
“Die vleis van geslagte diere beweeg ook oor die grens en word informeel verkoop. Mense beweeg vrylik oor die grens. Daar word oor die rivier gesmokkel, ook met vuurwapens.
“Namibiese plase ondervind stropery van wild deur veewagters en ander wat teen die noordekant van die rivier beweeg of dit oorsteek. Hierdie is veral ’n bedreiging vir suidelike swartrenoster-bevolkings.
“Ernstige ekologiese skade word ook aan plantegroei langs die oewerband en op eilande in die rivier aangerig, beide deur vee en veewagters wat bome afkap en riete verbrand,” het hy geskryf.
“Algemene wetteloosheid en ongereguleerde aktiwiteite heers langs die Oranjerivier,” het Brown afgesluit.
DIEFSTAL
Mnr. Adriaan Mulder, reservaatbestuurder van Sandfontein Lodge en Natuurreservaat wat ook teenaan die rivier grens, vertel navorsers – wat tussen 18 en 25 September navorsing oor otters gedoen het – se kameras is gesteel.
“Hulle het altesaam 22 kamera-lokvalle
opgestel en ses hiervan is gesteel. Die polisie het vyf op Witbank en Pella teruggevind. Op die kameras is foto’s van kinders gevind – na raming tussen 9 en 14 jaar oud – wat die kameras ondersoek terwyl hulle oënskynlik dwelms gebruik.”
Mulder sê die dwelms op die foto’s is vermoedelik tik, wat ’n groot probleem in die omgewing is. Hy is ook bekommerd oor die gebrek aan sekuriteit en beheer in die gebied.
“Die probleem is die boere in die rivier se beeste dwaal dikwels weg, selfs tot in die natuurreservaat. “Mense betree ons grense te voet of te perd en met honde om daarna te kom soek.”
Mulder sê as ’n reservaat is hulle bekommerd oor die veiligheid van hul wild. “Teen die rivier is onlangs ook diefstal by ’n waenhuis ervaar, terwyl 12 mans ook betrap is waar hulle besig was om koedoes te probeer stroop,” het hy vertel.
[email protected]

FOTO’s VERSKAF
Die Sandfontein Lodge en natuurreservaat word dikwels wederregtelik deur mense, met hul honde, betree.
Daar word met groot getalle vee in die “niemandsland-gebied” op die Oranjerivier geboer - met beeste wat geen oorplaatjies of brandmerke het nie.
Navorsers op die rivier se lokval-kameras is gesteel.
Die kameras wat teruggevind is, het foto's soos hierdie bevat.
Die gebied tussen die Velloorsdrift-Onseepkans-grenspos en die plaas Girtis, wat sowat 80 km stroomaf geleë is, ervaar erge sekuriteitsprobleme weens die rivier.

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!