Riviervisserye in ’n krisis
’n Gebrek aan behoorlike polisiëring, die gebruik van monofilamentnette en sleepnette wat van lap gemaak is, asook ’n drastiese toename in vissermanne, plaas visgetalle onder onsettende druk.
Elvira Hattingh – Navorsing dui aan visgetalle in die Zambezi-, Kwando- en Okavangorivier het oor die afgelope vyf jaar met tot 90% gedaal en dat Namibië se visbronne in riviere in ’n ernstige krisis verkeer.
Die oorsake hiervan sluit in die vang van vis met monofilament- en sleepnette, ’n gebrek aan kapasiteit om die 4 000 km2 te polisieer en die ontwikkeling van ’n winsgewende uitvoermark in die Kongo.
Volgens ingeligte bronne ervaar bogenoemde gebiede ’n sterk toevloei van migrerende vissermanne, van wie sommige deur sakemanne in die Kongo betaal word om namens hulle vis te vang en uit te voer.
Mnr. Strijs Coertzen, ’n entoesiastiese visserman van die Nwanyi-hengelklub wat reeds 26 jaar in die Zambezistreek woon en daagliks waarneem wat op die riviere gebeur, sê die grootste probleem is ’n totale gebrek aan polisiëring, wat vererger word deur die feit dat hierdie riviere op grense vloei.
“Die meeste stropery vind aan Zambië se kant plaas. Visuitvoere is ’n florerende bedryf en een gedroogde baber word vir tot N$100 verkoop,” het Coertzen gesê.
Mnr. Denis Tweddle, projekkoördineerder van die Namibië Natuurfonds (NNF) en die Europese Unie se Kavango-Zambezi Oorgrensbewaringsgebied (Kaza) se Gemeenskapsbewaring Visseryeprojek, wat reeds sewe jaar lank op dié riviere werk, sê doeane op die grense probeer beheer oor uitvoere uitoefen.
“Die NNF monitor twee dae per week hoeveel varswatervis uitgevoer word. Ons kan nie werklik kommentaar lewer op hoeveel uitvoere plaasvind sonder dat daar rekord daarvan gehou word nie,” het hy gesê.
Tweddle sê by die Kalabo-vismark in Zambië word onder meer piepklein tiervisse, Clarias, Synodontis en ander vissies uit die Cichlids-familie verkoop.
“Dit stem ooreen met die spesies en grootte visse wat in die Zambezistelsel gevang word en is ’n aanduiding van ’n visbedryf wat uitermate uitgebuit is. Vissermanne word forseer om klein vissies met ’n lae waarde te verkoop,” het hy gesê.
SLAG VIR TOERISME
Coertzen sê ook toerisme ly onder die feit dat visgetalle soveel afgeneem het.
“Wat ons hengelklub se Zambezi Classic Internasionale Hengelkompetisie betref: Drie jaar gelede het sowat 75 spanne ingeskryf en hulle het gemiddeld 2,9 visse per persoon per dag gevang. Tydens die mees onlangse kompetisie het 44 spanne ingeskryf en hulle het gemiddeld 1,2 visse gevang.
“Dit was een van die grootste varswatervisvangkompetisies in Afrika en het as ’n finansiële inspuiting vir die streek gedien.”
Hengelaars op die Facebook-groep Illegal Fishing Activities in Namibia stem hiermee saam. Mnr. Louw Pretorius sê hy is teleurgesteld oor die toedrag van hengelsake in die Zambezi.
“Ek was die afgelope twee jaar drie keer daar. My laaste besoek was in September hierdie jaar en daaglikse hengeluitstappies van bykans twee weke lank, het op geen vangste uitgeloop nie. Dit ná groot onkoste, die huur van ’n boot, verblyf en brandstof. Dit is nie meer die moeite werd nie,” het hy gesê.
SKADELIKE NETTE
Tweddle sê ander probleme wat tot die drastiese afname in visgetalle lei, sluit in die eksponensiële groei in die bevolking en gevolglik die hoeveelheid vissermanne. Hy sê ook die oorskakeling na monofilamentnette het tot die ineenstorting van visserye in die Zambezi bygedra.
“Die ware ineenstorting het tussen 2010 en 2012 plaasgevind. Die nuwe visvangnette is sowat drie keer meer doeltreffend as die voriges, maar daar word nou egter tot sewe keer minder visse per net gevang.
“Alle bewysstukke dui aan net sowat 5% tot 10% van die visse is oor van wat in 2010 in die riviere voorgekom het.
“Die verhoogde gebruik van sleepnette, wat van katoenmateriaal gemaak is, vererger die situasie,” het Tweddle gesê.
Volgens hom word ou nette in die rivier gestort en raak visse, krokodille, slange en voëls daarin verstrengel en vrek dié diere.
Tweddle en ander navorsers het in 2015 ’n navorsingstuk gepubliseer waarin bevind is die getalle van groot visse uit die Cichlid-familie het tussen 2010 en 2012 met meer as 90% gedaal.
“Vrywilligers uit plaaslike gemeenskappe wat visbevolkings monitor, se kiefnetvangste het ook vanaf 2010 na 2012 gedaal van sowat 7 kg per nag na net meer as 1 kg visse per nag – ten spyte van vyf goeie reënjare tussen 2007 en 2011.
“Dienooreenkomstig is daar tydens eksperimentele navorsing deur die ministerie van visserye en mariene hulpbronne in 2008 sowat 7 kg visse per kiefnet per nag gevang, maar in 2012 het dit na net sowat 2 kg gedaal.”
OPLOSSINGS
Tweddle sê die geluk is dat ons visserye aangepas is om uiterste natuurskommelinge te kan weerstaan en getalle sal gevolglik herstel sodra die druk op hulle verminder.
“Dié hele visseryestelsel in die Zambezi het ’n desperate behoefte aan ’n paar jare van sterk vloede asook die verbanning van monofilamentnette.”
“Regerings in Afrika sukkel met polisiëring van visaktiwiteite in ons riviere weens ’n gebrek aan kapasiteit, geld en infrastruktuur en ook omdat hierdie so ’n groot gebied is om te beheer. “Gevolglik probeer ons deur ’n langtermynprojek saam met die regering om gemeenskappe in Kaza te bemagtig om hul eie vishulpbronne te bestuur,” het Tweddle gesê.
Hy sê die program het tot verskeie suksesverhale en die stigting van twee visbewaringsgebiede gelei – een in die Sikungabewaringsgebied en die ander in die Impalilabewaringsgebied.
“Dié gebiede is onderskeidelik sowat 12 km lank. Opgeleide wagte hou vissermanne hier weg. Namibiese gemeenskappe het intussen self ook met voorstelle gekom oor watter dele as bewaringsgebiede verklaar moet word. Sommige gemeenskappe by Muyako en Luso op die Liambezimeer het intussen ook hul eie reëls vir visvang opgestel, met wisselende sukses.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie