Robotte en 'post-waarheid' laat WEF kopkrap
Robotte en 'post-waarheid' laat WEF kopkrap

Robotte en 'post-waarheid' laat WEF kopkrap

Die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) vergader van vandag tot Vrydag in Davos, ­Switserland om maniere te probeer vind om die grootste uitdagings wat die wêreld in die gesig staar, die hoof te bied.
Estelle de Bruyn
Francois Williams



Stygende inkomste-ongelykheid en polarisasie in die same­lewing het politieke verandering in 2016 aan die gang gesit, maar sonder ­dringende optrede kan dit ­internasionale risiko's in 2017 vererger.

Dit is van die gevolgtrekkings uit die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) se verslag oor internasionale risiko's wat die afgelope week in aanloop tot sy jaarberaad in Davos, Switserland, bekend gestel is.

Dit kan omgekeer word deur meer inklusiewe gemeenskappe te bou, maar daarvoor is internasionale same­werking en langtermyndenke nodig.

Die verslag word gegrond op 'n peiling onder sowat 750 kenners oor 30 internasionale risiko's en 13 ­onderliggende tendense wat dié ­risiko's raak.



Die drie hoofbevindings uit die peiling is:

1. Patrone duur voort: Dit sluit groeiende gapings in inkomste en welvaart, en stygende spanning binne gemeen­skappe in.

2. Die omgewing oorheers die risiko­landskap: Klimaatsverandering is gelys as die tweede onderliggende tendens, en vir die eerste keer word al vyf omgewingsrisiko's in die peiling as hoë risiko bestempel met 'n hoë waarskynlikheid dat dit sal ­realiseer.

3. Die samelewing hou nie tred met tegnologiese verandering nie: Kunsmatige intelligensie en robotika hou volgens kenners die grootste poten­siële voordele in, maar ook die grootste potensiële negatiewe gevolge, met die grootste noodsaak vir beter bestuur.



Die vyf hoofrisikofaktore

1. Ekonomiese groei en hervorming: Hoewel ongelykheid in die wêreld sedert die begin van die 20ste eeu tot rondom die 80's in werklikheid ­afgeneem het, het die welvaart van die 1% rykste mense in Amerika van 2009 tot 2012 met 31% gegroei, terwyl die welvaart van die 99% ander met minder as 0,5% gegroei het.

2. Die herbou van gemeenskappe: Politiek is in 2016 deur “post-waarheid” gedefinieer, waar emosionele politieke debat gevoer word met die doel om die openbare mening te verdeel.

3. Ontwrigtende tegnologie: Sowat 86% van die vervaardigingsposte in Amerika het van 1997 tot 2007 weens outomatisering of meganisering verlore gegaan, en slegs 14% weens handel.

4. Internasionale samewerking: In 2016 het internasionale samewerking verswak, terwyl sommige nasies eerder hul eie arsenaal opgebou het. Die besluite van internasionale tribunale is geïgnoreer, wat dui op 'n verlies aan vertroue in kollektiewe stappe tot veiligheid en sekuriteit.

5. Klimaatsverandering: Die afgelope 16 jaar was onder die 17 warmste ­jare wat nog aangeteken is.

Hoe om die ergste risiko's die hoof te bied, sal by die WEF se jaarberaad bespreek word, waar die internasionale elite van vandag tot 20 Januarie vergader.

Volgens die WEF was sy risikoverslae al dikwels in die kol met waar­skuwings: In 2013, lank voor die konsep van “post-waarheid” in 2016 die woord van die jaar geword het, het die verslag al gewaarsku teen die snelle verspreiding van onwaarhede, en dat vertroue weggekalwe word.

In 2006 het die verslag gewaarsku die uitwis van privaatheid verminder sosiale samehorigheid.

John Drzik, hoof van internasionale risiko by die versekeringsmakelaar- en risikobestuursgroep Marsh, sê kunsmatige intelligensie sal help om kwessies soos klimaatsverandering en bevolkingsgroei veel doeltreffender te hanteer. “Die belegging in kunsmatige intelligensie is nou tien keer soveel as vyf jaar gelede. Maar groter afhanklikheid daarvan sal bestaande risiko's soos kuberaanvalle dramaties vererger.”– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer